Ná die Bull Run

Alles draai deesdae om die Bull Run. Daar’s nog net 3 weke oor en nog so baie wat moet klaar kom. Vir die eerste keer word die Bull Run wat deur WegRy geïnisieer word, by ons in Vanwyksvlei aangebied. Die eertydse skouterrein moet daarvoor gereed gekry word. Boumateriaal is aangekoop. Die bouspan werk reeds vir die afgelope hoeveel maande onverpoosd voort. Vasie se trekker word ingespan om die sementmenger aan te dryf.

 

 

“My bestuurslisensie het verval. Ons sal móét Carnarvon toe sodat ek dit kan hernu.”

“Ja, my vrou, wag tog net tot ná die Bull Run.”

By die ablusie wat opgerig word vir die kampeerders het Johan reeds die pype gelê vir die storte, maar dis nog ver van klaar. Wasbakke is nog nie geïnstalleer nie. Grinders is ópgewerk en boorpunte is afgebreek. Verkeerde koppelings is ‘n paar keer vanaf Prieska gestuur. Elke keer moes daar gewag word vir iemand om te ry om dit om te ruil. En ‘n hele paar dae se beplanning is daarmee heen.

“Jan, die gasgeyser wil nie aanskop nie. Jy sal moet kyk.”

“Dit sal maar moet wag tot ná die Bull Run.”

Rudie het die dreine vir die storte en toilette laat uitgrawe en dit is reeds uitgebou. Toilette is al geïnsalleer maar al die loodgieterswerk moet nog gedoen word. Die afskortings wat tussen elke toilet aangebring moet word, is reeds gemaak – Jan het ‘n hele week daaraan spandeer. Maar soos dit met met hierdie tipe goed gaan, moet dinge hier ook in volgorde gebeur. Dít kan nie aandag kry voor dát nie in plek is nie. En die tyd staan nie stil nie!

“Die windpomp het gebreek. Wanneer sal jy kan kyk daarna?”

“Ná die Bull Run!”

Die terrein is reeds ontbos en gelyk geskraap waar die tentedorp moet op. Vasie en sy span het reeds van die ou perdestalle afgebreek en die rommel weggery. Bousand word konstant aangery met sy trekker en sleepwa van Wilhelm se plaas af.  Krag moet aangelê word. Johan, wat die bedrading moet doen, sit met ‘n nekstut ná ’n ernstige nekoperasie. Daar’s nog so baie wat gedoen moet word en so min hande beskikbaar.

“Die kinders wil een of ander tyd kom kuier. Hoe lyk dit met die lang naweek?”

“Sê vir hulle asseblief eers ná die Bull Run.”

Die baan is al uitgemeet op Wilhelm-se-pan en daar word beplan aan kos en drinkgoed vir meer as ‘n duisend inkommers. Onder Trudie se leiding is 43 lam en 4 bees al geslag en opgesaag vir braaipakkies. Nog omtrent 60 skaap moet ook geslag en verwerk word. Wors is gemaak. 2600 braaipakkies is gereed vir die drie aande se braai vir die beamptes, deelnemers en ondersteuningspanne. Bykosse is gereël vir elke dag. Genoeg hout en ouens wat kan braai gaan nodig wees. Jan moet nog ‘n hele klomp braaidromme prakseer wat hy nie weet waar en wanneer hy dít gaan ingepas kry nie.

L1200693

Tannie Baba, Johan en Gerrie

“Ons sal een of ander tyd Prieska toe moet ry. My bloeddrukpille is amper op.”

“Wag asseblief tog net tot ná die Bull Run, Skattie.”

By die biertent moet nog ‘n muur gebou word. Die ou rietdak is darem al afgebreek maar die area moet nog gedek word. Daar is nog baie wat gedoen moet word maar Abel, wat skielik twee ernstige agtereenvolgende rugoperasies moes ondergaan, kan nie meer daaraan aandag gee nie. Opknapping by die biertent se kombuis is onderweg. Die ou dak is afgebreek en ‘n nuwe moet op. Baie dinge gaan vanuit daardie kombuisie gebeur tydens die Bull Run. Kragpunte  is ‘n probleem en water moet beskikbaar wees. Dis krities belangrik. Wie gaan nou kan help aangesien Paul nog aansterk na sy verdoemende mediese toetse.

 

“Ons vleis is amper op Pa. Kan jy een of ander tyd vir ons ‘n slagding bring.”

“Na die Bull Run, Ma.”

Die skousaal is reeds verlede jaar opgeknap vir ‘n fondsinsamelingsfunksie wat daar sou plaasvind. Weer eens neem Rudie en Trudie daar die leiding en tans is daardie fassiliteit met sy groot kombuis en ander geriewe gereed vir etes en stalletjies.

 

“Ons sal moet skaap werk en daar’s lammers wat nog nie gemerk is nie.”

“Dit sal maar moet wag vir nog drie weke. Tot ná die Bull Run.”

Stalletjies is bespreek vir kos en meer. Al wat leef en beef is aan’t voorberei om genoeg beskikbaar te hê vir omtrent 1000 paar voete elke dag. Koffie, drank, kos, aandenkings, en wát nog. Dis ‘n gogelspel tussen eie belange en die gemeenskap se verpligtinge aangaande die Bull Run. Gemoedere loop hoog.

 “Ek kan nie wasgoed was bedags met die waterdruk wat so laag is nie. Jy sal moet kyk na die drukpompie.”

“Ná die Bull Run, my vrou.”

Vergeleke met 8 maande gelede is baie reeds vermag. Die skouterrein is reeds omhein en geëlektrifiseer. Hekke wat kan sluit is gemaak en opgerig. Watertenks is reeds aangery.  Vrieskaste is aangekoop. Elke beskikbare kamer in die dorp is reeds bespreek.

