BullRun Bulletin

stof

Noudat die dorp en Wilhelm-se-pan se stof weer gaan lê het, probeer die Vanwyksvleiers hulle lewe weer belyn met die normale verloop van dae. Maar die terrein word eers opgeruim, die boeke word eers afgesluit, die voorrade word eers gekontrolleer, die oorskotte (nie dié van die deelnemers nie…) word eers teruggery en elkeen probeer weer sy eie lêplek terugkry.

Weg Ry & Sleep Bull Run 2018 lê agter ons. Voor ons, skaars tyd vir rus, want nabetragting moet gehou word en 2019 moet nou reeds beplan word.

Getalle:

150 spanne skryf in van regoor die land. 650 mense se name staan op die lys en kry slaapplek en daagliks ‘n kospakkie. Slegs ‘n handjie vol inwoners van ons klein dorpie is beskikbaar om alles te behartig – vir maande reeds. Elke denkbare blyplek in die dorp is vol bespreek. Die tentedorp wat op die terrein opgeslaan is, huisves die res.

Raakvatters:

Tussen Vasie De Kock, Jan La Grange en Johan Smit, gebeur die grootste deel van die voorbereiding. Tussendeur kom gee mense met spesialiteitsvaardighede hand met bedrading en riolering en installering en modifisering en verfraaiing en toekamping en aftakeling en opknapping en sweiswerk en verfwerk. Johan en Jan-Hendrik en JB en Paul en Lolita en Stefan en Gert.

lolliesverf

Lolita du Pisani werk tot sononder aan die verfraaiing van die nuwe ablusie

Mark Penning, wat ‘n huis in Vanwyksvlei het, kom van Bloemfontein met sy grondverskuiwingsvoertuie om die ‘gat’ in die terrein op te vul. Met sy watertenker vul hy die drie Jo Jo’s met genoeg water wat die naweek kan hou.

Ria van Rensburg beplan elke kospakkie vir die aande se etes meesterlik tot op die laaste gram. Alles werk perfek uit. André Oberholzer, die plaaslike slagter, berei met sy helpers 650 braaipakke voor vir elke aand vir elkeen van die manne wat ingeskryf is. Die braaipakke en kospakkies word per kaartjiestelsel saans uitgedeel.

Ria

Ria van Rensburg aan die stuur van die kosvoorbereiding

Tannies, al ver in jare, huiwer nie om hand te slaan aan die voorbereiding van braaibroodjies, of knoffelbroodjies, of noedelslaai of knoffelaartappel of koolslaai nie – 650 individuele porsies van elk – 7 ure vooroor gebuig en op hulle voete!!!! Baba, Petro, Gerrie, Marietjie, Sannetjie, Rina en vele helpers uit die woonbuurt waarsonder ons hande net te min sou wees. Later word familie ook ingespan – Elsje, Dewald, Paul, Jaques.


Rina maak solank ys sover as wat die beperkte dorpswater haar toelaat. Ry in een dag eers Carnarvon toe en dan Prieska toe vir nog ys. Dan bak sy pannekoek, dan smeer sy brood.  Joppie ry ekstra water in vanaf Môreson sodat die ergste stof op die terrein natgelei kan word.

Kosstalletjies:

Vanjaar werk niemand vir sy eie sak nie – als gaan vir die kerk. Tilla la Grange se asbosskerm staan hierdie jaar hoër as laas jaar. Pap, kaiings, kaapstertjies, roosterkoek met skaapvet en stroop … Nja!

skerm2

Marietjie, Tilla en HJ aktief in die asbosskerm

Karin en Dia los die kinders by die ouma’s en doen voluit hamburgers en worsbroodjies. Dawid en Eljo verkoop draairoomys. Tussendeur word pannekoek gebak. Rida en Magriet verkoop basaarpoeding. Vasie en Rida voorsien broodnodige water. HJ moet sy staal ken by die kole tussen skaapstertjies en hamburger patties en wors. Boonop nog genoeg kole vir roosterkoeke ook!

Fanie en Tertia Pretorius van Crater Coffees is weer hier al die pad van Parys om van vroeg-vroeg soggens hulle geurige koffie te bedien.

koffie

Helpers:

Van ekstra hande gepraat; mens pak nie so iets aan sonder sekuriteitsmanne, skoonmakers, rommelverwyderaars, karweiers, kroegmanne, skermpakkers, vuurmakers, roosterkoekbakkers, skottelgoedwassers, kosmakers, nie. So het heelparty al hulle merk gemaak en sal beslis volgende jaar weer in die span opgeneem word.

werkers

‘n Groepie van die werkers wat op die laaste dag nog gehelp opruim het

Die kroeg:

Vanaf 10vm – 6nm is ‘n enorme lang skof om op jou voete te staan by die kroeg. Aandskof eweneens, want mens skink solank die manne drink. Onbaatsugtig is die hulp van Lolita en Joppie en Dawid en Johan La Grange en Jan-Hendrik en Stefan en Francois en Johan Bruwer en JB en Marlise en Karin en Sybrand.

