Hulde aan Herlina

P1380979

Vandag, presies 3 maande gelede vra tannie Herlina Malan my om haar Carnarvon toe te vat. Sy voel nie lekker nie. Sy moet by dr. AJ uitkom.

Vandag, dag en datum 3 maande later, hou ons ‘n roudiens vir haar. Lê haar as weg in ‘n nissie in die huis van Herinnering.

Niemand het verwag dat dit so gou sou gaan nie. Van Carnarvon word sy Prieska toe gestuur vir ‘n sonar. Van Prieska, Kimberley toe vir skanderings. Daar ‘n paar weke in die hospitaal vir verdere toetse. Bloemfontein toe vir ‘n stent in haar pankreas. Kathu toe om by die Christo en Handelee aan te sterk. Daarvandaan Douglas ouetehuis toe waar sy net 3 weke ‘n inwoner was voordat sy sterf.

Van die heel begin weier tannie Herlina enige ingrypende behandeling. Wat ookal die uitkoms van die toetse sou wees, sy besluit dat sy gereed is vir die Huis met die baie Wonings. Haar wense word gerespekteer. Gelukkig was haar laaste weke pynloos.

Drie weke gelede, kom laai haar familie haar goedjies hier in Vanwyksvlei vir die ouetehuis in Douglas. Ons tannies van die dorp lê gou ‘n tee aan om op gepaste wyse haar te kan groet. Sy kuier lekker saam sonder enige ongemak of pyn – eet van alles wat op die teetafel uitgepak is.

Dis net in die laaste ure van haar lewe wat sy suurstof kry om dit vir haar draagliker te maak. So word haar wense gerespekteer en sterf sy in waardigheid, presies soos wat sy gelewe het – met trots en waardigheid.

Ek sien nog hoe kom sy aangestap na die Bybelstudie met haar kierie, krom heup of nie. Sy weier dat iemand haar gaan oplaai. Glo dat sy die bene aan die gang kan hou slegs deur aan te hou loop. Tannie Herlina se gunsteling opmerking aan die Bybelstudietafel is altyd: “Die Here maak nie foute nie”. As daar gepraat word oor krisisse en swaarkry, sou sy sekerlik ‘n lywige bydrae kon maak, maar nee, sy getuig net altyd van die Here se goedheid, sy voorsienigheid en sy genade in tye van swaar. Hoe Hy teenwoordig is tydens moeilike tye en altyd ‘n mens deur die swaar laat kom deur sy nabyheid en guns.

Haar bure is van die oudste inwoners van die dorp. Sedert sy 3 jaar gelede ‘n heupvervanging kry na ‘n lelike val een aand, hou hulle getrou ‘n ogie oor haar. Die laaste oproep wat op haar selfoon geregistreer staan, is dié van buurman Doupie Oberholzer.

Vandag kry tannie Herlina dit reg om ‘n klomp mense in die erediens saam te snoer – lidmate, nie-lidmate, mense uit die woonbuurt met wie sy ‘n jarelange verbintenis gehad het, oud-kollegas, naby familie, verlangse familie, familie van so ver as die Kaap en Nieu-Zeeland. .

Ook Piet Jafta, wat los werkies vir haar in die tuin doen en Wit-Anna, wat al die jare tannie Herlina se kinders help grootmaak het, bring vir oulaas hulde.

Na die diens vier ons haar lewe op gepaste wyse met die beste uit almal se kombuise

Oor die jare heen is sy welbekend by een en almal op die dorp want elke oproep wat desjare gemaak word, gaan deur die handsentrale waar sy jare se diens lewer. Nou is haar stem vir altyd stil.

Totsiens, tannie Herlina.

Advertisements

Handsentrale-operateur tot weerdata-invorderaar

P1380979

Tannie Herlina Malan

 

Tannie Herlina Malan (80), bedryf vir 32 jaar die handsentrale op Vanwyksvlei saam met nog drie ander persone. Elke nommer op hierdie dorp en elke plaaslyn se luikode ken sy – drie kortes en ‘n lange, twee langes en twee kortes, vier kortes… Vandag nog ken sy elke nommer al het die voorafgedeelte van die nommers aansienlik verander sedert die telefoondiens hier op Vanwyksvlei ook ge-outomatiseer is. Aanvanklik vul sy die pos net halfdag, maar later van tyd werk sy voldag totdat die handsentrale uiteindelik moes plek maak vir ‘n outomatiese sentrale.