“Jy sal iemand moet kry om gas in daai ou vrieskas te pomp. Ons gaan ekstra vriesspasie nodig hê.”

“Wag tog net eers in hemelsnaam tot ná die Bull Run, my vrou.”

“Maar waar’s jou   ĐҨψά$ѯѾϪ  verstand! Dis dan juis nodig vír die ǷǾЖ@$&¥§&se Bull Run!!”

Ná die Bull Run sal daar weer huisbesoek gedoen word. Ons sál weer by die kinders uitkom. Ons kán weer ‘n bietjie wegbreek. Daar sál inderdaad weer lewe wees ná die Bull Run.

Solotrap deur die Karoo

L1200988

Dis nie elke ou wat sy emmerskoplysie só nougeset nakom nie. Vroeër vanjaar het hy en sy vrou, Amanda, die Tankwa Karoo gestap en skaars 5 maande later trap hy alleen deur die Karoo per fiets.

Dewald Du Toit van Durbanville se kop het hom nie gelos nie. Nee, inteendeel, sy kop is reg aangeskroef. Hy wéét dat mens alleenlik kosbare ervarings en herinneringe kan opbou deur daadwerklik jou drome te  laat realiseer.

Die gedagte aan ‘n fietsrit deur die Karoo het tydens die Tankwa Camino ontkiem. Dewald, ‘n kranige fietsryer al vir die afgelope 12 jaar, meen dat as mens so ‘n roete kan stap, jy dit maklik per fiets ook sal kan doen. Aanvanklik is hulle ‘n groep wat die roete per fiets wil aanpak, maar soos die beplanning vorder, so trek die ouens kop uit. Net een vriend ry uiteindelik vir drie dae saam vanaf Calvinia (waar hulle die motors los) tot op Brandvlei. Daar draai hy noorde toe, Keetmanshoop toe waar sy wortels lê. Dewald fiets alleen verder.

Sover is die tog baie voorspoedig. Geen skade of pap wiele nie. Hy reis lig. Met net twee saalsakkies met klere, water en proviant. Sy bergfiets is lekker toegerus. Ekstra bande ry hy saam en ook suurstof bommetjies as hy ‘n wiel moet pomp. Sy selfoon herlaai met behulp van ‘n sonpaneeltjie wat op die fiets gemonteer is. Waar hy saans oorstaan, spoel hy sommer onder die stort die dag se ryklere uit.

Die roete van 900km, neem hom vanaf Calvinia na Loeriesfontein. Oor twee dae tot in Brandvlei. Daarvandaan, ook oor twee dae, tot hier by ons in Vanwyksvlei. Hiervandaan Carnarvon toe in een dag. Sondag Loxton toe. Dan oor Fraserburg (die verste tog van sy toer) na Sutherland. En uiteindelik terug Calvinia toe oor Middelpos. Ons reken hy sal sy toer se halfpadmerk bereik omtrent presies by die halfpadboompie tussen Vanwyksvlei en Carnarvon.

L1200796

Die halfpadboompie is ook die halfpadmerk van Dewald se toer

Vir hierdie ambisieuse solotog, sit Dewald onbetaalde verlof in by Sanlam Beleggingsbestuur waar hy werk. Want hierdie tog is ‘n misie, nie ‘n luilekker vakansie nie.

Elke dag se roete deel hy in afstande van20km op. Stop. Drink water. Eet iets wat energie verskaf. Strek sy spiere. Dan weer vort. Nee, hy luister nie na musiek met oorfonne op sy reis nie. Hy trap ook nie om afsluiting te kry van iets nie. Hy soek ook nie na ‘n nuwe ervaring van geestesverrukking nie. Hy dink. Hy dink gedagtes wat woorde word wat stories word wat soms poësie word. Speel scenario’s af in sy kop. Visualiseer idees. Van sy gedagtes is oa om hierdie roete deur die Karoo te vestig as Solitude Cycle vir enige iemand wat hom dit wil nadoen. Hy wil uitgewerkte afstande, toestande van die paaie, oornag geriewe, kontaknommers, kostes en meer beskikbaar stel en ouens motiveer om ook so ‘n  solotrap aan te pak.

Saans dagteken hy sy ervarings op vir die WA groep wat sy reis volg. Soos gister se storie van Gert en Maria: dié twee kom hy so ‘n ent anderkant Klipkolk van Jan-Hendrik Hoon-hulle (waar hy oornag het) op pad Vanwyksvlei toe teë.  Dié twee reis ook per fiets op hierdie pad wat weinig verkeer dra.

“Nou waar is julle twee op pad heen?” wil Dewald weet.

“Na die ou oom toe.” Hy bly so 20km uit Vanwyksvlei op die Brandvlei pad. Waar hulle bly, het hulle nie krag nie. Nou fiets hulle die 20km af om die selfoon te gaan laai. Dan hou die foontjie darem weer so twee  weke .

“Gert, hoe lyk die pad Carnarvon toe?”

Gert kyk Dewald se bergfiets so op en af. “Meneer sal hom maak.”

IMG-20170909-WA0002

Gert en Maria fiets 20km om die selfoon te gaan laai. En die hond draf saam

Wat is daar nog op Dewald se emmerskoplysie? Om die roete van sy voorsate per fiets vanaf Lille naby die grens tussen Frankryk en België te trap Amsterdam toe. Dáár ‘n boot te klim en direk vanaf Amsterdam na Suid-Afrika te reis. Dan vanaf Kaapstad na die oorspronklike plaas êrens tussen Stellenbosch en die Paarl waar hulle destyds opnuut moes gaan wortel skiet.  Die grootste probleem is tans die bootreis. Daar bestaan geen direkte vaart vanaf Amsterdam na Suid-Afrika nie; soos destyds toe sy voorouers vanweë hulle geloof gedwing is om hulle vaderland vir ‘n nuwe heenkome te verruil.

