Begrafnis op Breekkierie

In stofstrepe kom plaasbakkies uit alle rigtings aangery na Breekkierie. Vanuit Vanwyksvlei, Kenhardt, Loxton, Carnarvon, Merydale kom vriende en familie groet. PL Moolman word vandag te ruste gelê.

20180711_191307R

PL Moolman

Skaars 40jaar oud, nog ongetroud, sterf PL aan ‘n hartaanval 5 dae nadat ons Oom Chrisjan De Bruyn te ruste lê op DeBruynsrus. Ons gemeenskap is geruk. PL is wyd en syd welbekend – dis sy wêreld hierdie waar hy gebore is en groot geraak het. Waar hy skoolgaan en vriende maak. Vanwaar hy die boerdery op Vaalputs behartig vandat hy sy opleiding voltooi.

Die plaas is al baie jare in die Moolmanfamilie se besit. ‘n Welbekende baken in ons wêreld op die pad wat afdraai Verneukpan toe vanaf die pad tussen Vanwyksvlei en Kenhardt. Op hierdie einste plaas is Oom Johannes Willemse byna 100jaar gelede gebore as die oudste van 12 kinders. Op presies hierdie selfde aarde, waar Oom Johannes leer loop en leer werk en sy liefde vir die karoobossies en hulle genesende waarde aangeleer het, ontluik PJ tot ‘n boer met ‘n diep liefde vir die Karoo en sy weelde.

20170916_143500resz

Oom Johannes Willemse en Antoinette Pienaar tydens ‘n byeenkoms in Loxton verlede jaar

FA Venter skryf ook in sy boek, Kambrokind, van sy eie kinderdae op Breekkierie. Sy pa se plaas, Constantia, was die buurplaas. Later van tyd, na die erge droogte wat sy ouers Kalahari toe laat trek het met die skaap, verkry Oom Frans Venter se pa deelsaairegte op Breekkierie.

Op einste Breekkierie word PL vandag te ruste gelê. Sy aarde.

Die skuur is ingerig vir die meer as 150 gaste waar Ds Fransie Human van Wellington, eertydse leeraar van Vanwyksvlei, die diens lei. Hy verwys juis na PL as hierdie wêreld se Kambrokind – altyd vrolik en dankbaar, altyd ‘n deurdrukker ten spyte van harde tye.

 

‘n Koue Noord-Westewind huil saam oor die verlies. Ruk aan die dakplate van die skuur. Stoot die koue wolkies in wat algaande saampak tot teen die einders.

Veldblomme en boesmangras, sy wêreld se liefdes, staan in die teken van sy lewe oral as versiering. Word ook op sy kis geplaas as laaste eerbewys voordat hy teruggee word aan die aarde. Nog een van sy liefdes, duiwe, word in hulle hordes vrygelaat oor sy graf – hulle wat weet waar huis is as simbool van PL se vertrek na sy Vaderhuis.

132520rez

Die groet is swaar. Ou PL, ou Boerie, ou Spyker;  altyd vrolik, so ‘n lekker danser, een wat oor die diep dinge van die lewe maklik ernstig kon raak, se stem is vir altyd stil. Se plek is vir altyd leeg.

Advertisements

Van Zijl

Ons is weer herenig met Van Zijl.

Van Zijl word ons s’n die dag voordat ons in Junie verlede jaar terugkeer Vanwyksvlei toe. Sy boetie word die Smitte in Pretoria s’n. Sy pa; ‘n rifrug. Sy ma; ‘n Labrador. Ons moet ‘n hond hê teen die inbrekers deesdae.

Pas ses weke oud. Gou ‘n draai by die veearts vir al die nodige inentings en ontwurmings, want die naaste veearts aan Vanwyksvlei is óf in Upington, óf in Douglas.

Om sy inentingskaart te voltooi, moet hy ‘n naam hê. “Ag, skryf maar Van Wyk, want hy gaan saam Vanwyksvlei toe.” Op daardie stadium het hy nog nie sy naam aan ons gewys nie – mens moet mos eers ‘n hond se regte naam ‘ontdek’.

Met ons aankoms in Vanwyksvlei, besef ek sy naam gaan nie werk nie. Hier’s te veel van Wyks in Vanwyksvlei. Dis Rina Van Wyk, Gert Van Wyk, Piet Van Wyk, Rossie Van Wyk, Jurie van Wyk. Maar, Van Wyk is al amper gewoond aan die klank van sy naam. Die beste wat ek kan doen is om dit te verander na Van Zijl.

Van Zijl se kombersie lê voor my bed. Dis Winter en dis bitter koud. As hy wil gaan piepie, is ek gepantser teen die koue saam met hom uit. Later is hy so oulik, as die laaste druppeltjie val, spoed ons terug kamer toe na die snoesigheid van ons beddegoed, al is dit so asemrowend om in die ysige koue die helder sterrenag te bewonder.

