BullRun Bulletin

stof

Noudat die dorp en Wilhelm-se-pan se stof weer gaan lê het, probeer die Vanwyksvleiers hulle lewe weer belyn met die normale verloop van dae. Maar die terrein word eers opgeruim, die boeke word eers afgesluit, die voorrade word eers gekontrolleer, die oorskotte (nie dié van die deelnemers nie…) word eers teruggery en elkeen probeer weer sy eie lêplek terugkry.

Weg Ry & Sleep Bull Run 2018 lê agter ons. Voor ons, skaars tyd vir rus, want nabetragting moet gehou word en 2019 moet nou reeds beplan word.

Getalle:

150 spanne skryf in van regoor die land. 650 mense se name staan op die lys en kry slaapplek en daagliks ‘n kospakkie. Slegs ‘n handjie vol inwoners van ons klein dorpie is beskikbaar om alles te behartig – vir maande reeds. Elke denkbare blyplek in die dorp is vol bespreek. Die tentedorp wat op die terrein opgeslaan is, huisves die res.

Raakvatters:

Tussen Vasie De Kock, Jan La Grange en Johan Smit, gebeur die grootste deel van die voorbereiding. Tussendeur kom gee mense met spesialiteitsvaardighede hand met bedrading en riolering en installering en modifisering en verfraaiing en toekamping en aftakeling en opknapping en sweiswerk en verfwerk. Johan en Jan-Hendrik en JB en Paul en Lolita en Stefan en Gert.

lolliesverf

Lolita du Pisani werk tot sononder aan die verfraaiing van die nuwe ablusie

Mark Penning, wat ‘n huis in Vanwyksvlei het, kom van Bloemfontein met sy grondverskuiwingsvoertuie om die ‘gat’ in die terrein op te vul. Met sy watertenker vul hy die drie Jo Jo’s met genoeg water wat die naweek kan hou.

Ria van Rensburg beplan elke kospakkie vir die aande se etes meesterlik tot op die laaste gram. Alles werk perfek uit. André Oberholzer, die plaaslike slagter, berei met sy helpers 650 braaipakke voor vir elke aand vir elkeen van die manne wat ingeskryf is. Die braaipakke en kospakkies word per kaartjiestelsel saans uitgedeel.

Ria

Ria van Rensburg aan die stuur van die kosvoorbereiding

Tannies, al ver in jare, huiwer nie om hand te slaan aan die voorbereiding van braaibroodjies, of knoffelbroodjies, of noedelslaai of knoffelaartappel of koolslaai nie – 650 individuele porsies van elk – 7 ure vooroor gebuig en op hulle voete!!!! Baba, Petro, Gerrie, Marietjie, Sannetjie, Rina en vele helpers uit die woonbuurt waarsonder ons hande net te min sou wees. Later word familie ook ingespan – Elsje, Dewald, Paul, Jaques.


Rina maak solank ys sover as wat die beperkte dorpswater haar toelaat. Ry in een dag eers Carnarvon toe en dan Prieska toe vir nog ys. Dan bak sy pannekoek, dan smeer sy brood.  Joppie ry ekstra water in vanaf Môreson sodat die ergste stof op die terrein natgelei kan word.

Kosstalletjies:

Vanjaar werk niemand vir sy eie sak nie – als gaan vir die kerk. Tilla la Grange se asbosskerm staan hierdie jaar hoër as laas jaar. Pap, kaiings, kaapstertjies, roosterkoek met skaapvet en stroop … Nja!

skerm2

Marietjie, Tilla en HJ aktief in die asbosskerm

Karin en Dia los die kinders by die ouma’s en doen voluit hamburgers en worsbroodjies. Dawid en Eljo verkoop draairoomys. Tussendeur word pannekoek gebak. Rida en Magriet verkoop basaarpoeding. Vasie en Rida voorsien broodnodige water. HJ moet sy staal ken by die kole tussen skaapstertjies en hamburger patties en wors. Boonop nog genoeg kole vir roosterkoeke ook!