Dan sal hy maar een moet aanlê. ‘n Solovaart dalk?

Oom Doupie

Oom Doupie word 85 jaar oud. Hier op Vanwyksvlei gebore, groot geraak, skool gegaan, getrou, kinders verwek, en steeds hier.  Die oudste lidmaat van ons gemeente. “Die dop is nog oraait, maar dis die binnegoed wat nie meer wil nie” sê hy skertsend.  Soos ‘n weerstandige grasspriet wat plat getrap word, staan hy elke keer weer regop, soos weer onlangs na die dreigende hartversaking wat hy onder lede het.

Sy pa boer desjare hier op die lande. Henrik Thuys is die helper wat sy lewe lank op die plaas werk. As jong bandiet kry hulle hom op Carnarvon. Vat hom saam plaas toe. Daar is egter nie plek in die motor nie. Henrik sit toe wydsbeen oor die koplig – daardie groot ronde tipe wat soos brulpaddaoë vooraan die ou tjor was. Klou vir sy lewe tot op die plaas. Daar werk hy sy lewe lank as ‘n betroubare plaaswerker. Daar sterf hy ook baie jare later.

Oom Doupie se geheue gaan ver terug. As klein seuntjie speel hy en sy kleinboet, Billy buite. ‘n Drom val op sy boetie se voet en sny die voet erg. Oom Doupie vertel hoe hy van skrik weghardloop. Sy ouers los hom net so klein alleen op die plaas terwyl hulle Carnarvon toe ry om Billy by die dokter te kry. Later keer hy maar terug huis toe, seuntjie alleen. Wag beangs en verwese totdat sy ouers baie ure later van Carnarvon af met Billy terugkeer.

Skaars 16 jaar oud sit sy pa hom alleen, as die oudste van 3 seuns, met  600 skaap op die trekpad Kalahari toe. Met net een helper en ‘n wa en ‘n bokseil. Dis Meimaand. Alreeds koud in die Bo-Karoo en snerpend in die Kalahari. Hy vertel hoe hulle oorleef van mieliepap waarin skaapvet ingeroer word. Einde Junie kom hy met die skaap in die Kalahari aan. November trek hy weer terug met wat oorgebly en aangeteel het.

Vier jaar  later, in 1952, moet hy weer met sy pa se skaap Kalahari toe trek vir beter weiding. Dié keer, vertel hy, het hy darem ‘n perd en ‘n muilwa met twee muile. En ‘n bed op die wa. Op pad terug, naby Boegoeberg, dros die muile een nag agter ander muile aan. Die volgende oggend loop soek hy hulle te perd. Die perd trap in ‘n gat en val met sy volle gewig bo-op Oom Doupie se regterbeen. Van die knieg af heup toe, swel sy bo-been so erg, dat hy die naat van sy broek moet oopsny. Hy bel sy pa en ma want hy is nie in staat om te loop nie. ‘n Week later kom sy pa en ma daar aan. Sy pa het hom een kyk gegee en teruggery. Hy moes maar self aansukkel met die mank been en die skaap, terug Vanwyksvlei toe.

Met daardie been en al, speel Oom Doupie later jare kranig rugby vir Vanwyksvlei. Ry met ‘n oop lorrie Groblershoop toe om daar te gaan deelneem aan rugby wedstryde. Hy teel sy eie resieperde en  word ‘n kampioen met gymkana. Spog vandag met toekennings en trofee’s van daardie dae. Hy wys my sy swaard wat hy vanaf Engeland ingevoer het vir ₤50 waarmee hulle gymkana weddrenne gedoen het. ‘n Soliede staal swaard met ‘n koper handvatsel en skede.  So swaar, ek sukkel om hom uit sy skede te trek. En met daardie swaard volspoed op ‘n resiesperd verower hy menige pryse as kampioen.

Op sy dae ry hy vragte sand van Kleinfourieskolk Copperton toe vir bousand waarmee die dorp opgerig word.  Walle maak hy met ‘n span donkies vir boere in die omgewing om gatdamme gereed te kry as die reën sou kom. Later vervoer hy skoolkinders soggens en smiddae vanaf die lande skool toe en weer terug. Alles maniere om ekstra te verdien. So vertel Oom Doupie van die keer toe hy die kombi net buite die dorp omgooi – gelukkig nadat hy die skoolkinders afgelaai het. Net sy jongste, skaars ‘n jaar, was by hom in die kombi. Dié het hy op ‘n kombersie sitgemaak en man-alleen die kombi van sy sy opgetel, terug op sy wiele.

Oom Doupie se eerste grond wat hy self koop, is ‘n stukkie besproeiïngsgrond by Groblershoop. Daar hou hy skaap aan. As daar lusern nodig is vir sy pa se skaap, laat kom hy van sy lusern van Groblershoop af. Grond wat hy van sy pa erf is grond wat hy self gekoop het en op sy pa se naam moes sit. In die Vanwyksvlei gebied  koop hy nog plase aan – Baberaas, Vaalput, Pietswartsekolk, De Naauwte, Takdam, Karringmelkskolk, Vaderlandsdam, Visserskloof.  So sorg Oom Doupie dat elk van sy kinders – drie seuns en ‘n dogter – vandag eiendom besit.

Oom Doupie en Tannie Elize is vandag trotse oupa en ouma van 13 kleinkinders wat almal akademies of op sportgebied uitblink. Daar is ook al vier agterkleinkinders vir hulle gebore.