Gebeurlikhede:

Behalwe die normale dough-nut-gooiery en kerk-klok-luiery diep in die nag, sorg vanjaar se deelnemers vir genoeg karwrakke wat herwin moes word, ambulansritte wat gery moes word, soekgeselskappe wat verdwaaldes moes opspoor, en na-ure se werk vir die plaaslike en ingevoerde manne in blou uniforms.

Vir die dorpskinders word ‘n kaskarwedren op die rygbyveld gehou met karre wat Weg Ry & Sleep Bull Run 2018 se organiseerders saambring en padwaardig maak.

Vraagstukke?

“Jan, hoekom doen julle dit? Hoekom sal ‘n mens maande lank so swoeg, soveel petrol uitry, soveel onbetaalde werksure insit? Dit rym nie?”

“Want die saak is groter as ons. Die blootstelling wat Vanwyksvlei en sy inwoners kry, kan nie in geld omgereken word nie. Een keer ‘n jaar lewe hierdie dorp. Maar dwarsdeur die jaar kom die goedgesindheid terug in die vorm van donasies van voer en werkskepping en kontrakte en projekte.”

“Maar wie sponsor al hierdie voorbereiding en mannekrag?”

“Die kerk. Die kerk skiet voor en als gaan terug in die kerk se sak. Die kerk maak lewe weer moontlik.”

jan

Jan la Grange staan aan die stuur van sake

 

Advertisements

Annie Swarts teken 100 aan

Die seisoen het amptelik vandag gedraai. ‘n Nuwe seisoen begin ook vandag in Tannie Anna Swarts se lewe. Van vandag af leef sy ‘n lewe ná ouderdom 100.

 

Tannie Anna is gebore op 20 September 1918. Sy onthou nog die dae as die dam gereeld weer geskraap moes word, vroeg in die vorige eeu. Haar pa was een van die dambouers wat in 1882 begin is. Sy vertel hoe haar pa nog moes help om die damwal met bokvelle uit te lê. Op die bokvelle is klippe gepak waarmee die wal gekompakteer is. Dit is dan weer toegepak met potklei. Die damwal staan vandag nog net so.

By haar in haar karaktervolle huisie hier in Vanwyksvlei, woon ‘n hele paar geslagte saam.

Anniekoek

Sewe kinders is vir haar en haar man gebore waarvan slegs twee nog lewe. Haar dogter, Rachel, versorg haar tans. Tannie Annie kan nog goed loop, kan nog goed genoeg sien om daagliks naaldwerk met die hand te doen, hoor minder goed, kan nog verbasend goed onthou en het nog haar eie tande. Sy voer nog ‘n sinvolle gesprek met mens en lewe ‘n lewe van opperste dankbaarheid.

AnnieS

Sy vertel dat haar pa naby Humansdam rond gewoon het toe die dam se bouery in 1882 begin is. Hy was een van die dambouers wat met esels potklei vir die dam aangery het. Later jare word sy in Smouskolk se omgewing gebore as een van drie dogters van haar pa en ma. Haar ouers het ook by die Ingelsman op Garskolk gewerk waar sy moes help miskoeke optel om vuur mee te maak.  As jong meisies gaan grawe sy en haar susters sout onderkant die damwal uit en dra dit op hulle koppe dorp toe in ruil vir lewensmiddele.

Haar man het by Oom Doupie Oberholzer se pa op die Lande gewerk en later vir Doupie self. “Ek het al Doupie-goed se kinders help groot maak. Op hierdie rug van my het ek Deon-hulle rond gedra. Ook vir einste André Oberholzer wat nou so ‘n groot man is.”

Tannie Anna vertel dat haar pa op ouderdom 101 gesterf het. Sy goeie gene leef voort in hierdie inspirerende vrou.

 

Plaasbegrafnis

20171221_193609

Ons begrawe vir Chrisjan de Bruyn op sy plaas waar hy al van sy  tienerjare geleef en laat leef het. Hier naby, op die buurplaas, Nuwedam, is hy gebore. Hier raak hy groot onder ‘n harde pa. Hier word hy net so gehard soos die aarde . Hier vat hy vir Martie as vrou, 55 jaar gelede en hier word hulle drie dogters gebore. Tilla is skaars 4jaar oud toe Chrisjan vir Martie die nuwe huis bou waarin daar steeds gebly word.

Oral is dit bekend dat hy oor ‘n baie spesiale gawe met diere beskik. Sy skoolopleiding kon hy nie klaarmaak nie, omdat hy as tiener na De Bruynsrus moes begin omsien. Al sy kundigheid en sy aanvoeling met siek diere kry hy van sy ma, Ouma Nellie. Sy was die een wat nooit moed opgegee het met ‘n siek lammer of ‘n sterwende dier nie. Wyd en suid is Chrisjan altyd uitgeroep om te kom help met ‘n siek dier. Veesiektes ken hy. Daar was nooit ‘n twyfelagtige diagnose nie. Selde verloor hy ‘n dier.

