Mike se klipskerm

 

Terwyl die eerste volmaan van 2017 oor Vanwyksvlei bo ‘n dik bank wolke uitbeur, strooi Heila en haar familie Mike se as by sy geliefde klipskerm op sy plaas Goeiehoop – die plaas wat hy so hartstogtelik liefgehad het.

img-20170113-wa0001

Mike se geliefde grond op Goeiehoop

 

 

Vanoggend gedenk die dorp Mike se lewe. Op versoek word Amazing Grace gespeel, soos gesing deur Nana Mouskouri. En daar is vir my op ‘n manier ‘n sterk ooreenkoms tussen Mike se lewe en John Newton s’n – die skrywer van die lied wat eens ‘n slawehandelaar was en God nie geken het nie. Want Mike het ook eers ander paaie geloop voordat hy sy God leer ken het. Het ook in die spreekwoordelike gutter beland; sonder werk en sonder blyplek. Oorleef van ‘n broodjie wat ‘n kleurlingvrou elke dag vir hom gebring het en so geleer het wat genade beteken.

20170113_110052

Op nuwejaarsdag sit Mike en Heila voor my in die kerk. Johan praat oor Appie wat op nuwejaar sou verjaar en nie meer met ons is nie. “Ons weet nie een of ons volgende jaar nog hier sal wees nie” is Johan se woorde. Presies ‘n week later sterf Mike Holtzhausen aan Kongokoors.

Toe ons Mike die eerste keer ontmoet, steek hy sy hand uit na Johan. “Ek is nou nie juis ‘n gereelde kerkganger nie, Dominee” was sy woorde. Want kerkgang was nie vir Mike gelykstaande aan godsdiens nie. Sy godsdiens het hy uitgeleef deur om te sien na mense wat nood het. Sy bakkie vol groente vanaf die plaas in die gange getrek en uitgedeel. Uit sy vrieskas gehaal en gesorg dat die mense hoër op in die straat kos het. Want hy was ook eens dáár waar hy nood goed leer ken het. Mike se godsdiens was ook om hom te onttrek na sy geliefde klipskerm om met sy God te gaan praat. Versterk teruggekom na sy afsondering met sy Heiland.

Vroeër jare het Mike en Heila die hotel op Vanwyksvlei bedryf. ‘n Kranige kok was hy. Mike het Heila (toe reeds weduwee na haar eerste man se dood) op die dansbaan ontmoet – het graag vertel hoe lekker hulle twee kon dans. Mike het ‘n pa geword vir haar kinders en ‘n geliefde oupa vir hulle kleinkinders. Hulle was 14 jaar getroud

img-20170113-wa0003

Heila met al haar kinders, Mike se kinders en hulle kleinkinders

 

As Mike jou genooi het vir ‘n braai, moes jy jou regmaak vir oordaad. Met hout was hy nie suinig nie en nog minder met vleis. Hy’t geweet hoe om ‘n vuur te maak, kole te lees en hoe om te BRAAI.

“En toe los Meneer Mike ons” vertel ‘n werker in die dorp van Mike se dood. Want wie het hom dan nié geken nie. Groot ou Mike met die klein-klein hartjie. Mike wat met sy bulderende stem in g’n onduidelike terme iemand presies die leviete kon voorlees as hy sou droogmaak. Mike wat vir jou kanne vol lekker windpompwater vanaf sy plaas voor jou deur kom los. Mike wat saans op sy staptogte in die dorp aandoen by hulle wat hy weet alleen is – met sy stapstok aan die venster kom tik net om te kom hoor of als reg is. Of die vreemde kar wat voor die huis staan kennisse of indringers is. Wat net gou kom inloer om te hoor hoe dit gaan.

Dat ‘n klein, rooi bosluisie so ‘n groot, sterk man se lewe so vinnig kon wegvat!

Mike, daar het ‘n yslike sinkgat ingeval in Vanwyksvlei. Een wat nooit opgevul sal kan word nie. Nie eens met al die baie klippe van jou klipskerm nie.

Advertisements

FRANKESKOP

‘n Baken in hierdie geweste is beslis Frankeskop. Ook verbeeld op die destydse skoolwapen.

 

Frankeskop staan gedeeltelik op die plaas Môreson en die plaas Frankeskop. Bo-op die kop is ‘n goewermentsbaken. Die kop is 1122m bo seespieël. Breedtegraad: -30°27’33.76″
Lengtegraad: 21°49’27.55″ . Nie so hoog nie maar so styl.

Omdat Francois en Mara Augustyn, aan wie Môreson behoort het, besig is om op te pak om Henneman toe te verhuis, het ons ‘n ooreenkoms met hulle vasgemaak om nog vir oulaas die kans te gebruik om Frankeskop te gaan klim.

Daardie geleentheid doen hom toe voor Sondag na kerk. Willie Goussard, Francois se neef en sy gesin van Jeffreysbaai kuier vir oulaas op Môreson. Frankeskop gaan vandag geklim word. Ons is deel van die span.

Frans ry met ons tot waar die pad ophou. Hiervandaan moet ons klim. Hy en die krukkelys maak solank gereed vir ‘n braai aan die voet van die kop vir wanneer ons terugkeer van die bopunt af.

Aan die voet van Frankeskop kan mens orals versteende boomstompe raakloop. Wonder watter tiepe bome dit was? Wat het hulle laat versteen? Hoeveel eeue gelede se bewyse van lewe lê hier rond? Alhoewel, my geoloog seun meen dis  nie boomstompe nie, dis dolomietformasies – al is dit nie bekend dat daar dolomiet in die Karoo aangetref word nie.