P1420644 (2)

Oom Doupie Oberholzer

Wat my die meeste verstom van Oom Doupie is sy briljante geheue. Hy kan sonder huiwering presies vertel hoeveel hektaar beslaan elke plaas wat hy gekoop het. Hy weet presies nog vir watter bedrag per hektaar hy elke plaas gekoop het en wat die koopsom van elke plaas was. Name en getalle, telefoonnommers en datums, bedrae en jaartalle haal hy presies korrek, sonder om eers te wonder uit die databasis van sy geheue.

Oom Doupie loop moeilik  – die nagevolge van rugbybeserings. Bestuur ook moeilik deesdae met sy sig wat nie meer so skerp is nie. Maar wat agter daardie twee sielvolle blou oë sit, makeer net mooi niks.

Met trots en waardigheid

Piet Klaaste begrawe sy ma, Ta’ Mietjie, van 89jaar, 11 maande en 4 dae.

L1200805

 

Mietjie Klaaste (née Hugo) word te ruste gelê nadat sy vir die laaste 3 jaar by Piet-hulle aan huis versorg is. Vir die laaste jaar is sy bedlêend. Piet en sy vrou, Koba,  maak al geruime tyd van die susters van die gemeente gebruik om te help met die versorging, want bedsere word ‘n al groter probleem.

Ek hoor dikwels Ta’ Mietjie se roepkrete van waar sy in haar siekbed oorkant die straat in Piet se huis lê. Daar woon ‘n paar geslagte Klaastes in daardie huis. Die huis wat desjare die Alstons se winkel was, is tans aaneengeskakel met Piet s’n sodat almal daar saam kan woon.  Piet se kleinkinders speel graag met skemeraand die straat tussen ons en hulle vol; groot en klein deurmekaar. ‘n Hele swetterjoel van hulle.

Al die jare wat die skoolkoshuis op Vanwyksvlei funksioneer, was Mietjie hoofkok in die kombuis. Sy sorg dat kinders genoeg kry en lekker eet. Rina onthou haar as Mietjie Trouring. Waar daardie bynaam vandaan kom, weet sy nie. Tannie Petro wat daardie jare die skool se boeke doen, onthou vir Mietjie baie goed.

Mietjie maak 5 seuns groot waarvan Piet die derde is. Hulle word groot in ‘n huisie op die huidige skouterrein. Mietjie se man is verantwoordelik vir die skool se trop skaap. Hulle word op kamp gehou op die skouterrein. Die gronde agter die skouterrein is hulle weiding. Piet  neem hom voor om nes sy pa eendag skaap op daardie grond te hê. Vandag, na sy aftrede by die myn,  huur hy weliswaar daardie grond en sy skaap wei daar.

Met haar afsterwe is Mietjie die laaste van die vorige geslag Slambee’s wat gaan. Nou is Piet en sy jongste broer as enigste oorlewendes van die gesin, die oudste geslag van daardie familie.

Piet slag sewe skaap vir die begrafnis-ete. Elke aand van die week vind daar roudienste by Piet se huis onder ‘n afdak van skadunet en seile plaas. Beurte word geneem deur die VGK, waar Piet lid is, en ander gemeentes vanuit die woonbuurt waarvan baie vriende en familie lede is. Tot laat word daar gepredik oor ‘n mikrofoon, gesing, hulde gebring. Geen moeite of koste word ontsien nie.

Vir die begrafnis maak Piet en sy familie gebruik van T J Ondernemers van Upington. Dis 260km hiernatoe om die begrafnis te onderneem. Om half 9 kom die imposante lykswa statig in die straat af met Ta’ Mietjie se kis in lamfer gedrapeer bo-op ‘n sleepwa. ‘n Groot luidspreker op die sleepwa, tussen wapperende vlae, speel luid musiek van ‘n koperblaasorkes; Nader my God by U. Amazing Grace. Die familie en gaste vergader by Piet se huis. Daar vind eers ‘n besigtigingseremonie plaas onder die afdak.

L1200801

Dan val die prosessie in. Voor die lykswa loop die kerkraad van die VGK. Die lykswa is blinkskoon en statig. Nou is die luidpreker nie meer deel van die lykswa nie. Agter die lykswa volg Piet, sy vrou, sy broer en dié se eggenoot en die kinders wat die afstand van 1,3km begraafplaas toe aflê. Dan volg die motors. Dis ‘n lang stoet want mense kom van heinde en verre; Altantis, Kaapstad, Lamberstbaai, Upington, Watervalboven, Kimberley, Klerksdorp, De Aar, Ceres, Marydale, Kenhardt, Citrusdal.

L1200811

Dis ‘n lang en uitgerekte begrafnis want daar is baie om oor Ta’ Mietjie te sê. Baie huldeblyke word gelewer.  Ta’ Mietjie se eerste graf, langs dié van haar man, het verlore geraak.  ‘n Tweede graf is later vir haar gekoop maar ook dié se papiere kon nie opgespoor raak nie. Die graf wat vir haar gereed gemaak word, kan mens sê is al 3 keer betaal.

L1200825

Intussen is die drie vroue wat verantwoordelik is vir die begrafnis-ete, pal besig by die oop vuur onder die peperbome langs die huis. Sewe yslike ysterpotte staan op die kole en die stoom bol bo-oor die potte. Hulle weet nie hoeveel monde moet kos kry nie, hulle weet net dis baie. Meer as 150 mense.  Polistreen houers is aangekoop waarin geskep word as die eerste gaste net na eenuur terugkeer van die begraafplaas. Vir elkeen is daar ‘n ruim porsie skaapvleisbredie, met wortelstew, kool en stampmielies.

L1200820

Met die laaste gaste wat vertrek, begin die manne weer die skadunetkonstruksie en die seile aftakel.