IMG-20170721-WA0001

Op drie maande ry Johan per ongeluk oor Van Zijl se agterbeen. Hy, wat so mal oor mense is, huppel in ‘n onbewaakte oomblik voor die bakkie in, na Vasie se werkers wat oorkant die paadjie staan en wag om te help om die kragopwekker van die bakkie af oor te laai op Vasie se bakkie. Ek hoor net een tjank en toe wéét ek; dit het gebeur. Tref Van Zijl tjankend op die voordeurtrappie aan. Die agterbeen is af net bokant sy knieg. Is die heup ook af? Waar is die bakkie oor? Is hy inwendig beseer? Johan voel soos ‘n hond.

Kos ons toe daar en dan opsaal en Upington toe. Ken g’n veearts daar nie maar bel rond en laat weet ons is op pad met van Zijl. Stop eers by DeBruynsrus sodat Tilla vir hom ‘n shot teen pyn kan gee. Heelpad sit ek agter in die bakkie met hom op my skoot. Hy het baie pyn. Kan skaars beweeg. Stilhou en piepie langs die pad is pynlik.

Dit was eers teen die einde van daardie dag dat die veearts ons kon inlig dat die heup nie beskadig is nie, net die been. Hy sal moet opereer en ‘n pen insit want die been is in sy groeiplaatjies mors af. Dis Vrydag en hy sal dit eers na die naweek kan doen. Sondag moet daar gepreek word, dus word Van Zijl ingeboek by die veearts en ons keer sonder hom terug huis toe.

Amper ‘n week later en ons kan weer Upington toe om Van Zijl te gaan haal.

20170919_213012

Maar Van Zijl kom nie reg nie.

Hy trap nie op die been nie. As ons ‘n entjie gaan stap kan ek sien hy’t pyn. Ses weke later haal ek die steke uit. Die wond is genees maar die been nie. Hy slaap rusteloos snags. Ek slaap op die vloer in die TV-kamer op ‘n matras langs hom. Dit tjank sulke fyn tjankies deur die nag. Annelien beveel antibiotika aan. Tilla wil hê hy moet na ‘n ander veearts toe gevat word. Rina vermoed die pen het geskuif.

Carnarvon se veeinspekteurs besoek Vanwyksvlei om alle honde in te ent teen hondsdolheid. Ek vra hulle opinie. “Hierdie hond se heup is ontwrig man! Jy kan dit duidelik sien.”

Ek bel weer die veearts in Upington. Ons moet weer die tog soontoe aanpak. Na ‘n volgende X-straal word bevind dat als in plek is. Daar is net kwaai infeksie in die been waar die pen in is. Annelien was reg – antibiotika.

Na ‘n hewige kursus antibiotika en baie pynstillers, begin Van Zijl weer speel soos drie maande van tevore. Hy raak baldadig. Huppel agter waaiende blare aan. Raak spelerig met ander honde as ons gaan stap. Op sewe maande is hy weer hond en haal als in waarop hy die afgelope drie maande uitgemis het.

Maar dis tyd vir ons jaarlikse verlof. En hy kan nie saam nie. Ons boek hom in by Vlekkie Immelman, sy beste maatjie. Tania sal hom vir ons versorg vir die maand wat ons weg sal wees. Sy stuur dan en wan foto’s van Van Zijl en Vlekkie. Lyk nie of hy ons mis nie. Maar ons mis hom.

IMG-20180122-WA0008

En nou, na ‘n maand, is ons weer herenig. Van Zijl ken ons darem nog en lyk darem nog lief vir ons.

20180123_191959

En hy’t weer sy plek ingeneem voor my bed op sy kombersie.

 

Jan se goedvoelstorie

Dis Woensdag. Dis middaguur. Jan La Grange eet sy middagete. Die telefoon lui.

“Jan, hallo” antwoord hy soos sy gewoonte is.

“Luister, Jan, watse voer soek jy? Pille, mielies of lusern?” sê ‘n stem onbekend aan Jan.

Jan verstaan nie die oproep nie. “Is hierdie een of ander prang call, of wat?”

“Nee, ek staan hier by BKB in Carnarvon en ek wil vir jou voer koop. Wat verkies jy?”

“Wie praat?” wil Jan nog steeds ongelowig weet.

“Man, dis Kobus Steyn wat praat en ek wil vir jou voer koop. Sê net vir my wat verkies jy; pille, mielies of lusern.

“Dan liewer mielies, as ek mag kies” antwoord Jan huiwerig.

“Kan jy reël om dit te kom afhaal hier by BKB in Carnarvon?”

“Ja, sekerlik. Ek sal reël.”

Die lyn sny af en Jan kan steeds nie glo wat pas gebeur het nie. Die ooie lam nie meer nie. Daar’s nie meer lammers om te bemark nie. Daar’s gevolglik geen kontant meer beskikbaar om voer te koop om die ooie aan die lewe te hou nie. Dis ‘n doodloop straat. En nou hierdie oproep.

