En wat doen jy?

Wat gaan ek en jy daaromtrent doen, sê ons vir mekaar toe ek en Johan klaar na Geestesgesondheid op RSG van 16 Julie 2019 geluister het. Die program handel oor die psige van die boer in die droogtegeteisterde dele van ons land. Ons wéét al hierdie dinge. Ons het dit gesien. Ons het dit self aan die lyf gevoel. Ons ken die name van die mense waarvan daar gepraat word. Ken die plase.

Johan staan op en begin ‘n brief saamstel wat hy aan elke gemeente in Potch wil stuur om te vra vir 10 minute tydens ‘n erediens vir bewusmaking van die toestand in Vanwyksvlei wat meer afgeleë is as al die ander dorpe waarvan gepraat word. Geen nasionale pad loop daar naby verby nie. Geen teerpad vir 80km nie. Hulp in die lyn van voer kom nie sommer tot daar nie.

Toe ek die oggend wakker word, wéét ek wat ék moet doen. Bo-Karoo moet ‘n boek word. Die volledige opbrengs sal gaan vir die Vanwyksvleiers – al is dit net ‘n druppel in die emmer. Want sien, ek het ‘n droom gehad.

Vertel ek ‘n paar dae vantevore vir my swaer die droom waarin my oorlede sus ‘n leidende rol gespeel het. Dat ek droom ek die opdrag ontvang het om ‘n boek te maak maar nie die vaagste benul het waar ek moet begin nie. Hoe ek ‘n baie duidelike beeld het van hoe die boek moet lyk maar nie weet waar kry ek die middele in die hande om die boek mee te maak nie. In my droom is my sus ‘n stil teenwoordigheid wat my stuur.

Ek droom my sus vat my eers vir ‘n ete. Die bord kos wat voor my neergesit word is vreemd – dit lyk meer na iets dekoratiefs as na kos. Dis net ek wat eet. Sy eet nie saam nie en sit ook nie saam met my aan die tafel nie. Sy is slegs ‘n stil teenwoordigheid hier êrens regs agter my.

Die eerste happie wat ek neem is so soet soos heuning op my tong. Ek smul so lekker aan die bord kos, dat ek twee happe uit die boekrak langs my neem voordat ek besef dat ek nie veronderstel is om die boekrak ook te eet nie.

Daarvandaan neem sy my na ‘n tipe pakstoor waar ek met die intrapslag sien dat ek hier alles gaan kry wat ek nodig het om die boek mee te maak. Ek raak so meegsleur deur al die opsies om my, dat ek nie besef my sus verdwyn stilweg uit my sig nie. Toe skrik ek wakker.

Jy weet natuurlik wat dit beteken, merk my swaer op. Ek verstaan nie wat hy bedoel nie.

Dis jou tweede boek.

Hiervan vergeet ek heeltemal totdat ek die oggend wakker skrik met ‘n sekere wete dat Bo-Karoo ‘n boek moet word.

My versoek aan CLF (Christelike Lektuurfonds) se uitgewers om onder hulle Barnabas selfpublikasienaam te publiseer, word daardie selfde oggend nog beantwoord.  Minder as twee maande later is die redigering, die taalversorging, die uitleg en ontwerp van die hele manuskrip afgehandel. Bo-Karoo, die boek, het alreeds ‘n ISBN-nommer. Binnekort is die bladuitleg afgehandel, foto’s en al, en sal die boek gedruk word. Voor Kersfees sal jy jou eksemplaar kan koop

Intussen reageer geloofsgenote in Potchefstroom op Johan se bewusmakingspraatjie met ongekende deemoed. Dit kring steeds uit. Nou selfs na hierdie geloofsgenote se familielede in ander dorpe.