Alles is verby. ‘n Weeklange rouproses en huldiging kom tot ‘n einde. Almal keer veilig terug van waar hulle gekom het waaroor Piet en Koba die Here baie dankbaar is.

Ta’ Mietjie is met trots en waardigheid weggelê.

 

Die Halfpadboompie

Presies halfpad tussen Vanwyksvlei en Carnarvon staan ‘n Kameeldoringboompie. Vasie sê solank hy kan onthou (en dis al oor die 70 jaar) staan daardie boompie maar daar en lyk hy vandag nog presies soos weleer.

L1200794

Hierdie is nie eintlik Kameeldoringwêreld nie. Hulle staan statig, sterk en stewig die hele Kalahari vol. Maar van Vanwyksvlei af Upington toe oor Kenhardt, sien mens net hier en daar een op ‘n plaas wat aangeplant en opgepas is. Eers anderkant die Latrivier begin mens die Kameeldorings rêrig opmerk.

Vasie sê daar word vertel dat die halfpadboompie daar ontkiem het uit die mis van osse wat desjare nog waens getrek het van doeriekant af suidwaarts. Presies halfpad tussen Vanwyksvlei en Carnarvon, 40km van ons af, is die osse kans gegee om te rus. Uit daardie mis verrys ons halfpadboompie.

Dat die halfpadboompie dit oorleef het tot nou toe, is nie per toeval nie. Vasie sê daar moes al woes baklei word vir sy voortbestaan as werkers uitgestuur is om Prosopis te gaan uitroei – ‘n doringboompie is mos ‘n doringboompie …

Tog het ons boompie bly voortbestaan ten spyte van aanslae van droogte en meer. Dalk om vir ons elkeen ‘n boodskap in te hou in Peter Blum se woorde:

…Want wat is ons? ‘n Boompie

Oop vir enige wind – vir enige meslem

Kerfbaar die bas; maar as die helderheid kom en

Jy dit gee, is daar skyn van lig op

Mense en dinge, hulle lewe is heerlik

 

Hoe staan hierdie boompie darem nie vir ons Vanwyksvleiers in die teken van ontbering nie. Ons kan elkeen met hom identifiseer. Vars melk is net soms hier beskikbaar – as daar ‘n koeitjie in die omtrek is wat melk gee. Vars groente is raar. Groentetuine het ons nie in die dorp nie – daarvoor is water te brak en te skaars. Winde en lemme kom ons almal maar by wat ons maklik kan kwes. Kan kerf. Storms wat kom en gaan – nie dié soort wat reën bring nie. Maar tog laat skyn mense hulle lig helder  in hierdie ongenaakbare deel van die Bo-Karoo.

Acacia erioloba. Lyk hierdie doringboompie se sade nie ook vir jou nes oorlobbe nie?

L1200841

Waar die Karoo ingeneem word  deur  Prosopis, is ‘n kosbare Kameeldoring dit werd om opgepas te word.

Veral een met ‘n storie. Met ‘n boodskap.

P1270036

Die wit koevert

Bestaan  daar ‘n barometer vir ware vriendskap? Elke mens het seker sy eie een. Ons s’n is ‘n wit koevert.

Gereeld lê die groot wit koevert  in ons posbus. Propvol uitknipsels uit die Beeld. Al sedert 2012.

L1200715

Daar was ‘n tyd in Lyttelton toe ons Vriend Bauer se Beeld met hom gedeel het. As hy klaar gelees het, kom druk hy die koerant in ons heining of in ons posbus.

In 2012 verkas ons uit Pretoria vir ‘n sabbatstyd van 9 maande – eers Kalahari toe, daarna Boemanland toe. Beeld volg ons – of liewer, dele van Beeld. Netjies uitgeknip en versamel in ‘n groot wit koevert. Aanvanklik aangestuur na die adres in Upington van ons plaasvrinde van Askham, waar ons ons vestig. Later na die adres in Loeriesfontein van ons plaasvrinde aldaar.

Soos ‘n gelukspakkie. Elke oopmaak van daardie koevert is ‘n verrassing. ‘n Vreugde.

Ek soek eerste al die Donderdagrubrieke uit van Annemarie van der Walt. Daar’s Blou Willems en Wilhelm Jordaans. Daar’s Piet Matipa’s en Ivor Price’e. Elise Tempelhoffs en Petro Hansens.  Maretta Bellingans en soms ‘n koddige spotprent. Redaksionele kommentaar van belangrike gebeure is versamel. Interessante artikels bygevoeg vir genot. Sport-, veral rugbybrokkies. En dan altyd ‘n kopie van Sondag se blokraaisel uit Rapport. Poeding.

En dan soms iets vanaf die tuisfront in Lyttelton. ‘n Begrafnisbrief van een van die gemeentelede uit ons vorige gemeente, Lyttelton-Oos – Ds Freddie of tannie Rachel; Christina Landman se ma. Of, soos onlangs, Johann Botha, wat graag Vanwyksvlei besoek het, se begrafnisbrief. Iets  wat ons sal raak om te sê ons word nog ge-ag as deel van daardie gemeenskap. Ons word nog op hoogte gehou.

L1200717

Mens kan ware vriendskap aan baie dinge meet. Die gereelde oproep as jy verjaar. ‘n WhatsAppie uit die bloute. ‘n Sondagaand langafstand oproep. Daardie onmenslike afstand vanaf Jongensfontein of Bettiesbaai of Askham of Wellington of Pretoria of Durban of Somerset-Wes of Parys, al die pad Vanwyksvlei toe om te kom kyk hoe leef die Smitte.

Of jy meet dit aan die gereelde ritme van die wit koevert in ons posbus.

Dankie Johan Bauer.