Dis ‘n stywe klim, veral die laaste gedeelte tot bo. Daar het die aarde sy oppervlak verander na los leiklipagtige gruis, wat mens baie in hierdie geweste aantref. Net soos by Van Ryhnspas en by Taaiboschoek naby Loeriesfontein. Maar daarbo moet mens vasstrap. Soms voel dit vir jou jy gly verder terug as wat jy vorder. So, mens vat hom maar al teen die skuinste op in plaas van direk na bo.

Maar o! Om daarbo te kan staan en reg rondom jou te kan uitkyk na die verste ver horisonne. Wat ‘n belewenis. Na die westekant toe lê Vanwyksvleidam uitgestrek en die dorpie na sy noordekant saamgekluister teen die voet van Krismiskop.

20160501_131513

Lyndrade lê soos liniaalstrepe oor die gebied. Plaasopstalle wydgestrooi en herkenbaar van daarbo af – Kwaggakolk, Platdam, Smouskolk, Kromvlei, Tienpond, Gannabos.

Lae en lae grys leiklip gesteentes lê losgebreek en verstrooi op die bopunt. As jy jou verbeelding gebruik, kan jy met hulle skryf…

20160505_153357 (2)

Daar is geen Geocaching op Frankeskop nie. Daar was egter vroeër ‘n bliktrommeltjie met ‘n register vir besoekers by die goewermentsbaken geplaas. Maar daarvan is daar geen teken meer nie.

Die afklim is nie makliker as die opgaan nie. Mens moet jou stewels stewig plant of sommer jou bodem gebruik om nie balans te verloor nie. Die trekpleister is daai stewige steaks wat Francois op die kole het. Dun repies gesny word dit die voorgereg.

Die oudste persoon wat glo Frankeskop uitgeklim het, is Tannie Gertie Goussard – einste Willie se ma. Sy is 72 toe sy Frankeskop uitklim. Nogal met ‘n paar sandale …

Op Soek na sy Wortels

 

Kobus en Nanette Victor reis deur Vanwyksvlei op pad Merweville toe. Hulle gaan die jaarlikse dankfees by Merweville se imposante NG-kerkgebou bywoon waar Kobus se oupa en ouma aan sy pa se kant boorlinge was. Sy oorgrootjie, Cornelius Petrus Snyman is derjare die voorsitter van die koopkommissie wat die grond vir die nuutgestigde gemeente, waar hierdie kerkgebou tans pryk, moet aankoop. Die oorgrootjie se kleindogter, Catharina Dorethea, word Kobus se ouma aan sy pa se kant toe sy in die huwelik tree met Jacobus Adriaan Victor.

20160502_131313

Merweville se imposante kerkgebou

 

Maar Kobus soek sy ma se wortels in Vanwyksvlei waar sy grootraak – dit is die storie waaragter hy hier in Vanwyksvlei is.

Sy ma is ‘n nooi Esterhuizen. Die eerste kind van Charl Esterhuizen (uitgespreek ‘Sarel’) en Johanna Catharina ( nee Le Roux, bekend as Nonna). By sy ma se geboorte, sterf haar ma. Dit is 2 Maart 1921. Kobus se ma, ook Johanna Catharina Esterhuizen, word aangeneem deur haar grootouers Le Roux wat haar hier op die lande grootmaak. In die doopregister kan ek nie haar naam opspoor nie. Moontlik word sy in Willeston ten doop gebring waar haar eie pa woon.

Al is hulle haar grootouers, praat sy al die jare van hulle as haar ouers. Kobus word groot met die gedagte dat sy grootjies van Vanwyksvlei eintlik sy ouma en oupa is.

Kobus se ma – Johanna, soos sy bekend staan – gaan skool op Vanwyksvlei tot standerd 8 en matrikuleer in Carnavon. Die storie loop dat haar oorlede ma se broer, Koos le Roux, en se swaer Japie Esterhuizen haar al die jare op skool hou het omdat die oupa en ouma dit nie breed het nie.

Sy word aangeneem op 3 September 1938 en voorgestel op 28 Oktober 1938 deur Ds. B.H. Visser hier op Vanwyksvlei .

L1130271

Tannie Johanne se naam in die lidmaatregister – aangeneem en voorgestel

Na matriek gaan werk sy in Merweville by die poskantoor. Daar sien Kobus se pa, Joachim Jan Hendrik Victor, haar raak en die twee trou op 5 April 1944 hier in Vanwyksvlei in ons einste kerkgebou.  Die enigste getuie aan Kobus se pa se kant by die plegtigheid  is sy neef Abraham Victor wat al die pad vanaf Merweville met ‘n stoomaangedrewe motorkar hierheen reis.

Die nuwe egpaar Victor gaan woon en werk in Carnarvon, waar Kobus gebore word in 1945.

Die enigste persoon wat nog die familiegeskiedenis ken hier op die dorp is Marie Esterhuizen van Platdam. Sy is ‘n skoondogter van ‘n suster van sy ma se ma wat getoud is met ‘n broer van sy ma se pa, ene Japie Esterhuizen van Platdam – twee susters wat met twee broers getroud is.

Marie is al vir 27 jaar weduwee en bedryf nog steeds die plaas Platdam op die ouderdom van 79 met die hulp van Gert, die plaasvoorman. Sy en Kobus lê die geskiedenis uit.

