Katakombe in die Karoo

Op die plaas Jobsekolk, tussen Vanwyksvlei en Brandvlei, staan ‘n katakombe – ‘n mensgemaakte kamer wat dien as ‘n begraafplek (volgens Wikepedia). Hier lê Johannes Jacobus Lourens Zandberg en sy vrou Elizabeth Catharina Müller begrawe.

Jobsekolk10

Jobsekolk is op sy dae ‘n spogplaas. Daarvan getuig die imposante boustyl, die geuwels, die oorblyfsels van ‘n victoriaanse tuin. Vandag is Jobsekolk ook maar net ‘n bouval, soos soveel ander plase in die Karoo.  In Hennie Aucamp se woorde: ‘n Huis raak afgetakel, nes ‘n ou mens; dit word ook ‘n verwyt aan hulle wat dit eenmaal bewoon het. Of soos dr. Petronella van Heerden dit stel: ‘n Huis verkwalik sy mense as dit nie bewooon word nie. ‘n Huis het asems nodig om hom regop te hou. Hoekom waai winde so ekstra droewig om en deur murasies, en buig hulle die sipresse in kerkhowe? Omdat hulle die asems soek, glo ek al hoe meer, van dié wat eenmaal hier op aarde was. (Dankie hiervoor, Pieter Hoffman)

Jobsekolk13

Dawid le Roux huur tans die grond op Jobsekolk vir ekstra weiding want die plaas grens aan sy grond, Flamingosfontein. Hy het ‘n sleutel vir die grafkamer en laat ons binne. Geitjies floreer hierbinne.

Die twee imposante grafte vul die kamer. Orals teen die mure pryk familieportrette en geslagsregisters van weleer. ‘n Mens moet eers bietjie skoonvee voordat jy regtig kan uitmaak wat agter die glas, stof en geitjiemis versteek is. Dit word ‘n ontdekkingstog!

Hier duik die naam van Rosa Hermina Schalkwijk weer op.

Jobsekolk8 Vroeër het ek vertel van haar graf wat op die buurplaas, Klipkolk,  buite die begraafplaas staan. https://wordpress.com/post/karooblog.wordpress.com/2417

Rosa blyk die ma te wees van die dogter wat later die vrou van DF Malan geword het. Hier is sy aangedui as tweede kind van Johannes Lodewikus Schalkwijk en Johanna Christina Jacoba De Klerk, die grootouers van húlle wat hier begrawe lê.

Rosa Hermina Van Schalkwijk trou met Johannes Zandberg by wie sy drie kindersverwek, nl Johanna asook Mattie (DF Malan se latere vrou) en Johannes Louwrens Zandberg. Na sy asterwe tree sy weer in die huwelik met Jacobus Johannes De Wet. By hom verwek sy nog drie kinders.  Vroeër vanjaar maak ek toe onverwags kennis met Rosa Grant en Koos de Wet (80), albei kleinkinders van hierdie einste Rosa. Hulle het op die internet afgekom op my vorige blog oor hulle familie. Enewil, met Rosa Hermina se dood op die ouderdom van 43, is onse Johannes Louwrens Zandberg 19 jaar oud. Dit is hiérdie Zandberg-seun wat die trotse eienaar word van Jobsekolk.

Johannes Louwrens Zandberg trou met Elizabeth Catharina Müller. Dit is húlle wat Jobsekolk opbou tot ‘n trotse en welvarende boerdery. Vyf kinders word uit hierdie huwelik gebore waarvan slegs een nog lewe, nl Elizabeth Catharina Zandberg, oftewel Betsie, gebore in 1947.

Jobsekolk7

Jobsekolk9

In die grafkelder is ‘n besoekersboek. Agter in die boek sien mens hoe Jan Zandberg boekhou van elke pennie en pond se motoruitgawes en ook ander boerdery-uitgawes. Op elke oujaarsaand maak hy ‘n inskrywing van sy skaapgetalle. Dis opmerklik hoe sy boerdery in sowat 40 jaar vervierdubbel. En hoe die 1933-depressie sy skaapgetalle knou met ‘n volle 1000 skape.

Waarom ‘n grafkelder? Wie weet? Dalk wou hulle alles net perfek doen? Maar daar is baie stories in omloop. In die katakombe, met sy baie familieportrette en geslagsregisters, is daar ook in die een hoek ‘n kombersie. Glo deur Jan Zandberg se vrou daar geplaas sodat haar oorlede man nie moet koud kry as hy sou terugkeer nie.

Jobsekolk5So het sy tjekboek en ‘n pen vir jare op ‘n tafeltjie gereed gelê – hy moes net teken as hy sou terugkeer.

Daar word ook vertel dat sy haar vingers stukkend gegrawe het die nag na sy begrafnis om hom by te kom – glo iets te doen met sy testament …

Advertisements

101 jaar oud.

Dit is net gepas dat ek my 100ste blog oor Vanwyksvlei plaas op Mandela se 100ste herdenkingsdag. In die jaar waarin AVBOB en SANTAM hulle 100ste bestaansjaar vier en Antie Annie Swart van Vanwyksvlei 100 jaar oud sal word, berig ek graag oor ons gemeente se eeufeesviering.