Deelname doen dít:

Nes die ylwordende platteland, is ons gemeenskappie (lees gemeentetjie) in Vanwyksvlei ook besig om al dunner en minder te word – kompleet soos oumenshaarverliessindroom

Dan gebeur daar een keer elke jaar ‘n kerkbasaar.

I define connection as the energy that exists between people when they feel seen, heard, and valued; when they can give and receive without judgement; and when they derive sustenance and strength from the relationship”  lees ek in Brené Brown se boek The Gifts of Imperfection.

Dis wat die kerkbasaar regkry.

Ver meer as die bedraggie wat ons skraal gemeentetjie kan insamel tydens ‘n basaar, is die versterking van verhoudinge onder lidmate. Van bande wat weens die druk om te oorleef al begin-begin uitrafel. Van ‘n al groterwordende drag wat enkelinge moet dra omdat die somtotaal van moontlike deelnemers besig is om angswekkend vinnig minder te word.

Om saam te sweet. Om saam vir ‘n hele dag te staan en vleiswerk. Om saam tot diep in koue nagte te verpak, te merk, te weeg, te prys. Om saam sat te word vir sukkel. Om saam te skater vir kwinkslae. Om saam hartseer te raak oor ons vir Oom Gertjie en vir Mike opnuut mis. Om saam ‘n remenissensie op te roep oor vanmelewe se basaars. Om saam weer jou gemors op te ruim …

Om die laaste baksel uit te keer van maandelange gebak aan beskuit en koekies. Om te besin oor die saal se uitleg – watter stalletjie waar sal wees. Om donkeroggend alweer die eerste pannekoekbeslag in sissende panne neer te laat. Om kratte vol verwerkte vleis in te dra saal toe. Vure vroegoggend brand te steek vir braaivleis. Dosyne bakkie basaarpoeding uit te skep. Servette te vou en teegoed reg te sit

Tafels uit te pak met gebak, gebottel, gebrei, gehekel, gedroog en gestook. Kookwater te laat sing ter lafenis.

 

Dan word die opening amper soos ‘n afsluiting – die werk is reeds volbring. Dan word gesien hoe al daardie voorbereiding binne ‘n paar uur omgesit word in dienslewering aan die gemeenskap (wat net so noustrop trek). Hoe elke offer ingelruil word vir munte en note waarmee vorentoe fyn gewerk moet word  om die gemeente se voortbestaan te waarborg.

Dan sink dankbaarheid in. Want energie uit alle oorde word sinergie. ‘n Nuwe konneksie kom los. Mense kan gee en ontvang sonder oordeel. Mense voel weer nuttig. Hulle waarde kry ‘n hupstoot. Hulle voel weer raakgesien vir dít waarmee hulle goed is. Hulle ywer en hulle geld kan weer ‘n sinvolle bydrae maak tot die gemeente se voortbestaan.

Deelname doen mos dit.

Bull Run, hou ons dop!!

Die Wondergenesing van Marie Vermeulen

In die Karoo is ‘n plaashuis sonder ‘n aga so ondenkbaar soos ‘n klok sonder ‘n klepel. Elke plaaskombuis het een. En elkeen word al van vroegwinter af brandgesteek en gloei letterlik die hele winter deur. ‘n Ketel  word net nadergetrek en sommer gou is daar kookwater vir ‘n lekker koppie koffie.

6047fd28fd9766faded0e1675d2321d3

Op Bloubos probeer Daniël en Marie die aga brandsteek. Met Oupa Daan se afsterwe en die lang tyd wat daar nie op die plaas gewoon is nie, het die stoof vir lank nie gewerk nie. Gewoonlik word ‘n blikkie met brandspiritus in die stoof geplaas en so word die stoof brandgesteek. Maar die brandspiritus wat hulle laas by die Pakistan se winkeltjie gekoop het, het g’n fut nie – hy maak nie hond haar-af nie.

Laatmiddag, toe dit lyk asof die aga steeds nie gevat het nie, probeer Marie weer. Hierdie keer gebruik sy ‘n nuwe bottel brandspiritus wat Daniël by die koöperasie gekoop het. Wat Marie nie opmerk nie, is dat daar ‘n klein kooltjie in die blikkie is. Met die uitgooi, spring daar ‘n vlam en die hele bottel spiritus ontplof in Marie se hand. Die brandende spiritus spat oor haar gesig, teen die mure, gordyne, kaste. En orals brand dit.

Die geluid van skroeiende hare, die lekkende vlamme teen alles in die kombuis, die futiele pogings van haar en ou Sara om die vuur te blus is ondenkbaar. Die vlamme weier om te bedaar. Uiteindelik geblus, met al die skok en skade rondom hulle, besef Marie dat sy die volle aanslag van die vlamme in haar gesig gekry het.

Sy loop heel kalm terug van die spieël af om die histeriese Sara te probeer kalmeer. “Toemaar Sara, kyk ek is oraait, als gaan oraait wees, ek gaan nou loop hopsitaal toe en dan gaan die dokters my sommer mooi fix, moenie worry nie.”

Daniël, wat die lawaai en geskreeu in die kombuis gehoor het, kom by die agterdeur in. Sien tot sy ontsteltenis die skade van die vlamme. Sien vir Marie! Toe huil Marie. Nie oor pyn of oor haarself nie, maar oor die twee rooi fluweel hartjies wat teen die muur gehang het wat verskroei het. Hulle was so mooi …

Daniël het  Marie in die kar en hulle jaag die 20km Carnarvon hospitaal toe. Drie kilometer verder skop die pyn in. Marie beskryf dit as ‘n pyn gelykstaande aan kookolie wat heeltyd oor jou gesig uitgegiet word. Dis ondraaglik seer. Nie eens haar begreekte rugwerwel van 2 jaar tevore toe die bakkie gerol het, is so seer soos hierdie aanhoudende brand wat voel asof dit al dieper en dieper haar vel inbrand nie.