20160428_162249_1

Kobus en Marie – haar skoonma was Kobus se ouma se suster

 

Kobus se ma se eie pa, Charl Esterhuizen, is weer getroud en daar word vier kinders gebore uit daardie huwelik. Met hulle behou Kobus se ma nie dieselfde kontak as met Kobus se pa se familie nie. Gevolglik kos dit hom om na al die jare die geskiedenis hier op Vanwyksvlei te kom navors omdat dit nooit in haar jare oorgedra is nie. Sy is sowat 2 jaar gelede oorlede en is begrawe in Pretoria

Ons verbintenis met Kobus en Nanette strek al 34 jaar vanaf Maart 1982 waar ons mekaar leer ken op Katima Mulilo toe Kobus aangestel word as bevelvoerende offisier van 701 Bateljon in die Caprivi.

En hier, in die verlate Bo-Karoo, loop ons mekaar weer raak…

L1130202

Die Storie van die Konsistorie

 

Elke konsistorie het ‘n storie.

Ons storie begin met hierdie geelkoper deurknop – kompleet of jy ‘n storieboek oopslaan met die afwagting op wat daarbinne vir jou wag.

L1120848

Hoeveel keer is hierdie deurknop al die afgelope eeu oop en toe gedraai? Ek wonder, word hy nog blink gevryf met braso?

Elke konsistorie het gewoonlik ‘n kluis. Ons s’n dateer beslis uit die vorige eeu. Wens ek kon die som geld wat oor die jare heen hierin veilig bewaar is nou hier op papier geskryf sien staan. Dink net wat kan vandag met daardie bedrag in hierdie gemeenskap verrig word. Opsigself ‘n versamelstuk, hierdie eeu oue kluis, sou ek dink. In die heel eerste notuleboek staan daar ‘n besluit aangeteken tydens ‘n kerkraadsvergadering van 14 Mei 1917 dat ‘n kluis aangekoop sal word vir die kerk. Om te dink, volgende jaar staan hierdie kluis al ‘n eeu hier.

 

Hierdie silwer nagmaalbord lyk of hy iets oorgekom het, maar blykbaar moet hy so skeef staan vir makliker gebruik deur die bedienaar van die nagmaal. Is die hout hamer vir gebruik tydens vergaderings wat te vurig raak? Of met die verhoor van tugsake dalk? Of is dit maar net daar om aan te wend met veilings tydens ‘n kerkbasaar?

Wanneer laas is dié klavier bespeel? Kan my mos nie indink dat daar deesdae veel gesing word tydens ‘n kerkraadsvergadering nie. Bybelstudies en bidure vind in die pastorie plaas, nie meer in die konsistorie nie. Hoeveel kinders het dalk by hierdie einste klavier leste gehad? Ek speel ‘n paar akkoorde. Al die note klink nog, al is party bietjie stram en effe van die toon af.

Uit die houtplafon hang ‘n enkel gloeilamp. Sonder ‘n skerm. Na al die jare weer in die mode.

L1130019

In die hoekkas hang ‘n toga. Die plaatjie sê die kas is gemaak en geskenk deur Rina se familie van Springbokoog. Moet haar bietjie uitvra daarna…

L1120873

Twee ou Kanselbybels lê op die boekrak in die konsistorie. Die imposante eerste Kanselbybel met sy silwer klampe is “geschonken door de heer en mevr.  Vos” van Smouskolk in Des 1922.

L1120860

Kort na die eeufeesviering in 2012 verdwyn hierdie kosbare Bybel ampertjies uit die museum wat ingerig is met allerhande oudhede van gemeentelede. Glo reeds opgeskryf vir verkope deur die prokureur toe tannie Petro en haar oorlede man daarop afkom. Danksy hulle, besit die gemeente nog hierdie kosbare ou Bybel. Ongelukkig reeds bygekom deur ‘n vismot of twee.

Die jonger Kanselbybel, ‘n geskenk van die Rousseau’s van Gansvlei is 3 weke ouer as ek…

Elke konsistorie het egter nie meer deesdae kapstokke soos hierdie om hoede of kuile aan op te hang nie.

Kompleet soos die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word, hang daar ‘n galery van geestelike leiers se foto’s teen die muur in die konsistorie. Soos in elke ander konsistorie.

L1120837

Óns storie begin al in 1875, toe Vanwyksvlei nog as ‘n buitewyk van Carnarvon bedien word deur Ds W P de Villiers. Een na die ander pryk die geestelike leiers van die verlede teen die muur. Party werk vir jare hier, soos Ds. Brink wat vir 27 jaar lank, vanaf 1947 tot 1974 Vanwyksvlei as predikant bearbei. Die jongste twee van sy vyf sy kinders word hier gebore en groei op in Vanwyksvlei. Vandag nog het hulle almal ‘n baie nou band met die dorp en kan kosbare staaltjies uit hulle jeugjare vertel. Nie lank terug nie, lui die deurklokkie. Daar staan ‘n blondekop meisie wat vra of sy asseblief ‘n foto mag neem. Sy is in diens van die WNNR en doen ‘n impakstudie vir SKA in die gebied. Haar pa is in hierdie huis gebore en het hier opgegroei. Surina, stel sy haarself voor. “My oupa was lank die predikant hier.”