P1380141

Chrisjan en sy buurman JB van Kalkdam

 

Chrisjan se heengaan kom skielik – midde in die geharwar om ‘n basaar te laat werk met net ‘n handjie vol oorblywende lidmate wat bereid is om saam te werk aan die voortbestaan van die kerk. Beide Tilla en Jan dra groot verantwoordelikhede – nl die koektafel en die vleistafel.

Hulle is uit hulle diepte geruk. Alles word gestaak om eers begrafnis te reël, slaapplek vir hordes familie en vriende wat van ver kom.

Maar in die tipiese Christusgesindheid word hulle hande losgemaak. Karin Hoon en haar skoonma Erina, bied aan om die koektafel oor te neem. André Oberholzer stel sy slaghuis en sy werkers beskikbaar om die skaap te verwerk, sosaties te maak, die bees te maal, bene op te saag en wors te maak. Alles werk toe tog ten goede mee op die ou einde.

Gemeentemense los waarmee hulle besig is en maak reg vir die begrafnis. Sop word gekook, toebroodjies gemaak, platters word voorberei, tafels en stoele en eetgerei word aangery plaas toe vanaf die kerksaal. ‘n Graf word voorberei op die plaas.

Plaasbakkies staan in gelid soos ‘n gedugte brigade. Boere haal hoed af, groet mekaar met die hand. Praat oor die laaste reënbui wat laas maand so kol-kol geval het. Oor die ongediertes wat woel onder die lammers. Oor die ooie wat tweelinge gooi. Oor die verlies aan skaap onder die vlaag onwettige slagtings op al die roetes om die dorp.

Hytjie en meidjie is hier saamgetrek. Boere van die buurplase. Dorpsmense. Familie en vriende vanuit die dorp en vanuit ver plekke in die land. ‘n Groot skare bruin mense uit die dorp en plaasvolk kom ook hulle laaste eer betoon. ‘n Haan kraai aanhoudend.

 

Ons neem posisie in onder die peperbome langs die plaashuis. Die honde raak rustig by die familie se voete.  In die kampie met hanslammers reg langs ons, lê lammers en hoenders sommer deurmekaar en luister na die dominee se rede. Hulle handhaaf ‘n eerbiedige stilte vir Chrisjan.

 

 

‘n Ent verder lê die paar beeste ook rustig en wag. Die teenwoordigheid van so baie plaasbakkies en begrafnisgangers het hulle geensins uit hulle diepte nie.

Chris doen namens die familie bedankings. Tilla getuig van die vrede waarmee haar pa oorgestap het.

Asof die pou die ‘Amen’ op die toesprake verstaan, spring hy van een van die bakkies af. Sy skelle geskreeu klief luidkeels die stil begrafnisatmosfeer. Almal kom in beweging. Ook die beeste wat eenkant gelê en herkou het, kom op hulle voete. Vat koers voor die lykswa uit graf se kant toe. Almal val kop onderstebo agter die lykswa in die 100m na die graf toe. Chrisjan se oorskot word in sy eie plaasgrond weggelê soos hy dit wou gehad het. Die plaas was in hom. Nou is hy in sy plaas.

Begrafnisgangers vanuit die bruin gemeenskap, val spotaan weg en sing uit die hart uit ‘n afskeidslied.

L1450865

Langs die huis agter die draadheining, op die stukkie grasperk, staan die tafels uitgepak met eetgoed vir die skare mense. Soos wat begrafnisgangers terugkeer van die graf nadat afskeid geneem is, word geurige sop geskep. Dit woel soos wat skinkborde uitgedra en vuil skottelgoed weer teruggedra word kombuis toe. Die span by die opwasbak werk onverpoos aan die massa vuil koppies en bordjies.

L1450876

Die spul hanslammers kom ook op hulle voete. Reguit by die kampie uit, pyl hulle af op die stukkie kunsmatige gras waarop die preekstoel staan gemaak is. Keer na ‘n paar happe teleurgesteld weer terug kampie toe. Net ‘n illusie …

L1450873

Chrisjan se nasate leef voort op sy geliefde grond. Tilla en Jan het uiteindelik die ou plaashuis oorgedoen vir hulle gesin. Chrisjan se omgee vir sy diere leef voort in Tilla, wat al vir meer as 4 jaar by hom oorgeneem het nadat suikersiekte hom ‘n invalide gemaak het. Daar word vertel dat hy midde in die droogte met die skape kom praat het: ” Ja, my kindertjies, dit gaan met ons swaar. Maar een van die dae sal die Here weer vir ons reën stuur. Dan sal Pa vir julle weer beter kan sorg.”

Twee dae later hou ons suksesvol basaar. Daar is onverwags baie voete, danksy al die ekstra mense wat opgedaag het vir Chrisjan se begrafnis. Vir oulaas doen Chrisjan die gemeente ‘n groot guns en red die basaar van mislukking; snoer baie mense weer saam op ‘n gemoedelike manier. Voor die middaguur is die tafels leeg gekoop.

Als is weer reg op Vanwyksvlei en op De Bruynsrus, Chrisjan. Baie dankie. Rus nou in vrede.