Marie neem ‘n selfie van haar geskende gesig en stuur dit aan almal op haar adreslys: “Ek het my gesig lelik verbrand. Bid asb vir my.”

18555976_10154681829487183_7864991825185093654_n

Marie, borrelende Marie het die wysheid om hulp op die regte plek te vra. Min mense het dit. Baie mense beskou dit as ‘n swakheid, as dwaasheid, as ontoereikendheid om te erken dat jy hulp nodig het. Nie Marie nie. Sy steek nie haar weerloosheid weg of skerm agter ‘n masker van ‘vrolikheid’ nie. Wat jy sien, is die ware Marie.

By die hospitaal, behandel die dokter haar met groot simpatie. Al die dooie vel word van haar gesig verwyder. Dik salf word aangesmeer en haar hele gesig word verbind. Hierdie proses word elke oggend vir die volgende week herhaal. Na daardie eerste nag is haar oë toegeswel. Sug begin syfer uit elke brandplek op haar gesig. Waar dit droog geraak het, moet verbande losgetrek word. Dis elke oggend ‘n pynlike herhaling. Maar elke oggend word sy dik met salf gesmeer en weer toegebind met verbande.

18491413_10154684736907183_7189671185401319963_o

Sy datteer elke dag haar vordering op en deel dit, soos net sy kan doen, met almal wat vir haar bid – met al die nodige positiewe verslae van hoe goed dit gaan en goed die Here vir haar is. “Ek gaan ‘n splinternuwe velletjie en hare kry. Hierdie is ‘n hele extreme make-over.”

In The Healing Power of the Healthy Mind gaan slaan ek hierdie woorde na: “This inner climate – this positive approach to life – actually contributes to a swifter healing from the emotional punches life throws.” Dis Marie Vermeulen!

Op die sesde dag na die ongeluk, maak die dokter die verbande oop. Hy kan nie glo wat sy oë sien nie! Marie se gesig is ‘n wonderwerk. Die genesing is fenomenaal!

18739889_10154705456782183_890381650322840895_n

Van toe af, smeer Marie elke aand haar gesig met weefselolie van die befaamde rooibostannie in. En elke oggend staan sy verstom oor die verbetering wat oornag ingetree het. Sy deel haar vordering met almal wat haar ken met dankbaarheid vir elkeen se meelewing en gee onbeskaamd al die eer aan die Here.

Net 23 dae na die ongeluk rapporteer Marie haar genesing aan die wêreld met die nodige before en after foto’s.

19029503_10154748978537183_4252916508650034337_n

En ek dink weer aan wat ek gelees het in The Healing Power of a Healthy Mind: “Healing, whether it is accomplished by prayer, medicine, surgery, vitamins, exercise, or telling yourself the truth, is God’s work.”

Volie van Geelie kerk

Bedel betaal nie meer nie. Nuwe inisiatiewe is nodig om iets vir ‘n honger maag te kry.

Daagliks. Daagliks is hulle hier by die voordeur. Lui die klokkie. Nie een keer nie. Elkeen in die groepie kry ‘n beurt. Is dit ‘n wedywering? Om te sien wie se drukkie van die klokkie gaan die doemenie of sy vrou voordeur toe lok?

Soms is die gesiggies so pateties dat ek nie anders kan as om te gee nie. Al weet ek ek sterk hulle in hulle kwaad. Maar êrens moet mens hierdie onding in die bek ruk. Hulle kan nie al van so klein af hierdie euwel aanleer nie!

20160630_162546

Op ‘n stadium het ek  gevra of hulle vir my kom sing as ek die voordeur oopmaak en ‘n kleine skare staan daar in afwagting. Gou word dit toe die nuwe tendens. As die klokkie lui: “Ons kom vir doemenie sing.” Dan val hulle weg met: “Anda Hies blad, fô-êwwer unda Hies blad …” of “Hy hou die jille wêreld, in sy hand …” vir ‘n aalmoesie of wat.

Gee jy vir die viertjies by die voordeur ‘n droë perske of ‘n koekie, dan peul daar 10 ander agter die boom uit wat in afwagting (met minder bravade) staan. Deesdae loer ek eers om die hoek om te sien hoeveel onse is dié keer in die pond voor ek spens toe loop.

P1430207

Die tyd wat ons weg was vir Ma se verjaarsdag, het hulle blykbaar agtergekom dat hulle die duiwe wat in die hoenderhok vasgekeer word, kan vang. Totdat Johan hulle in die hoenderhok betrap. Onder die indruk dat hulle hoenders of eiers kom steel, trek hy enetjie vas. Gee dit toe nou vir jou ‘n geskrou af! Totdat dit hortend en stotterend uitkom dat hulle agter die duiwe aan is. Dan breek alle skanse en hardvogtigheid maak plek vir deernis.

L1180136

Soggens is daar ‘n voedingsprogram by die skool. Maar nie almal wat kom bedel gaan skool toe nie. Dus moet daar ander inisiatiewe aan die dag gelê word om die doemenie sover te kry om te gee. Tref Johan drietjies by die voordeur aan met ‘n verfrommelde potloodlysie in die vorm van ‘n kollektevorm. “Dis vir die loop, doemenie.”

“Watse loop?”

“Doemenie moet R4.00 betaal want ons gaan stap” en hulle beduie waar hy sy naam moet inskryf as borg vir wat-ook-al hulle gaan stap.”

“Wie reël dit?”

“Die kerk doemenie.”

“Watter kerk?”

Enetjie stamp aan Anderenetjie: “Watter kerk is julle nou weer?”