Ander se dienstydperk is maar kort, soos Ds. De Kock (nogal familie van Vasie de Kock) wat skaars 6 weke die gemeente bedien. Hy dien as voorsitter van slegs een kerkraadsvergadering, nl. die een gehou op 14 September 1946. Hy sterf skielik aan ‘n hartaanval. Op die kerkterrein staan ‘n gedenksteen op sy graf wat die gemeente vir hom opgerig het.

Die pa van die welbekende akteur Siegfried Mynhardt, Ds C F Mynhardt, se dienstyd strek hier in Vanwyksvlei oor 6 jaar; 1921-1927. Mevrou Mynhardt lê ook begrawe op die kerkterrein.

20160414_110329_4

Die gallery van geestelike helde eindig skielik by Ds Fransie Human in 2002. Wat sou die storie wees dat geeneen van sy opvolgers van die laaste 13 jaar se foto’s teen die muur pryk nie? Is daar ‘n storie agter hierdie storie?

Duisternis vs Lig

12042779_662960343841871_2165648036144952851_n[1]

 

 Met hierdie diep woorde begin die aangrypende teks van die Passiespel wat Mariëtte van Velden, Neelsie van Zyl en Jo-Anne Huizies op die planke bring. Die heel eerste multikulturele Passiespel waarvan ek weet waar daar van verskillende rasse- en kultuurgroepe gebruik gemaak word om die stryd tussen die Lig en duister uit te beeld. ’n Unieke kombinasie van hogere koorwerke, Afrika tromme, etniese danse, kletsrym en swaar tjello- en orrelmusiek.

Kinders uit die woonbuurt Mbekweni op die tromme, dansers van Rejoice dansskool in die Paarl, koorsang van Musica Kantory in Bellville, ’n fenomenale rapper van die Andrew Murray Sentrum in Wellington  en ’n proffesionele voordragkunstenaar is die kontrasterende bestanddele waarmee hierdie unieke Passiespel gebruik word om, buiten die herhaling van die eeuoue paasboodskap op ’n nuwe manier, ook brûe tussen kulturele, sosiale en denominale groepe te bou.

 

Meer as twintig jaar gelede, tydens hulle arbeid in die sendingveld in Malawi, lê Mariëtte snags en luister na die nagtelike tromslae. Een boodskap vanaf een gehuggie, word opgevang en verder oorgedra aan ’n volgende. Hier kry die konsep gestalte om die Christelike boodskap op só ’n manier, amper soos in morse kode, oor te dra. Sy begin die aanvoorwerk. As mens nie self kan nie, en nie fondse het om so iets te laat gebeur nie, reik jy uit na familie met gawes. So kry sy die teks geskryf deur Erika Ochse. Laat sekere dele deur die uwe oorskryf in kletsrym. Kry vir Tommie Ferreira as ’n komponis aan boord wat musiek kan komponeer wat die uiterse pynlike en eensame pad van die Verlosser deur swaar koorwerk, ‘n orrel en ’n tjello kan  uitbeeld.

Met die tyd ryp om brûe tussen kulture neer te lê, lanseer sy die projek. Neelsie Van Zyl begin die Kantory afrig. Elmien Thom stem in om die orrel te speel. Self kry Mariëtte ’n ritmegroep uit Mbekweni aan die gang. Tjellis Alma Coertzen deel in die begeleiding. Jo-Anne Huizies choreografeer danse op die ritme van tromme en kletsrym. Haar span dansers word saamgestel uit lede van haar dansskool en meisies uit die gemeenskap wat nog nooit voorheen gedans het nie. Sy improviseer selfs ‘n solodans as Maria.

12279060_662960767175162_8755794436872182632_n[2]

Jo-Anne Huizies as Maria

 

Jeanette Ingwerson, met haar dramatiese stem, kom aan boord om afwisselende dele van die teks voor te dra.

 

10258794_662960647175174_3533521525035622192_n[2]

Jeanette met haar  ryk, dramatiese stem.

Paul Lawrence, met sy liefde vir die saak, bly oor as die enigste rapper van ’n groep van vier. Met sy Engelse aksent, rap hy die Afrikaanse teks meesterlik:

580399_662960357175203_5525636305744838081_n[1]

 

1558568_662960433841862_7732046220715715642_n[1] 

10639396_662960493841856_8333127693356685059_n[1]

 

 Die voorbereiding word ’n groter brugbou-aksie as wat iemand kon voorspel. Want om proffesionele mense, wat net ’n uur in die week het om koor te oefen, en kinders uit ’n informele nedersetting op een verhoog aan een produksie te laat werk, word ’n groter uitdaging as wat enigeen kon voorspel. Dit vereis begrip vir mekaar se omstandighede. Dit vra geduld as die Afrika-horlosie anders aftik as die hoogs gesinchroniseerde, geprogrammeerde stadsproduk. Dit benodig geloof as hoofspelers kort voor ’n optrede belangstelling verloor en onttrek. Dit eis ongekende uithouvermoë om kinders uit verskillende skole af te rig, aan te ry, gemotiveerd te hou, te beloon. Dit soek gebedsgroepe wat konstant moet intree. Dit kos takt as misverstande opduik. Dit vereis visie om mense betyds op te kommandeer om kostuums te begin maak al is fondse skraal. Dit opsig self raak ’n styd waarin die duister werkliker word as wat mens wil voorgee.

20160320_201159_1

Die dansers wat die duister uitbeeld, dra swart mantels wat later verander in die hele spektrum van lig

Dan is daar nog elemente soos klank, beligting en choreografie, waarsonder so-iets nie aangebied kan word nie. Daar is reklame nodig. Borge word ’n noodsaaklikheid. Vrywilligers wat uit eie sak kan instaan vir die te ete en te drinke en te karweie vanuit drie verskillende rigtings tydens repitisies moet aanboord kom.