Gesamentlik hiermee versamel sy daagliks weerdata en bel dit deur na die weerburo. Drie maal per dag op presies dieselfde tyd daagliks, neem sy die gemiddelde lesing van twee termograaflesings en ‘n termograaflesing. Die termograaflesings is verkry as ‘n gemiddeld tussen ‘n nat en ‘n droë lesing – die natte is ‘n termometer waarvan die bol in lap toegedraai is, toegebind met ‘n vierkoord toutjie. Die punt van die toutjie moet altyd in water hang.

Die higrograaflesing is verkry van ‘n stukkie nat menshare wat sy met groot sorg altyd volgens die regte instruksies en met die regte chemikalieë skoon hou. Die uitrekfaktor van die nat hare dui die lesing op die higrograaf aan. Boonop is daar ‘n grastermometer en vyf verskillende grondtermometers, die langste omtrent menshoogte, wat sy een vir een uit die grond trek en die lesings boekstaaf.

Die klein weerstasietjie met al hierdie toerusting is agter in haar erf ingerig waar dit onbelemmerd van bome of turksvybosse kan funksioneer. Die weerburo voorsien nie aan haar opleiding hiervoor nie; rus haar bloot toe met ‘n handleiding wat sy getrou navolg.

Soggens bel sy ‘n kode deur na Beaufortwes om die stand van wolke aan te dui. Elke soort wolkformasie het ‘n ander kode. Daar is 27 verskillende kodes – 9 verskillendes vir lae wolke, 9 vir middelwolke en 9 vir hoë wolke. Lae Cummiluswolke is bv. 01-laag . Hoë vlieswolke is  dalk 02- hoog. Alleenlik as die wolkbedekking sewe-agtstes van die hemelruim bedek, is dit noemenswaardig genoeg om aangeteken te word. Daarom rapporteer sy ook of dit drie-agtstes, sewe-agtstes of dalk agt-agtstes is vir wanneer die lug totaal betrokke is.

Dan is daar nog windspoed en windrigting ook om aan te teken. ‘n Windmetertjie wat vinnig in die rondte draai en so die windspoed registreer en wat ook die windrigting aandui, help haar hiermee. Sonkaarte vir elke seisoen installeer sy elke dag voor sonop in sy houertjie en saans, met die sontrajek daarin vasgebrand, liasseer sy dit. Hierdie data word dan aan die einde van die maand geprosesseer in datakaarte en aangestuur na die weerburo.

Die verdampingsfaktor word gemeet in ‘n drom wat op pootjies staan. ‘n Maatstok  is in die middel geïnstalleer. Soggens word die watervlak gemeet, die drom weer opgevul en die vlak word weer eens aangeteken. Die verskil tussen hierdie tweede lesing en môre-oggend se eerste lesing, dui die persentasie verdamping aan.

Tannie Herlina word net voor Kersfees ‘n weduwee. Oom Henry, in die ouetehuis op Carnarvon, sterf as gevolg van Altzheimers. Tannie Herlina versorg hom lank tuis, totdat sy vier maande gelede haar heup breek en self in die hospitaal beland.

Terwyl hy, al byna blind en doof, in die huis lê, val sy een middag so teen vyfuur in die agtererf. Sy kan glad nie beweeg nie. Omdat haar aandete op die gasstoof staan en kook, sleep sy haarself tot by die gasbottel en draai dié toe. Daarna vorder sy net tot by die agterstoep se trappe. Daar kan sy geensins verder nie. Desperaat lê sy daar en roep na oom Doupie, die buurman. Later die aand kom oom Doupie se seun daar aan om hulle oudergewoonte te kom groet soos hy elke Donderdagaand doen. Sy jong wat agterop die bakkie sit en wag, hoor die geroep uit die donker en maak vir Marius daarvan bewus toe hy eindelik terugkeer bakkie toe.

Marius kry vir tannie Herlina in die koue donkerte by die stoeptrap. Dis al byna nege-uur. Hy tel haar op en maak haar sit in ‘n stoel. Bel die ambulans. Daardie nag word sy en oom Henry saam deurgevat Carnarvon toe – want wie sal tog na Oom Henry omsien alleen in Vanwyksvlei? Eers ‘n week later word haar heup in Kimberley geopereer.

Nadat sy sodanig herstel dat sy self weer kan loop, keer sy terug Carnarvon toe. Maar sy sal nooit weer vir Oom Henry kan versorg nie – hy bly agter in die ouetehuis in Carnarvon tot en met sy dood twee weke gelede.

Terug in Vanwyksvlei neem sy haar dogter vanaf Douglas, wat erg verswak is vanweë Parkensons se siekte, by haar in. Versorg haar met dieselfde nougestheid waarmee sy al die jare die dorpsmense se oproepe deurgesit het, die weerdata aangeteken en deurgestuur het en vir oom Henry in sy siekte versorg het.