Johan verduidelik aan hulle dat so ‘n lysie geen krag dra nie. As die kerk so iets organiseer, sal dit ‘n amptelike getikte lys wees van die Kerk.

Druipstert is hulle daar weg.

Vanmiddag terug. Die krag is af. Die deurklokkie wil nie lui nie. Maar hulle word nie van stryk gebring nie. Nie met so ‘n gawe plan nie. Roep en roep tot ek kom oopmaak. Oorhandig aan my die lys vir die loop wat doemenie gister gevra het:

20170621_175949

Vinnig Op Pad Na Haar Honderdtal

L1200127 (2)

 

“Ek was honger en jy het my gevoed, in die siekeboeg en jy het my kom besoek. My voete was met vislyn verstrengel en jy het dit losgeknip, ek het ondersteuning nodig gehad en jy het my bemoedig.”

Dis die woorde n.a.v. Matt 25 waarmee Broer Bingle sy toespraak oor Ma Chrissie afsluit tydens Saterdag se feeviering.

P1430093

Boet Bingle Ferreira aan die woord

En ek kan byvoeg: Ek is onregmatig besoldig en jy het vir my opgekom by die raad. Ek was onmagtig om my kinders in ‘n skool te kry en jy het vir my toegang bewerkstellig. Ek was werkloos en jy het vir my iets gereël …

Ma word 90. Ons baie spesiale ma met die positiewe ingesteldheid, dankbare hart, wydbelese gees, onwrikbare geloof, fyn waardering vir elkeen se uniekheid, kenner van poësie en literatuur, politiek, sterre, kruie. Wat elke dag vars groente uit haar tuintjie eet. Wat steeds kook en hekel en blokraaisels invul. Wat nog tuinmaak en flink kan beweeg. Wat haar ontferm oor elke hadedah, eend, kolgans, skoorsteerveër wat hier nesmaak. Wat presies weet wanneer Venus  of Jupiter oggend- of aandster is. Wat die afgelope 16 jaar na Pa se dood in Groen Wilgers ‘n lewe van eenvoud en dankbaarheid uitleef.

Al haar kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders, skoonfamilie en vriende  trek saam om dit te vier.

P1430174

Ma Chrissie met ‘n klompie van haar 22 agter-kleinkinders

 

Soos die befaamde A-team kom ‘n plan bymekaar. Vanuit Parys bring een bondels helium  balonne en tafelnommers.  Vanuit Roodepoort kom ‘n ander met stapels kolwyntjies. Vanuit Pretoria word ‘n meesterstuk van ‘n feeskoek,  versigtig verpak, staangemaak. Vanuit Upington pakkies tuisgebakte koekies vir elke sitplek. Vanuit Muizenberg  ‘n kaartjie met tamatiesaad (ter herdenking van Ouma met haar ewige groentetuin) as aandenking by elke tafelpasing.  Tafelrangskikkings word afgelaai – geprakseer in  karakoere, opgetel anderkant Hoopstad op pad fees toe. Tafelplasings, mooi afgedruk met die vetplanttema, word opgeplak. Naamkaartjies by elke gedekte plek. ‘n Gedenkalbum waarin elkeen ‘n boodskap kan neerskryf.

Familie en Vriende van oral – Durbanville, Betlehem, Bela Bela, Wellington, Durban, Delareyville, Potchefstroom – omhels mekaar. Kamera’s flits en elke denkbare oomblik word vasgevang.

P1430083

 

Ma, wat na haar huwelik met Pa, op 22 vir Ousus Wilma in ‘n grashut in Rhodesië grootmaak terwyl Pa ‘n boormasjien bedryf, wat as skoolsekretaresse in Barberton saam met ons skoolbus ry vanaf Consortmyn, wat later jare bekwaam funksioneer as die sekretaresse van die burgemeester in Orkney  en uiteindelik aftree as die sekretaresse van die rektor van POTE, kry ons al vyf groot en geleerd te midde van swaarkry en armoede.

Ons vier haar lewe terwyl sy nog deel is van ons groot familie. Ma het net dankbaarheid op die hart teenoor almal wat sy in haar toesprakie puntsgewys  opnoem. Dat sy in ‘n knus  plekkie op die walle van die Mooirivier kan woon, dat haar maandelikse heffing stiptelik betaal word, dat sy ‘n goeie medies het, dat sy goeie oogsorg geniet, dat sy daagliks ‘n BEELD ontvang en maandeliks ‘n WEG in haar pos kry, dat alle onderhoud aan haar woonstel gedoen word, dat sy gereeld winkels en dokters toe geneem  word, dat kinders en klein-kinders gereeld haar bel en by haar kom inloer.

P1430137

Ma aan die woord met haar dankbaarheidsrede

Leo, oorlede Pa se eerste naamgenoot is ‘n bekwame meester van ons seremonie. “As Malusi Gigaba ons minister van finasies kan wees, kan Frits seker vir ons die seën vra” kry hy ‘n lae hou in na sy broer wat sonder sigbare stoornis dit bekwaam doen.

P1430085

Leo Kok aan die woord

Soveel inisiatief wat agter die skerm vorm aangeneem het, maak hierdie feestelheid moontlik. ‘n Buffet-ete is vir ons aangelê by Parys Gholfbaan se restaurant. Laat ons feesvier in die oortreffende trap voordat ‘n oop graf ons saamdwing.

Vanoggend skryf sy op die bord in die oord se portaal:

Die las van jare, ouderdomsverdriet

– Die kers wat uitbrand tot die blaker-blik –

Skenk my geduld om dit te dra, verkwik

Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.

 

Laaste strofe van Kersnagvers

deur Louis Leipoldt

Uit Die Braambos Brand