 

L1120551

Daar is altyd tyd vir sosiaal verkeer as almal smul aan die lekker kos waarvoor vrywilligers sorg.

Gelukkig speel lojale mense soos Adré Malherbe van Island of Hope in die Paarl ’n ongeëwenaarde rol. Met sy charisma kry hy mense aan boord wat in elke behoefte kan voorsien. Die ATKV en Drakenstein Munisipaliteit tree in as borge. Anonieme donateurs maak hulle beursies oop. Gemeentes koop in en bied geleenthede vir die ritmegroep om op te tree tydens eredienste om solank blootstelling te kry.

 

Iets begin gebeur wat groter word as die twee optredes wat geskeduleer is (Moedergemeente in Wellington en Welgemoed in Bellville). Mense begin begrip ontwikkel vir mekaar se omstandighede. Kinders uit ’n plakkers milieu kry blootstelling wat nooit sou kon gebeur nie. Deure gaan vir hulle oop. Verhoudings oor grense heen ontstaan. Kruiskultureel kom iets los. Mense beleef vir die eerste keer regtig die boodskap.

 

So laat die Lig deur die duister

Barabas vry

en word die Lig weggelei.

Skeur die gordyn en breek nou die deure oop

vir die fees van vryspraak

om almal na God se Lig te nooi

 

Van die graf en dood

bly net ’n wegrolklip,

’n doek wat eenkant lê!

 

EN DAAR  IS  LIG!

IMG_4699

Ek is bevoorreg om dit te kan beleef. Hoe al die dele ’n geheel word om die oorwinning aan die kruis dmv hierdie uiteenlopende genres uit te beeld. Die duister ís oorwin. Die Lig seevier. Bloot te oordeel aan die uiteenlopendheid van die gehore wat kom uit elke denkbare ras en kultuurgroep, is die sukses reeds sigbaar. En nou, meer as ooit tevore, moet kulture en klasse grense laat sak om brûe neer te laat sodat dié boodskap oraloor gehoor kan word.

Amptelik in die amp

Op 25 Januarie 1981 word Johan georden as predikant in die NG-Kerk. Sy ma het altyd gespot: “Die dag as jy predikant word, reën dit.” Daardie dag sak die reën uit en verspoel Laingsburg.

21 Februarie 2016 word Johan bevestig as leraar van Vanwyksvlei. Dis sowat 35 jaar en 6 gemeentes later. Dit lyk nie na reën oor die Bo-Karoo nie …

Ds Charl Janse van Rensburg van Vosburg neem die bevestiging waar as konsolent van die Ring. Van ons vriende en familie kan nie die geleentheid bywoon nie, maar die De Wets van Swartpan kom wys gesig op pad Jongensfontein toe en die Moutons van Brits stuur seënwense via die skriba.

L1120318

Ds Plantjie van Vosburg behartig die bevestiging

L1120260

Lekker om weer vir Nico en Manda De Wet van Swartpan te kon sien

Gesamentlik met die bevestiging word daar nagmaal gevier. Wyk 4 se bekwame boere sorg vir die ete daarna in die kerksaal. Tilla en haar helpers dek die tafels met styl en eenvoud. Maak kos uit die boonste rakke. Ons kuier en eet gesellig saam. Ons is nou amptelik deel van die gemeente op Vanwyksvlei. Ingeseën. Ingeburger. Hartlik verwelkom. Die lewe is mooi.

O ja, die groen tabbert is toe gemaak…

L1120363 (2)

Grond, water en vuur

P1380706

Die eertydse huise is almal gebou met modderstene wat met strooi gemeng is

Tydens een van ons oggendstappies, kom ek en Rina by die eertydse steengroewe uit aan die oostekant van die begraafplaas. Mens kan onmiddelik sien dat hier eens op ‘n tyd stene gevorm en gebak is. Rina vertel dat die grond aan oom Doupie behoort en dat Lionel, van die slaghuis, se pa die steenmaker was.

Ek spoor Lionel se pa op. George Adams maak nie meer vandag stene nie. Hy is ‘n pastoor by een van die Pinksterkerke in die woonbuurt, Die Herbouers, en verdien verder sy brood deur deel te wees van ‘n bouspan wat regeringshuisies oprig – of moet ek sê opgerig het, want sedert November 2015 gaan daar steed nog niks aan nie. En … geen werk, geen geld. Hy het so ver terug as 1975 by Oompie Mat Klein geleer stene maak wat in die meent sy steengroewe gehad het. Al Copperton se huise is destyds gebou met stene wat hulle hier gemaak het.

P1390138

George Adams, steenmaker en tans pastoor

Daarna maak die lewe met hom ‘n paar ander draaie totdat Deon Oberholzer vir hom die deure oopmaak in 2002 om op sy pa, oom Doupie se grond vlak buite die dorp, met ‘n besigheid te begin.

 

George verduidelik die proses van steenmakery: Potklei word met pik en graaf losgemaak. Dit word met kruiwaens aangery na die menger. Die menger is ‘n 200ℓ drom. Binne-in is ‘n as gemonteer met vier sparre wat die klei moet brei. Dié is verbind met ‘n disselboom wat deur ‘n donkie in die rondte gedraai word om die potklei te meng met sand en as. Die sand word verkry van die rooisloot naby die skougronde. As word verkry van die reeds uitgebrande steenoond.