Ta Annie

Sondag val ons klompie ambisieuse gemeentelede in ysige wind weg om gesamentlik 101km te stap ter viering van ons gemeente se 101 jaar van bestaan. Die wind van 2˚C is so sterk dat Dawid le Roux sy drone nie gelanseer kry nie om ‘n lugfoto van ons klompie te kan neem.

101

Hoe het die eeufees dan verlede jaar so ongesiens by ons verbygeglip? Dis ‘n storie van ‘n ander kleur. Op 8 April 2012 vier die gemeente luisteryk die 100jarige bestaan met allerhande gedenkwaardighede, besoekende eertydse predikante, die lot; maar dit is van die kergebou – nié van die gemeente nie. ‘n Hoeksteen word weer gelê, ‘n eeu na die eerste hoeksteen gelê is – 8 Junie 1912.

Verlede jaar vra Samantha Fourie, boorling van Vanwyksvlei, op NG Vanwyksvlei se fb-blad, of ons enige iets spesiaals gaan doen om die gemeente se 100ste bestaansjaar te vier. Ek antwoord so ewe dat die gemeente reeds 5 jaar vantevore sy eeufeesviering gevier het.

Dit pla my egter. Waar kom sy aan haar feite? Gaan kyk in die feesbundel van 1980 wat gepubliseer is om die dorp se 100ste bestaansjaar te vier. Daar word nêrens melding gemaak van die afstigtingsdatum van NG Vanwyksvlei vanaf NG Carnarvon nie. Net van die datum waarop die hoeksteen van die kerkgebou gelê is; weliswaar 8 Junie 1912. Nee, sy maak seker ‘n fout …

So blaai ek onlangs toevallig deur die heel eerste notuleboek van NG Vanwyksvlei se kerkraadsvergaderings. Op die skutbladsy staan: Notule Boek van de Ned. Geref Gemeente van Wyksvlei gesticht 15 Jan 1917.

WAT!!!

gestig

Iets rym nie. Vas onder die indruk dat die feesvierings van April 2012 die gemeente se eeufeesvierings was, begin ek delf. Kom ek later in die notuleboek af op die notule van ‘n kerkraadsvergadering van 4 Maart 1967 waarin besluit is dat die halfeeufees op 20 Augustus 1967 gehou sal word. Dan het die gemeente jou waarlik eers in die vyfde jaar nadat die kerkgebou se hoeksteen gelê is, afgestig van NG Carnarvon. Al wat ek kan aflei uit die inskrywings in die 1980 feesbundel is dat NG Vanwylksvlei toe nog steeds maar net ‘n wyk van NG Carnarvon moes gewees het.

halfeeu

Die groot afstand na Carnarvon en die nood aan ‘n vergaderplek vir ‘n erediens vir die mense van Vanwyksvlei, het aanleiding gegee daartoe dat die besluit geneem is waarvan geskryf word in die feesbundel van 1980. Carnarvon se kerkraad het besluit om ‘n kerkgebou in Vanwyksvlei op te rig vir eredienste in Vanwyksvlei. Besoekende predikante was soms genoop om vanaf ‘n bokwa by die dam, waar die meeste Vanwyksvleiers destyds gewoon het, eredienste te hou. Later is daar in ‘n soutstoor wat ook as tydelike woning van die magistraat gedien het, eredienste vir die gemeentelede in Vanwyksvlei gehou. Daar was geen sitplekke nie en die lidmate moes hulle eie stoele saambring.

Hoe lyk dit dan of ons een van die min gemeentes is wat éérs ‘n kerk gehad het, en tóé ‘n selfstandige gemeente geword het. Meer as 100 jaar gelede. En die datum van die gemeente se 100ste bestaansjaar het jou waarlik ongesiens by ons verbygegaan ondanks Samantha se navraag.

Ons het nie meer die lidmatetal of die hulpmiddels om nóú ‘n eeufeesviering te organiseer nie. Die handjievol gemeentelede is totaal uitgeput na die basaarvoorbereidings en twee begrafnisse in twee weke. Niemand het die krag om nou iets reusagtigs aan te pak nie. Die BullRun lê voor waarvoor ons vir seker nóú reeds moet begin voorberei. Hoe gaan ons reg laat geskied aan hierdie geskiedkundige tydvak?

Die gedagte aan ‘n kollektiewe stap van 101km op die Springbokoogpad word gebore. As siekte en onverwagte gebeure ons mense uitdun en verhoed om deel te neem, stap dié wat kan, net eenvoudig verder. (Van Zijl se afstand kan ook bygereken word want deesdae is hy ‘n gereelde bywoner van eredienste)

101stap

101name

Daarna eet ons verjaarsdagkoek wat gesny word deur Elné Hoon, die jongste stappertjie vandag.

Koeksny

Ons hou ‘n feesdiens in die saal en kuier lekker verder saam om die braaivleisvuur. Staaltjies van die voorsate gee smaak aan die kuier.

101koek

feesdiens

Worsbroodjies is tog nie te minderwaardig as feesmaal wanneer hande en middele min geraak het nie. Ons Meester se leefstyl van eenvoud is nog altyd ‘n goeie voorbeeld om na te volg. Dan nie?

(Indien jy wonder, net 97 blogs vertoon nog omdat ek reeds 3 verwyder het weens hul sensitiewe aard)