Die 3 E’s

 

Earl, Edward en Eversohn wag net buite die dorp vir ‘n lift Carnarvon toe. Ek en Ria, wat by my kuier, stop en laai op.

“Kan julle manne ‘n pap wiel omruil as dit moet?”

“Ja Mevrou!” kom dit in ‘n trio.

“Waarvoor gaan julle Carnarvon toe?”

“Ons gaan onse rapporte haal, Mevrou.”

Hulle is al drie in Gr 11 en die skool is sedert verlede Donderdag al gesluit, net na die eksamen. Vandag sal die rapporte beskikbaar wees.

Ons reël dat hulle ook saam terug kan ry, mits hulle die rapporte vir ons wys. Saak is reg.

Ons gesels en vind uit Earl wil engineering gaan doen na skool, Edward wil ‘n boiler maker word en Evensohn wil ‘n diesel mechanic word.

Afgelaai in Carnarvon, ontmoet ons my sus Mariëtte, wat weer ‘n uitreik saam met die span van Carpe Diem doen, by ‘n restaurant. Sy en Ria het mekaar laas gesien toe Ria in St 9 was en Mariëtte matriek in Barberton gedoen het. Ons gesels te veel vir die kort middagete pouse wat Mariëtte beskikbaar het, gaan doen gou inkope in ‘n stampvol Spar en vat die pad terug. Die drie E’s op hulle pos waar ons afgespreek het om hulle op te laai.

Geen rapporte. Die skoolkantoor was reeds toe …

Eers buite sein, onthou ek te laat dat ek nie vir Johan laat weet het ons vat die pad nie. Gewoonlik kan hy dan uitreken wanneer ons by die huis behoort te wees en sal onraad vermoed as ons nie binne tyd opdaag nie.

Net anderkant Bloubos trap ek ‘n klip, die kar swenk effens en ek stop dadelik. Pap wiel. Geen sein.

Die drie E’s spring flink aan die werk en ruil die band om. Maar daarna verseg die kar om te beweeg. Pak weer af – dalk is die boute skeef ingedraai. Draai los en weer vas. Nee. Sy wil nie vorentoe nie. Die drie E’s krap kop. Ons sit!

3wiel

‘n Paar voertuie spoed verby sonder om navraag te doen. Later, heelwat later, stop ‘n Lanbouweekliks bakkie om te hoor of ons hulp nodig het. Ons verduidelik ons probleem. Drie manne klim uit, probeer weer losdraai en vasdraai, maar nee, sy wil nie vorentoe nie. Die drie E’s krap harder kop.

Die manne het ‘n opname vir Landbouweekliks kom doen by Karel van der Merwe van Waverley en is op pad terug Pretoria toe. Dis al naby 5nm. Ek gee Johan se selnommer. Hulle moet hom net inlig van ons situasie sodra hulle sein kry, asseblief.

Ons sit. Net Ria het ‘n flessie met nog ‘n slukkie of wat water daarin. Die seuns het vanoggend laas 2 snytjies brood elk by Eversohn se antie gekry om te eet. Dis lankal uitgewerk. Ons gee ons doggie bag wat ons van ons middagete saamgebring het. Ons wag.

wiel moedeloos

Net een van die baie voertuie wat verby spoed, stop. Ek verduidelik dat hulp op pad is en vra of hy die seuns solank sal oplaai. “Nee Mevrou!” sê Edward, “ons is saam in die ding. Ons support vir Mevrou-hulle. Ons is mos nou verantwoordelik vir Mevrou-hulle.”

Later vra Edward toestemming om te rook. Natuurlik mag hulle. Maar hulle vra bietjie water daarvoor. Dis Ria wat vinning snap hulle wil hubbly rook. Daar’s te min water daarvoor oor in Ria se flessie.

Hulle begin seker al aan onttrekking ly. Want nou loop soek hulle water in die veld. Helaas.

Die son maak al lang skadu’s. Later stop Edward ‘n kar en vra vir water. Uiteindelik kan hulle dampe gaan stook.

Met dié verskyn ons ridder in die blou bakkie op die horison. Hy bring warm baadjies, koue water en ‘n fles koffie saam!!

‘n Paar vrae en Johan besef die fout. Die spaarwiel het ‘n ander soort rim wat korter boute vereis wat netjies in ‘n sakkie in die kattebak lê. Ons het nie eens opgemerk dat die rims verskil nie. Die drie E’s neem kennis. Ons reisgenote het daai langer boute ingedraai en ingedraai en ingedraai… die handrem steek vas. Die drie E’s leer iets nuuts.

Johan het ‘n beter domkrag saamgebring en met moeite is die in-en-in-en- ingedraaide boute weer uit. Heen en weer probeer Johan die briekdrom losdraai, vervang die wiel en daar beweeg hy. “Nou is hy nja!”

Ons ry; Johan in die wit kar met Eversohn om hom te support, en ons ander agterna in die blou bakkie.

wiel1

20 kilometer verder stop Johan. Die wiel loop warm. Ons draai by Waverley af om Jannie Swart, die meganiese man se raad te vra. Die wiel word weer afgehaal om die skade te ondersoek. Slegs die handrem se een briekskoen het bly vastrek. Minimale skade. Dié word verwyder.  Die drie E’s leer ywerig hóé.

Die aandster is al lankal onder teen die tyd dat ons die seuns by hulle huise aflaai.

Drie A’s vir goeie gesindheid, ondersteuning en leergierigheid vir die drie E’s.

 

Advertisements

10 comments

  1. elnabe · 18 Days Ago

    Ag hoe lekker lag ek oor die heerlike storie. Drie E’s vir drie Engele in die Highveldt… en drie dubbelde A’s vir julle deernis, waagmoed en deursettingsvermoeë! Ek lief die sit-foto, en sou al my pennie’s gee vir jou gedagtes.

    Like

  2. Leonette Smit · 18 Days Ago

    Hie hieee, my moedeloosheid

    Like

  3. doldaisy · 17 Days Ago

    Warm raak my hart vir daai 3 E‘s!

    Like

  4. HesterLeyNel · 17 Days Ago

    Dit was ‘n genotvolle storie. So algaande leert men.

    Like

  5. Leonette Smit · 17 Days Ago

    Ja-nee! Dit kon ‘n duur les gewees het vir my

    Like

  6. Toortsie · 6 Days Ago

    En drie A’s vir julle wat hulle opgelaai het. Mooi storie.

    Like

  7. Leonette Smit · 6 Days Ago

    Dankie Toortsie, dis maar staande praktyk in hierdie afgeleë wêreld.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s