‘n Mengsel van 3 kruiwaens potklei en twee kruiwaens sand en as (wat 50:50 gemeng is) word die dag vooraf gemeng met water in ‘n diep kom. Oom Hans Goeieman ry die water aan met ‘n waterkar vanaf ‘n gatdam daar naby (later neem Oom Hans Mostert oor as drywer van die waterkar).

Twee werkers vul die 200ℓ drom met hierdie mengsel. Soos wat dit suksesvol gebrei word deur die donkie wat geduldig al in die rondte loop, stoot die voorbereide kleimengsel aan die onderkant van die drom deur ‘n poort van so 12’’X 12’’ en val op ‘n bank van so heuphoogte waar die vormdraers dit kom opskep. Hierdie skepproses werk so: ‘n vorm wat 4 stene op ‘n slag maak, word volgeskep en met ‘n plank afgeskraap. Dit word dan gedra na die baan waar dit uitgedop word. Nog ‘n werker strooi dan uitgebrande as bo-oor sodat die stene nie maklik bars tydens die uitdroogproses nie. Dan doop die vormdraer sy vorm in ‘n 20ℓ emmer water om dit skoon te kry, strooi soutsand binne-in die vorm soos wat mens ‘n koekpan met meel bestrooi om te verhoed dat die koek vasbrand in die pan.  Tot   6 000 stene word per dag so gelê deur 4 vormdraers.

P1390137

In hierdie einste drom is voorheen klei gemeng waarmee stene gevorm is

Die volgende dag krap hulle die sykante van die stene met ‘n skaapskêr reguit en plaas die stene op ‘n ander sykant om verder te droog. Na 24 uur pak hulle die stene in windblokke om die drogingsproses te bespoedig. As dit lyk na reën, word seile bo-oor die vars stene getrek

 

Sodra die stene kurkdroog is, word dit in formasie gepak vir die vuringsproses. Dis ‘n ingewikkelde stelsel waar daar in die bodemlaag gangetjies gelaat word tussen aangrensende rye stene. Hierdie gangetjies vul hulle op met steenkool. Die tweede laag stene word dwars gepak bo-oor hierdie gangetjies en staan sy teen sy, sodat daar luggange vorm en die een steen die volgende een kan brandmaak om so die hitte te versprei reg deur die kolom stene. Agtereenvolgens word laag vir laag so gepak. Uiteindelik, as al die stene op hierdie manier gestapel is, bou die manne ‘n skermmuur reg rondom die kolom stene en begin by ‘n poort ‘n hoop steenkool brand te maak. Hierdie gloeiende kole word in die gangetjies ingestoot met ‘n lang koleskraper sodat die kole in die gangetjies die hitte kan kry. Geleidelik begin die hele kolom stene te brand. George sê die stene gloei naderhand na ‘n week deurskynend so witwarm word hulle. Dan neem dit nog ‘n paar weke voordat daardie hele kolom stene sodanig afkoel dat mens dit met die hand kan afpak.

P1390124

George demonstreer hoe die stene in formasie gepak is vir die vuringsproses

P1390167

In hierdie ou foto van George kan mens nog die waterkar, die drom met sy disselboom, die bane waarop stene uitgekeer is en die formasie waarin die gedroogde stene gepak is om te brand, duidelik sien.

Vroeër jare is die huisies met ongebakte kleistene gebou wat versterk is met strooi. Orals is die oorblyfsels van hierdie modderhuise nog sigbaar. Hierdie nuwe gebakte stene word die boustene van meeste van die huise wat tans nog staan in Vanwyksvlei. Al die nuwe regeringshuise word met gebakte stene gebou en groot hoeveelhede stene word verkoop in Prieska en Kenhardt.

“Wanneer het hierdie bedryf dan opgehou werk, George?”

“2007 het ons die laaste stene gebrand, Mevrou.” Dit wil vir my voorkom asof die deure vir hom toegemaak is deur diegene wat nie dieselfde politieke sentiment as hy deel nie.

“Wat het jy nodig om met jou kennis en vaardigheid weer so ‘n bedryf te begin?”

“Grond, Mevrou. Grond, water en steenkool. Die bedryf sal homself betaal.”

Handsentrale-operateur tot weerdata-invorderaar

P1380979

Tannie Herlina Malan

 

Tannie Herlina Malan (80), bedryf vir 32 jaar die handsentrale op Vanwyksvlei saam met nog drie ander persone. Elke nommer op hierdie dorp en elke plaaslyn se luikode ken sy – drie kortes en ‘n lange, twee langes en twee kortes, vier kortes… Vandag nog ken sy elke nommer al het die voorafgedeelte van die nommers aansienlik verander sedert die telefoondiens hier op Vanwyksvlei ook ge-outomatiseer is. Aanvanklik vul sy die pos net halfdag, maar later van tyd werk sy voldag totdat die handsentrale uiteindelik moes plek maak vir ‘n outomatiese sentrale.

Gesamentlik hiermee versamel sy daagliks weerdata en bel dit deur na die weerburo. Drie maal per dag op presies dieselfde tyd daagliks, neem sy die gemiddelde lesing van twee termograaflesings en ‘n termograaflesing. Die termograaflesings is verkry as ‘n gemiddeld tussen ‘n nat en ‘n droë lesing – die natte is ‘n termometer waarvan die bol in lap toegedraai is, toegebind met ‘n vierkoord toutjie. Die punt van die toutjie moet altyd in water hang.