Jan loop terug etenstafel toe om vir die ander te vertel van die oproep. Dis steeds te goed om te glo. Jan vat weer sy foon om die nommer terug te skakel. Net toe lui die foon weer. Dis dieselfde stem. “Jan, hier’s 47 sak mielies wat vir jou wag. Dis klaar betaal. Jy kan kom laai as jy gereed is.”

“Luister Kobus, wie is jy? Waarvandaan is jy? Hoekom doen jy dit vir my?”

“Ek is tans in Carnarvon. Kom van Melkbosstrand. Ek en my vrou het ‘n program oor Carte Blanche gekyk en besluit ons wil ook iemand help. My firma, Blue Crane Construction, het pas ‘n stuk werk hier afgehandel by SKA. Ek wil my besluit deurvoer voordat ek terugkeer Melkbosstrand toe. Jy kan net reël met BKB om dit te kom oplaai. Die voer word vir jou gehou. Groete, ou maat, en sterkte vir julle.”

Jan kan dit steeds nie glo nie.

Later bel hy BKB in Carnarvon om net seker te maak dis werklik waar. “Hallo, dis Jan La Grange van Vanwyksvl…”

“Yes, Jan” val die stem hom in die rede, “jou 47 sak mielies wag vir jou. Wanneer kan jy kom laai?”

Daardie Sondagmiddag ry Jan en Tilla oor na Oom JB-hulle, DeBruynsrus se buurplaas, met ‘n deel van die skenking . Almal kry dan ewe swaar…

IMG-20160502-WA0002

Jaloersbuie en verspoelings

 

P1390421

Die eertydse lande is vol water

 

 

Vir meer as ‘n week bou die weer mooi op. Die westewind verwaai gelukkig nie meer die were nie. Mooi bly die wind oos.

Reg rondom Vanwyksvlei sak jaloersbuie uit, maar in die dorp bly dit droog. Teen Donderdagnag sak ‘n sagte reën uit. Ons word wakker met die sagte gesuis van reën op die sinkdak en geute wat gôr. Soos wat dit lig word in die ooste, kan mens sien die lande van weleer lê toe onder die water.

P1390395

Jaloersbuie -hulle sak by jou uit maar nie by my nie…

 

 

 

P1390526

Die waters dam op, want waarheen spoel dit waar daar nie reeds water is nie?

 

 

Ek stoot die agterdeur oop en word bewus van ‘n konstante vibrasie vanuit die lande. Kan dit paddatjies wees? Vanuit die dorre droë aarde het hulle net eenvoudig verskyn. Blikslanertjies. Dis wat die mense hulle hier rond noem. Dit lewe! Watervoëls, soos vanuit nêrens, honk deur die lug en syg by die vol gatdamme neer. Die donkievul huppel baldadig al om sy ma. Bloedrooi fluweelagtige reëngoggatjies is ook maar net daar. Vanwaar? Die reënmeter staan op 26mm.

Soos wat die nuwe week begin, kom al meer gerugte van lekker neerslae in. Maar steeds is daar plase waar nog geen reën geval het nie. Ons hou week van gebed en by al ons dankgebede pleit ons steeds vir wye reën.

Op Swartpan, in die Kalahari, laat weet Nico het daar na 2 jaar van droogte, uiteindelik ‘n allemintige 84m uitgesak. En steeds pak die were saam. Nog neerslae word verwag.

Dan word die weer dik en donkerblou. By Frankieskop en Môreson sak 55mm uit en die paaie verspoel. Daardie aand sak nog 55mm uit en maak die paaie onbegaanbaar. Die waters stroom die Vanwyksvleidam binne. Op Toekoms is 32mm gemeet. Vasie rapporteer van 45mm op een kamp tot 120mm by ‘n ander. By die verste reënmeters op Hottentotsdam kon hy nog nie uitkom nie vanweë die erge verspoelings. Rudi se trok staan op die dorp –daar’s nie ‘n manier wat daai trok op die plaas kan uitkom nie. Maar op Debruynsrus en De Riet wag hulle nog geduldig vir reën.

P1370319

‘n Week gelede was die dam nog dor en leeg…

 

P1390462

… en kyk nou!

 

Uit die droë driedoringbosse breek spierwit blomme uit en die skaap weier die kos in die voerkrale – hulle smul aan die soet-soetste blomme. Uitgeteerde springbokke baljaar tussen die driedorings. Nuwe lewe beur oornag uit die gewillige aarde en die 8-dae grassies gloei alreeds groen.

P1390544

Uit die dorre aarde beur die lewe

 

 

P1390577

Die soet driedoringblomme

 

Sondagoggend is ons ‘n skrale 12 mense in die kerk. Die res kan as gevolg van die verspoelings nie deurkom vanaf die plase nie

Die aarde leer ons hoe om met dankbaarheid te reageer as God Hom ontferm; as Hy die lug antwoord en dié antwoord die grond en die grond antwoord met koring, wyn en olie … (Hosea2:20,21)