Hier kom ‘n ramp

Die hele uitgestrekte oppervlak van die Vanwyksvleidam is tans begroei met prosopis boompies wat al so hoog staan soos ‘n mens.

dam1

Die laaste foto wat ek van die dam met water in het, is op 31 Januarie hierdie jaar geneem.

dam3

‘n Duideliker foto van die damoppervlak met water in, is geneem op 9 Augustus verlede jaar.

damlaaasteSedertdien het dit wel ‘n slag of wat gereën, ons het lekker reën op 31 Januarie vanjaar en weer op 14 Februarie gehad. Maar sedertdien is daar geen invloei van water in die dam nie.

Die laaste foto van die damoppervlak SONDER boompies, is geneem op 16  Februarie verlede jaar.

damdroog

Vroeg in Oktober vanjaar het ek en Ria en Rina een oggend dam toe gestap. Ons wou vir Ria, ‘n kuiergas, ons dam gaan wys. Toe het ek reeds opgemerk dat daar orals boompies uitspruit op die droë damoppervlak. Dit was drie maande gelede, julle!!

En nou het die boompies oorgeneem en kans gekry om diep wortel te skiet. Reën dit nou, sal daardie boompies nie verdrink nie, hulle sal floreer. Probeer mens hulle afkap, sal hulle net stoel, soos prosopis bome gewoonlik maak. En as hulle eers begin bosmaak het, word dit ‘n ondeurdringbare woud vir mens of dier. Kap mens dit af en behandel met gif – die enigste manier om van hulle ontslae te raak – word die dam se water vergiftig as dit dan sou reën en water die dam sou binnevloei. Dink net aan al die voëls, visse, diere wat so bedreig gaan word.

Damskraap in hierdie wêreld word gereeld gedoen. So word elke gatdam se kapasiteit vergroot vir wanneer die reën kom. Dis bitter lanklaas by die Vanwyksvleidam gedoen – nie in ons tyd die afgelope drie jaar nie. Instandhouding. Gebrek daaraan het reeds baie ander rampe in ons land veroorsaak. Die Vaalrivier is maar een van die baie.

Die hele soom van die Vanwyksvleidam en al die kanale vanuit die dam wat veronderstel is om water na die dorp toe te laat deurvloei, is al vir jare dig begroei met prosospis. Dis moeilik om te glo dat daar ‘n dekade of wat gelede, nog grasperke en vrugteboorde in Vanwyksvlei was. Dat die enigste teerstraat weerskante deur sterk bome omsoom was. Dat daar in die kanaal oos van die dorp byna 90 winddpompe werksaam was wat water na elke erf in die dorp gepomp het. Die enigste teken daarvan vandag, is geraamtes van ‘n enkele windpomp of twee, en ‘n gebarste dam in feitlik elke erf. Kan ‘n dorp so vinnig sterf?

Jammer. Ek sou graag die jaar op ‘n positiewe noot wou afsluit. Maar om stil te bly, weer nie die ramp af nie …

14 comments

  1. lizamroux · December 29, 2018

    Sjoe. Dit is skrikwekkend!!

    Liked by 1 person

  2. coetzee2014 · December 29, 2018

    Dit, is baie erg, maar dit is eenvoudig nie, ekonomies die moeite werd om ‘n dam skoon te skrop nie.

    Liked by 1 person

  3. Leonette Smit · December 29, 2018

    Miskien op hierdie stadium, ja. Maar as dit gereeld gedoen was, soos soveel ander gevalle van verwaarloosde instandhouding, sou dit wel ekonomies haalbaar wees.

    Like

    • coetzee2014 · January 2, 2019

      Ek is geen ingenieur nie, maar was betrokke, waar so iets oorweeg moes word. ‘n Gesoute siviele ingenieur, het my gou oortuig, dat dit nooit ekonomies haalbaar is nie. Die som is redelik maklik om te maak, deur iemand wat weet. Vir die verskuiwing van grond, is daar ‘n vaste som, maal dit met die kubieke meter, plus die afstand, waar dit geberg moet word, dan raak dit maklik, ‘n astronomiese bedrag. Daardie grond, moet ook geberg word, waar dit nie weer in die dam kan beland nie en ook nie weer in die stroom wat verder vloei nie. Dit is die rede hoekom, die opvang gebied van damme baie goed bewaar moet word, om erosievry te wees.

      Liked by 1 person

      • Leonette Smit · January 2, 2019

        Dankie vir jou inset. Lyk my dis ‘n reusagtige bestuurstaak om so ‘n dam sy kapasiteit te laat behou. Die slik wat opgebou het oor die jare is ‘n wonderlike potklei wat ideaal is vir ‘n pottebakkersbedryf. Iets wat sekerlik volhoubare werkskepping in hierdie afgeleë gebied kan bied. Ek wonder wat ‘n impakstudie sal toon as die taak so aangepak word.

        Liked by 1 person

  4. Anita Schutte · December 29, 2018

    Wat ‘n verskriklike hartseer storie wat uitloop op ‘n ramp. Ons kan net bid vir uitkoms!

    Like

    • Leonette Smit · December 30, 2018

      Dankie Anita. Soms dink ek God moet baie moedeloos met ons raak. Ons veroorsaak die rampe omdat ons nie ons plig nakom nie, en dan moet Hy die gemors red

      Like

  5. Toortsie · December 30, 2018

    Sjoe

    Like

  6. Ruline de Bruyn · December 30, 2018

    Die enigste oplossing:
    – Daardie boompies jonk genoeg om met knipper af te knip – (oor 3-6mnde is hulle nog 1 meter hoër)
    – Dan met pik af te kap onder grondoppervlak, dit sal nie weer uitgroei nie.
    -Groot bome wat afgesaag en bespuit word, loop soms uit EN dit is hier waar opvolg werk gedoen moet word…
    – arbeid is ook nie goedkoop nie…

    Liked by 1 person

    • Leonette Smit · December 30, 2018

      Dankie Ruline. Die arbeid, ja. Dis ‘n allemintige oppervlak om deur te gaan en te knip. Wat as die dam binne die 3-6 maande water kry en ontoeganklik is vir opvolgwerk. Dan gaan daardie stompies struik maak en floreer, maar NIE verdrink nie. En soos jy sê, arbeid. En iemand om dit te inisieer

      Like

  7. Mariette · January 2, 2019

    Soveel mense in Vanwyksvlei sit sonder werk en lewe op “grants” . Sou wonderlik wees om mense te help op hierdie manier met werkskepping en so hul eie dorp weer te laat leef.

    Liked by 1 person

  8. Leonette Smit · January 2, 2019

    En dat dit moontlik is, is ‘n feit. Vanwyksklei kan iets word!!! Dink net, 135 jaar gelede is die dam klaar gebou – water voorsien hy nie meer aan die dorp nie, maar dalk was dit juis vir ‘n tyd soos hierdie dat die eerste staatsdam in die land gebou is …

    Liked by 1 person

  9. Leonette Smit · September 21, 2021

    Dalk! Mens kan maar net dink aan die impak indien die uitvloei van die dam weer herstel kan word. Ek dink nie daar was ooit ‘n groter waternood in Vanwyksvlei as tans nie

    Like

Leave a comment