Die higrograaflesing is verkry van ‘n stukkie nat menshare wat sy met groot sorg altyd volgens die regte instruksies en met die regte chemikalieë skoon hou. Die uitrekfaktor van die nat hare dui die lesing op die higrograaf aan. Boonop is daar ‘n grastermometer en vyf verskillende grondtermometers, die langste omtrent menshoogte, wat sy een vir een uit die grond trek en die lesings boekstaaf.

Die klein weerstasietjie met al hierdie toerusting is agter in haar erf ingerig waar dit onbelemmerd van bome of turksvybosse kan funksioneer. Die weerburo voorsien nie aan haar opleiding hiervoor nie; rus haar bloot toe met ‘n handleiding wat sy getrou navolg.

Soggens bel sy ‘n kode deur na Beaufortwes om die stand van wolke aan te dui. Elke soort wolkformasie het ‘n ander kode. Daar is 27 verskillende kodes – 9 verskillendes vir lae wolke, 9 vir middelwolke en 9 vir hoë wolke. Lae Cummiluswolke is bv. 01-laag . Hoë vlieswolke is  dalk 02- hoog. Alleenlik as die wolkbedekking sewe-agtstes van die hemelruim bedek, is dit noemenswaardig genoeg om aangeteken te word. Daarom rapporteer sy ook of dit drie-agtstes, sewe-agtstes of dalk agt-agtstes is vir wanneer die lug totaal betrokke is.

Dan is daar nog windspoed en windrigting ook om aan te teken. ‘n Windmetertjie wat vinnig in die rondte draai en so die windspoed registreer en wat ook die windrigting aandui, help haar hiermee. Sonkaarte vir elke seisoen installeer sy elke dag voor sonop in sy houertjie en saans, met die sontrajek daarin vasgebrand, liasseer sy dit. Hierdie data word dan aan die einde van die maand geprosesseer in datakaarte en aangestuur na die weerburo.

Die verdampingsfaktor word gemeet in ‘n drom wat op pootjies staan. ‘n Maatstok  is in die middel geïnstalleer. Soggens word die watervlak gemeet, die drom weer opgevul en die vlak word weer eens aangeteken. Die verskil tussen hierdie tweede lesing en môre-oggend se eerste lesing, dui die persentasie verdamping aan.

Tannie Herlina word net voor Kersfees ‘n weduwee. Oom Henry, in die ouetehuis op Carnarvon, sterf as gevolg van Altzheimers. Tannie Herlina versorg hom lank tuis, totdat sy vier maande gelede haar heup breek en self in die hospitaal beland.

Terwyl hy, al byna blind en doof, in die huis lê, val sy een middag so teen vyfuur in die agtererf. Sy kan glad nie beweeg nie. Omdat haar aandete op die gasstoof staan en kook, sleep sy haarself tot by die gasbottel en draai dié toe. Daarna vorder sy net tot by die agterstoep se trappe. Daar kan sy geensins verder nie. Desperaat lê sy daar en roep na oom Doupie, die buurman. Later die aand kom oom Doupie se seun daar aan om hulle oudergewoonte te kom groet soos hy elke Donderdagaand doen. Sy jong wat agterop die bakkie sit en wag, hoor die geroep uit die donker en maak vir Marius daarvan bewus toe hy eindelik terugkeer bakkie toe.

Marius kry vir tannie Herlina in die koue donkerte by die stoeptrap. Dis al byna nege-uur. Hy tel haar op en maak haar sit in ‘n stoel. Bel die ambulans. Daardie nag word sy en oom Henry saam deurgevat Carnarvon toe – want wie sal tog na Oom Henry omsien alleen in Vanwyksvlei? Eers ‘n week later word haar heup in Kimberley geopereer.

Nadat sy sodanig herstel dat sy self weer kan loop, keer sy terug Carnarvon toe. Maar sy sal nooit weer vir Oom Henry kan versorg nie – hy bly agter in die ouetehuis in Carnarvon tot en met sy dood twee weke gelede.

Terug in Vanwyksvlei neem sy haar dogter vanaf Douglas, wat erg verswak is vanweë Parkensons se siekte, by haar in. Versorg haar met dieselfde nougestheid waarmee sy al die jare die dorpsmense se oproepe deurgesit het, die weerdata aangeteken en deurgestuur het en vir oom Henry in sy siekte versorg het.

Die Verdwaling van Sina Witbooi

P1380157

Sina Witbooi

 

Sina Witbooi kom vanaf Carnarvon. Haar man is ‘n draadspanner. Saam het hulle twee skoolgaande kinders wat vir die skoolvakansie by hulle ouma op ‘n plaas kuier.

Sina, haar man en ander draadspanners, kom saam met Daniel wat op de Naauwte boer – ‘n plaas so 33km vanaf Vanwyksvlei op die Kenhardt, Marydale pad. Hulle gaan tuis in ‘n mobiele staning omtrent 6km vanaf die plaas. Bedags, as die manne draad span, verwyl die drie vroue en twee kleintjies, met hulle twee brakke en ‘n katjie, by die staning.

P1380172

Die staning op De Naawte waar die draadspanners oorbly

Woensdag besluit Sina om na Beesdam, die buurplaas, te loop om meel en suiker by Willem, die jakkalsvanger, se vrou te gaan haal. Dis reg suid van die staning af, al met die jakkalsdraad langs. Ek skat dis nie meer as 10km nie.

