Soos die palm van haar hand

 

L1120750

So ken Betjie Adams van die VGK die binnekant van ons kerkgebou hier op Vanwyksvlei. Elke hoekie en lysie. Elke kassie en rakkie. Elke bakkie en beker. Elke bekleedsel en behangsel.

Vir die derde jaar in ‘n ry alleen (en voorheen saam met Ant Sophia), maak Betjie die kerk op ‘n Vrydag skoon. Soms ook op ‘n ander dag as die kerkprogram dit vereis. Sondag se koppies waaruit tee en koffie gedrink is. Die ablusietjie in die agterjaart van die kerk. Die silwer nagmaalware.

 

Die spieëls, horlosies en portrette. Die klede en doeke. Die houtgallery, orrel en orrelpype. Die eeu-oue banke wat gereeld gepolitoer moet word. Die hemelhoë lysies en vensters wat afgestof moet word.

“Die geldjie? Hoe sal ek nou sê, Mevrou. Die geldjie is maar seer. Maar ek het darem ‘n werkie. En elke bietjie help om die gate toe te hou.”

Betjie woon ver van die kerk teen die skuinste in die woonbuurt. Haar knieë, wat maar praat van die artritus, dra haar smôrs afdraand tot by die kerkgebou. En smirrae weer teen die bult op terug. “Dis soos my lewe, Mevrou. Die Here gaan voor en ek agterna.”

Kort-kort oorval ‘n hoesbui haar. Ek vra of sy medesyne het vir die hoes. “Ja, Mevrou. Karmedip. Ek brou vir my tee daarvan – van daai veldbossie wat in my tuin staan.”

Betjie verloor haar eerste man terwyl sy 8 maande swanger is met haar vierde seun. “Vergiftiging, Mevrou. Hulle het geknie in ‘n houer wat die brood vergiftig het op die plaas waar hy gewerk het. Die ander man het deurgetrek. Maar my Flip is afgesterwe.”

Vir 10 jaar versorg sy alleen haar vier seuns terwyl sy as skoonmaker werk vir Abel en Annelien by die winkel. “Dis maar swaar tye, Mevrou. Saans, as ek my kop neerlê, weet ek nie waar môre vandaan gaan kom nie. Maar elke môre, as die Here se son opkom, is daar maar weer voorsien.”

Neels word haar tweede man by wie sy nie kinders het nie. Maar Neels se kinders word ook vir haar soos kinders.  Neels het ‘n vaste werk en ‘n bestendige inkomste by KVB. Haar baba skryf vanjaar matriek in Carnarvon. Vir elke uitgawe van elke kind se onderrig, betaal hulle nog elke keer, sonder dat hulle geld moet leen of geld op verkeerde maniere moet aanvul.

“Betjie, watter deel van hierdie werk is vir jou lekker?”

“Dis vir my lekker, Mevrou, om eers hier in die stilte van die kerkgebou te kom sit en my broodjie en koppie koffie te geniet.”

“Is daar iets wat nie vir jou lekker is nie?”

“Daarvan weet die Kerkraad, Mevrou. Dis maar dingetjies waarvan hulle weet.”

Betjie sorg vir jare, terwyl sy nog by haar ouers woon, vir oompie Jakob en antie Rachel wat diep bejaard is. Na werk, loop sy eers daar aan. Was vir oom Jakob en versorg sy bedsere. Na sy dood, versorg sy steeds daagliks vir antie Rachel. Antie Rachel vertrou haar met haar lewe. Hoe sy eendag uitgelê wil word vir haar graf, wat Betjie vir haar moet aantrek, waar die geld vir die begrafnis weggesteek is.

So word ‘n koevert aan haar oorhandig na antie Rachel se ter aarde bestelling. Sy is te bang om die koevert oop te maak. “Nee, laat haar seun die koevert oopmaak. Net-nou spring daar iets uit wat ek nie kan hanteer nie.”

Dis antie Rachel se testament. Betjie erf die huis. Dieselfde een wat sy vandag in woon. “Ja Mevrou, ‘n mens bedink, maar God bestuur,”

20160401_100235_3

WAT WERK IN VANWYKSVLEI, EN WAT NIE

Het ek nou vir my ‘n lat gepluk met die bedelklonkies! Elke middag, elke middag nes ons bietjie wil gaan rus. Intussen het hulle aangegroei van drie na drie maal daardie getal. Om die voordeurklokkie te laat skril, is dalk deel van die bedelplesier. Maar ek leer vinnig wat werk en wat werk nie (of wie werk nie) hier in die Bo-Karoo nie. Miskien moet ek hulle maar inspan om vir my donkiemis op te tel in ruil vir ‘n broodjie. Iets sal ek moet doen aan die dooie grond, want my groente oorleef maar net-net.

Een van my eerste lesse was met Oempie Johannes Goeieman. Hy versorg die kerk en die pastorie se tuin. Woensdag kondig hy aan: “En ek verjaar mos nou môre.” Dit ontgaan my heeltemal en Donderdag werk hy met slegs ‘n gelukwensing. Hy is maar taamlik afgehaal die namiddag hier weg toe daar nie ‘n koek oorhandig word nie.