Johan se bewusmakingspraatjie is nie net om finansiële hulp nie. Dit gaan ook oor betrokkenheid, deur te gaan kyk wat daar aangaan. Deur betrokke te raak by ‘n gesin op ‘n plaas om te hoor waarvoor daar gebid moet word. Deur ‘n boer te borg vir die volgende paar maande, want van die  boere moes reeds hul medies, versekering, polisse, selfoonkontrakte, ens. opgee. Hulle kinders se skoolgeld of universiteitsgelde is agterstallig. Hulle rekenings by die plaaslike koöperasie is so ver agterstallig, dat dit gesluit is. Hulle kan nie meer brandstof koop om inspeksie by krippe en windpompe te doen nie. Bande wat getrap is op daardie vreeslike onbegaanbare paaie van Vanwyksvlei, kan nie meer vervang word nie. Hulle sukkel om hulle werkers te behou want vir lone is daar ook nie geld nie.

Kortom, daar is nie meer reserwes of alternatiewe nie. Net die tekens van dood onder die skaap wat elke dag toeneem. Tilla sê onlangs vir my dat sy by God pleit om die skaap liewer te laat vrek voordat sy op hulle afkom, want sy kan nie meer één skaap keelaf sny nie. Maar as sy dit nie doen nie, is die kraaie voor haar daar om die skaap wat net lê se oë en tong uit te pik.

droogteblog4

 

Menigmaal vrek die ooi terwyl sy lam, dan moet die lammetjie uitgesny word as hulle betyds op die toneel aankom, voordat dié ook dood is.

droogteblog5

Hierdie lam is ge-keiser

Nou sit die boer met ‘n magdom lammers op die bottel. Daar moet melk aangekoop word om dit mee te doen, waarvoor daar nie meer geld is nie.

droogteblog6

Jan se kontrepsie omdat daar nie genoeg hande is vir bottels nie

 

 

droogteblog3

Tilla se koei help gewillig mee met die voer van weeslammers

Lammers bereik nie sommer bemarkbare gewig nie want daar is nie meer weiding nie. En as lammers nie bemark kan word nie, kan geen inkomste gegenereer word nie. Die boere het regtig nie ‘n alternatief nie. Dooie skaap wat oral rondlê, moet hoop gemaak en brand gesteek word – daar’s nie geld vir kalk om bo-oor te strooi nie.

droogteblog2

‘n hoop dooies wat brandgesteek moet word – ooie, lammers en ooie in die proses van lam

En omdat lammers nie meer bemark kan word nie, maak die man wat moet bemark ook nie meer geld nie. So kring die ellende al verder en verder uit.

Johan stel voor dat boere wat kan, ‘n boer se kernkudde, wat deur jare opgebou is, gaan haal en namens hom versorg totdat toestande verbeter. So erg is dit. Of dat groepe die dorp besoek met lewensmiddele of enige vorm van ondersteuning. Of om ‘n projek te steun wat fokus op alternatiewe bronne van inkomste, soos om hout te maak van die magdom prosopisbome in die gebied. Hy voorsien vrywilligers van kontaknommers.

Hierdie droogte wat al vir baie jare vootduur, gaan ons ons land se vleisspens kos as ons nie nóú optree nie. Ons kan nie wag totdat daar opgetree word deur die regering nie.  Eintlik is dit lankal te laat vir optrede. Ons moet begin betrokke raak by ons geestelike broers en susters in nood. Dis wat kerk beteken. Nie om Sondag ‘n erediens te besoek en daarmee is my premie vir die week se voorspoed betaal nie. Maar om uit te gaan en kerk te wees waar daar nood is. Om saam met broers en susters in die stof te kniel en te smeek vir uitkoms. Om geloofsgenote se las te help dra, al vat dit ook aan ons sakke.

Manda stuur ‘n foto van die springbok wat uit die veld kom om saam met die diere wat gevoer word te kom eet. Nood is groter as vrees. Daar’s niks oor in die veld nie.

droogteblog1

 

Rina, oor wie ek al baie vertel het, boer tans namens HJ op die plaas Stinkbrak, nadat Jurie, HJ se pa ‘n paar weke gelede aan ‘n hartaanval gesterf het. HJ is in matriek. Rina sê sy het al baie droogtes in haar 68 jaar deurgemaak, maar hierdie droogte is ongekend. Sy vertel dat die skaap wat uitgekeer word, sommer omval. Dié moet dan kraal toe gedra word waar daar gevoer moet word. Hulle is so swak, dat hulle kondisie in die voerkraal nie eens verbeter nie – dit hou hulle maar net aan die lewe maar bring hulle nie by bemarkbare gewig nie. Om hulle lewend te verkoop, gaan omtrent niks inbring nie. Gelukkig kom daar gereeld voer van weldoeners.