P1380221

Met hierdie lyndraad langs moes sy koers hou

By Beesdam aangekom, is Willem se vrou nie daar nie. Sina wag tot in die namiddag en loop toe maar weer terug voor die donker toesak. Waar die tweespoor paadjie vurk, vergeet sy om die lyndraad as baken te hou en draai  kamp in.

Dis duinewêreld daarlangs en dig begroei met Prosopis. Sy verloor rigting in ‘n poging om die skerp dorings van die Prosopisbome te vermy. Sy verdwaal. Klim bo-oor ‘n lyndraad in ‘n volgende kamp in en begin in sirkels dwaal. Die son sak oor die horison en sy het nie ‘n idee watter rigting om in te slaan staning toe nie.

Met die manne se terugkeer is Willem se vrou steeds by die staning. Nee, sy het nie vir Sina raakgeloop nie. Sy wis dan nie eens dat Sina na haar toe op pad is nie. Dit word donker. Spoor kan nie nou gesoek word nie.

P1380181

Willem, die jakkalsvanger

Met eerste lig vat die manne Sina se spoor Beesdam toe. Willem is bedrewe in spoorsny want dis hoe hy jakkals jag. Hulle kry haar spoor waar sy op pad terug afgedwaal het. Gou besef hulle dat sy in sirkels begin dwaal het. Sy is heen en weer oor dieselfde lyndraad. Dan verdwyn die spoor. Hulle soek tot donker maar Sina is weg.

Vroeg Vrydag hervat die manne die soektog. Dis snikwarm. Hulle sal hulp moet inroep – alleen gaan hulle haar nie betyds kry nie. Dis altans al die derde dag en langer sal sy nie sonder kos en water in hierdie temperature kan oorleef nie.

By De Bruynsrus, die buurplaas, gaan vra hulle om die polisie te ontbied om te kom help. Teen vyfuur, met ons aankoms by De Bruynsrus vir ‘n wyksafsluiting by Tilla en Jan, sien ons die polisiebakkie oorkant die plaashek. Willem is saam met die polisiekaptein in die bakkie om rigting te help gee. Ons verneem van die vrou wat verdwyn het.

Teen Saterdagoggend is sy steeds weg. Die polisie en Willem hervat die soektog. Teen namiddag kry hulle ‘n vars spoor, skaars ‘n kilometer van die staning af. Sy het by die watertenks aangekom, gedrink en skoon verkeerde rigting ingeslaan. Hulle volg haar spoor en gewaar haar waar sy heeltemal gedisoriënteerd weer besig is om ‘n lyndraad te klim. Maar sy lewe.

Met die vrou heel naweek op my gemoed, doen ek vroeg vanoggend navraag by die polisie. Dis goeie nuus dat sy gekry is. Ek en Johan ry uit De Naauwte toe om haar te gaan opsoek. Daar kry ons net vir oompie Piet Tieties wat g’n idee het waar die draadspanners bly nie. Ons volg maar die rigting wat hy beduie al langs die jakkalsdraad totdat ons op Willem afkom waar hy sy middagete sit en eet by die watertenks. Hy beduie waar ons die staning kan kry waar Sina is.

Sina, haar suster en nog ‘n ander jong vrou by die staning, ontvang ons en die bordjie skons wat ek vir haar gebak het, baie beskroomd. Sy vertel graag van haar ervaring:

P1380191

Die groepie vroue en kinders wat bedags by die staning oorbly as die manne draadspan

“Nooit, nooit weer loop ek alleen die veld in nie.” Sy vertel dat sy haar dors by skaapkrippe en gatdamme geles het waarop sy afgekom het. Maar die honger was die ergste. Een nag het iets soos ‘n skerpioen haar op haar maag gesteek toe sy probeer lê het.

“Ek kom toe by die grootpad uit. Ek weet nie watter kant toe nie en ek is verskriklik dors. ‘n Boer van ‘n ander plaas hier naby, kom op sy motorfiets verby.” Hy kon seker sien dat sy erg ontwater en baie gedisoriënteerd was. Hy vat haar toe met die motorfiets tot by die naaste windpomp waar sy water kon drink. Daar beduie hy haar toe presies hoe om te loop om by De Naauwte uit te kom. “Maar toe loop ek wraggies weer terug op my ou spore en ek kom nooit by De Naauwte uit nie.”

“Ek was baie bang, Mevrou. Nie gedink ek sien my man en kinders ooit weer nie.”

Sina kan nie vir my sê hoe oud sy is nie. Sy het nie haar ID by haar nie en kan nie haar geboortejaar onthou nie.

Sy lyk nie soos iemand wat vier dae in bloedige son deurgebring het nie. “Nee mevrou,” sê sy beslis, “ek het maar snags probeer loop en bedags onder die skaduwees ingekruip want die son wou my dood brand.” Die nagte verlede week was baie donker met die maan wat nou eers weer begin groei. Ek kan net dink dat sy geen idee gehad het in watter rigting om te loop nie. Die nagte was weer koel en sy beweer dat sy net ‘n truitjie by haar gehad het wat sy styf om haar gedraai het.

“Daai eerste nag, toe ek onder ‘n bos wil inkruip, hoor ek net hoe blaas ‘n slang vir my. Toe hou ek maar aan met loop.”

Ek dog ek deel Sina se goedvoel storie van oorlewing te midde van al die  skokkende nuus wat ons die afgelope week gehoor het.

Shalom.