‘n Hartseer feesmaand

p1390632

Ses hopies vars grond in Vanwyksvlei se begraafplaas vertel hartseer verhale van verlies. Wat ‘n maand van vakansie en feestelikheid saam met familie moes wees, is ‘n smartvolle tyd van verdriet en rou. Veral vir die Slambeefamilies.

‘n Boetie van 6 jaar en sy sussie van 2 maande, deel ‘n graffie nadat albei in ‘n motorongeluk sterf. Hulle pappa, wat die motor met 10 insittendes bestuur terwyl hy onder die invloed is, oorleef die ongeluk. Hulle mamma, ook ‘n insittende, herstel in Prieska se hospitaal na ‘n breinoperasie. Hulle niggie van 4 oorleef dieselfde ongeluk ook nie. Sy lê langs hulle begrawe.

Bet Tieties sterf met 49 somers agter haar naam. ‘n Borskwaal eis haar lewe op.

p1390630

Vir die Carstensfamilie vertel die hopie grond van hulle dogter se graf ‘n hartseer verhaal van twee kindertjies van 3 en 6 wat wees agtergelaat word nadat hulle dogter(28) na ‘n siekbed van 2 maande sterf.

‘n Jong man van 21, wat sy eie lewe neem, se hopie grond vertel van verbreekte verhoudings en liefdesmart. Hy het homself gehang.

Terwyl die heetige, droefgeestige westewinde oor die dorp waai, is daar families wat sukkel om opgewonde te raak oor die nuwejaar wat aanstons aanbreek. Hulle sal nie deel in die feestelikheid van vuurwerke wat afgeskiet word en toeters wat geblaas word nie.

Ek wonder, sal hulle vanaand iets spesiaal doen om die hartseer jaar te groet?

Sal hulle kan opgewonde raak as die wolke begin saampak?

Ek wonder …

p1390634

 

Advertisements