Tilla vertel van die skaap wat sy sommer voor in die bakkie gesit het omdat die skaap te swak was om ‘n rit agterop te oorleef.

droogteblog7

Hoe dié wat kan, na die bakkie aangehardloop kom vir iets te ete. Hoe een van hulle ‘n pakkie lemon creams voor in die bakkie ontdek en skoonskip maak daarvan.

droogteblog9

 

 

Soos Tilla in haar desperate whatsapp-boodskap wat tans die hele kuberruim deurswerf sê: hier word groepe gestig, dinge gedoen om mense te help aangaan. Maar vrektes het vir hulle so ‘n verskrikking geword dat hulle nie meer die woord ‘dood’ kan gebruik nie. Al wat hulle vra is gebed. Om te pleit vir genadereën.

Doen jy ook asseblief mee.

“Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie.”                         1 Samuel 12:23

4 comments

  1. elnabe · September 10, 2019

    Ai, ek bid saam Leonette, ek bid ook dat die Heer vir ons wat baie ver daarvandaan af woon, wysheid sal gee oor die maniere waarop ons kan help…

    Like

  2. Leonette Smit · September 11, 2019

    Elna, ek reken dis wat ons Vader onder ons wil kom vestig, voorbidding.

    Like

  3. Erhard Kruger · September 15, 2019

    Goeie môre

    Ek is verslae oor die to toestand in Vanwyksvlei.

    Kom sopas van daar af. Het ‘n belewenis, besigtigings padrit geneem om daardie wêreld te sien.

    Genadiglik was dit bewolk en het ‘n snerpende windjie buite gewaai.

    Is verslae oor die niks wat daar is. Die swart veld. Die dorpie wat nie meer bestaan. Tog twee nuwe staatshuise gebou??

    Ons het on 17.00 die middag daar aangeland, nadat ons ‘n pap wiel gehad het 35km voor Vanwyksvlei.

    Die gastehuis funksioneer nie, die hele huis word ten volle aan ‘n jong man verhuur. Geen ander gastehuis om in te oornag nie. Alles staan toe.

    Is daar funksionerende besighede? ( buiten die kroeg)

    Medies?

    Die polisiestasie funksioneer maar vir wat? Daar is dan niks.

    Waarvan lewe diegene wat in die dorp woon?

    Ons was genoodsaak om die grondpad verder aan te durf na Prieska, wat ons teen 19.35 binned gery het.

    Wat gaan word, one wag en kan net sien wat onse Heer vir ons will sê, wys en gee.

    Baie sterkte en daaglikse genade gaan uit na julle, daar in die dorre verlatenheid.

    Seënwense

    Like

    • Leonette Smit · September 15, 2019

      Erhard, jou kommentaar bevestig net die toestand waarin Vanwyksvleiers hulle bevind. Die tragedie is dat hierdie mense nêrens anders het om heen te gaan nie. Dis familieplase wat hulle al vir geslagte in stand hou. Daar is geen alternatief nie en daar is geen geld meer oor vir ‘n alternatief nie. Die Bruin mense wat hulle plaaswerk verloor het, deels agv plase wat opgekoop is deur SKA, het net hulle families om na terug te keer in die dorp. Daar is nie naastenby werk vir almal nie. Hulle leef maar van maatskaplike toelae. Dat ons medeafhanklikheid vir mekaar moet neem, is sekerlik een van die dinge wat God ons wil dwing om te besef. Daarom kan ons net handevat en help waar ons kan in afwagting op uitkoms. Dankie vir dit wat jy deel.

      Like

Leave a comment