Fanie en Tertia Pretorius van Crater Coffees is weer hier al die pad van Parys om van vroeg-vroeg soggens hulle geurige koffie te bedien.

koffie

Helpers:

Van ekstra hande gepraat; mens pak nie so iets aan sonder sekuriteitsmanne, skoonmakers, rommelverwyderaars, karweiers, kroegmanne, skermpakkers, vuurmakers, roosterkoekbakkers, skottelgoedwassers, kosmakers, nie. So het heelparty al hulle merk gemaak en sal beslis volgende jaar weer in die span opgeneem word.

werkers

‘n Groepie van die werkers wat op die laaste dag nog gehelp opruim het

Die kroeg:

Vanaf 10vm – 6nm is ‘n enorme lang skof om op jou voete te staan by die kroeg. Aandskof eweneens, want mens skink solank die manne drink. Onbaatsugtig is die hulp van Lolita en Joppie en Dawid en Johan La Grange en Jan-Hendrik en Stefan en Francois en Johan Bruwer en JB en Marlise en Karin en Sybrand.

Gebeurlikhede:

Behalwe die normale dough-nut-gooiery en kerk-klok-luiery diep in die nag, sorg vanjaar se deelnemers vir genoeg karwrakke wat herwin moes word, ambulansritte wat gery moes word, soekgeselskappe wat verdwaaldes moes opspoor, en na-ure se werk vir die plaaslike en ingevoerde manne in blou uniforms.

Vir die dorpskinders word ‘n kaskarwedren op die rygbyveld gehou met karre wat Weg Ry & Sleep Bull Run 2018 se organiseerders saambring en padwaardig maak.

Vraagstukke?

“Jan, hoekom doen julle dit? Hoekom sal ‘n mens maande lank so swoeg, soveel petrol uitry, soveel onbetaalde werksure insit? Dit rym nie?”

“Want die saak is groter as ons. Die blootstelling wat Vanwyksvlei en sy inwoners kry, kan nie in geld omgereken word nie. Een keer ‘n jaar lewe hierdie dorp. Maar dwarsdeur die jaar kom die goedgesindheid terug in die vorm van donasies van voer en werkskepping en kontrakte en projekte.”

“Maar wie sponsor al hierdie voorbereiding en mannekrag?”

“Die kerk. Die kerk skiet voor en als gaan terug in die kerk se sak. Die kerk maak lewe weer moontlik.”

jan

Jan la Grange staan aan die stuur van sake

 

10 comments

  1. Anita schutte · October 10, 2018

    Baie geluk aan almal wat só hard gewerk het … altyd lekker om terug te kyk én om van die moegheid te vergeet!

    Like

  2. Tharine de Kock · October 10, 2018

    Julle mag maar Vanwyksvlei

    Like

    • Leonette Smit · October 11, 2018

      Ek dink ook soos jy Tharine, hierdie span is ‘n wenspan

      Like

    • Mariette · October 14, 2018

      Deur die kerk kom mense by mekaar uit en lewe en ontdek ons saam.
      Mooi Vanwykvleiers!

      Liked by 1 person

  3. N BULLRUNNER · October 11, 2018

    Julle Vamwyksvlei’ers kan baie trots wees op n uitstekende aanbieding . Dit raak net beter en beter. En daai skaapsterte is n treffer. Julle kry tot die Kapenaars om pap te eet, en die Kaaiings hou alles mooi ge-olie.
    Baie dankie.
    N Bullrunner

    Like

    • Leonette Smit · October 11, 2018

      Hi, Bullrunner, jy’t goeie smaak, Kapenaar of nie! Ons top solank op vir volgende jaar!! Sien jou graag weer.

      Like

  4. Hester Botha · October 11, 2018

    Baie dankie aan almal van Vanwyksvlei wat hierdie geleentheid onvergeetlik maak. Na ‘n dag buite in die son en stof is die kospakkies soos manna uit die hemel. Om nie eers te praat van die vriendelikheid waarmee dit gedoen en gegee word. “Well done!!”

    Like

    • Leonette Smit · October 11, 2018

      Dankie Hester, dis oor mense soos jy wat groot waardering wys, dat ons dit weer met liefde gaan doen volgende jaar

      Like

  5. Willem · October 12, 2018

    Kospakkies en vleis was van bostaande gehalte en meer as genoeg!! Vwv en sy mense klim elke jaar dieper in ons bullrunners se harte in. Julle moeite gaan nie ongesiens verby nie!!! En wie verf nou n pi plek so mooi… net in vwv!!

    Baie dankie sien volgense jaar weer.

    Nog n bulrunner

    Like

    • Leonette Smit · October 12, 2018

      Dankie Willem. Jy praat so na onse harte. Vir jou ontvang ons met graagte weer

      Like

Leave a reply to Leonette Smit Cancel reply