Vrydag verneem ek of sy verjaarsdag darem lekker was. So-so, antwoord hy. Maar Antie Betjie Adams, wat die kerk kom afstof en uitvee, haak daar van doer op pad kerk toe af: “Hy’t mos‘ie ‘n koek gehat’ie.” Toe gaan bak ek maar gou een.

Wat wel veronderstel is om te werk, is die spanne met die oranje pakke – soos die lapswaaiers orals waar daar padwerke aan die gang is. Hier is glo vier sulke spanne wat elk twee dae per week skoffel. Dan pay hulle sowat R700 per maand.

Staan ek en Johan nou die dag en kyk hoe 35 van hulle (met altesaam 2 grawe, 1 hark, 1 vurk, 1 kruiwa en die res stokke) ‘n slootjie wat toegespoel het, moet oopmaak. Daar’s baie wat baie het om te vertel en die werkery gaan tog te gesellig voort. Toe die grondjie wat uit die sloot kom elders in iemand se inrit gelykgemaak is, loop sit hulle in die skadu van ‘n bouval oorkant die straat. Dis nog nie 9uur nie maar dit kuier lekker verder. Toe die sirene die middaguur se breuk aankondig, staan hulle moeggekuier op en drentel weg om hulle etensuur te gaan benut. Vanoggend weer, skoffel hulle presies dieselfde stukkie kaal aarde oorkant die straat waaraan hulle twee keer verlede week geskoffel het. Hier groei tans niks in hierdie dorre weer nie, dus weet ek regtig nie waaraan daar so geskoffel word nie. G’n grassie of bossie of vygie of duwweltjie sal ooit weer kans kry om daar te groei nie. Aan die Prosopisbos en die papiere wat daar vasgewaai het, word egter nie geraak nie.

Hierdie spanne word glo deur Waterwese betaal. Deel van hulle pligte is om Prosopisbome uit te kap. Prosopis is ‘n geharde indringerplant wat epidemies aanteel. Ons het dit al deur die hele Noord-Kaap gesien – in die Kalahari, die Tankwa, in die Boesmanland, oor die hele droë Karoo heen, en nou weer hier. Ek dink Oom Kraai van Niekerk, destydse minister van Landbou, draai in sy graf om as hy sien wat van sy inisiatief geword het. Hy’t glo gesoek na ‘n geharde plant vir hierdie wêreld en toe saad vanaf SuidWes ingevoer.

Die boom verdring alles wat inheems is. In die Kalahari vrek selfs Kameeldoring soos wat Prosopis hulle water steel. Die wortelstelsel is baie diep – oral in hierdie deel van die land kan mens sien hoe loop die are van ondergrondse water soos wat die weliggroeiende Prosopis dit aandui. Die jong bome groei soos struike, is dig gespasiëer en maak lang lote wat goedbedeel is met dorings, wat dit haas onmoontlik maak om vir iets aan te wend. Hierdie tyd van die jaar staan die bome geil in die blom – ‘n geel trossie met baie stuifmeel. Verder dra die boom soet peule wat baie goeie veevoer uitmaak. Maar selfs dit bevorder die verspreiding van die plant teen ‘n hewige tempo. Word die boom afgekap, spruit hy net met meer vors uit. Al wat help is afkap en gif gooi, deeglik rondom die stam.

Gelukkig, Mnr Bauer, gee Prosopis goeie braaihout wat lekker kole maak…

Die nagte hier was tot laas week nog koel, maar is tans drukkend. Soggens breek die dag windstil. Die landsvlag voor die SAPD-geboutjie hang impotent teen die vlagpaal af. Sodra die son sy kop oor die oostelike heuwels opstaan, staan die windjie ook op. En daarmee saam die landsvlag. Dan kan die wind heeldag woed dat die warm stowwe staan. Laatmiddag sal hy net so skielik weer gaan lê. Maar geen teken van ‘n wolkie nie. Dit bly dor en droog en skroeiend warm. Boere voer lankal hulle vee teen hoë onkoste. Water is min. Op Prieska is daar glo al verlede Sondag gebid vir reën.

Die naweek het ons amper gedink ons beleef reën in die Bo-Karoo. Namiddag se koers begin die wolke vinnig saampak. Sommer gou slaan blitse plek-plek uit. Groot druppels begin hier en daar neerplof. Maar die wind steek op en daar gaan al die belofte van goeie reën Prieska se kant toe, waar dit glo 20mm uitgesak het. Wys jou net.

Sondag roep ons ook hier plaaslik ‘n biddag vir reën uit. Johan sal moet uithaal en wys…

Oempie Johannes word 59

Oempie Johannes word 59

Die gehate Prosopis wat als wat leef se water steel

Die gehate Prosopis wat als wat leef se water steel

Die weer bou op oor Vanwyksvlei

Die weer bou op oor Vanwyksvlei