Ontruim.

 

So onvermydelik soos die dood, so is huisopgee vir elkeen. Een of ander tyd in jou lewe moet jy daardeur.

So is dit ons voorreg om die afgelope paar weke weer deur daardie oefening te gaan. Nie omdat ons nou op pad ouetehuis toe is nie, maar omdat ons kinders uit ons huis in Pretoria getrek het. Daar staan die leë huis met huisraad – want ons is net met ‘n klein bietjie persoonlike besittings Vanwyksvlei toe drie jaar gelede. Al ons goed is nog daar sonder dat ons die kinders stoorgeld betaal het.

Die kinders beweeg aan. Ons moet ook.

Gelukkig val die oefening saam met ‘n uitnodiging van NG Lyttelton-Oos aan Johan om ‘n preekbeurt te gaan waarneem tydens die viering van hulle 60ste bestaansjaar. Die plaaslike kerkraad staan die besoek toe. Ons vertrek ‘n week voor die preekbeurt om solank ons besittings te gaan stoor – dis nog ses maande voordat ons kontrak met Vanwyksvlei verstryk.

Nou wonder ek? Sal jy al jou besittings gaan stoor as jy weet jy skaal in elk geval oor ses maande drasties af? So vlieg ons in en maak radikaal minder. Neem onemosioneel besluite oor uitsmyt, skenk, herwinning, stoor. Sien, een of ander tyd móét almal daardie besluit neem, anders neem iemand hom (wee jou) namens jou.

Daar’s hopies: hierdie gaan Hospice toe, daardie word geskenk aan Solidariteit, ‘n ander hopie is nog die kinders s’n, díés kan die skool op Vanwyksvlei gebruik, dít hou ons, daai wil ons nog gebruik, hierdie gaan vir die herwinningstrollies op asblikdag, boeke wat ons nooit weer gaan lees nie, kan gaan vir die kerk se boekrak. Jy moet mooi kophou tussen hopies om nie deurmekaar te raak nie …

Rye en rye teologiese boeke is nêrens meer in aanvraag nie. Stapels en stapels wiskunde en wetenskap studiesstukke en vraestelle gaan nooit weer gebruik word nie. Alles gaan vir papierherwinning.

Meubels en huisraad word weggery stoorplek toe.

Tussendeur word die huis se vloere herstel. Daar’s meer stof as dít wat mens nodig het vir nadenke of dankbaarheid. Dan moet daar nog geverf word ook want ons moet ‘n goeie huurder kry – hierdie is ons enigste pensioen. Dus word die week twee. Later twee en ‘n half …

huisf

Dis nie die eerste keer dat ons afskaal nie. Met elke verhuising gebeur dit noodgedwonge. Wanneer die kinders een na die ander die huis verlaat, neem hulle baie van hulle eie besittings saam. Ek reken alle mense doen dit ook in fases eerder as om eensklaps ontslae te raak van ‘n leeftyd se opgegaarde goed.

Hoe dankbaar is ek en Johan vir hierdie oefening van die afgelope paar weke. Dit leer ons ‘n duur lewensles. Die onnodige bagasie wat mens met jou saamsleep is soos ‘n binding. Weggee, weggooi, wegmaak, wegstuur, wegsmyt is bevrydend. Dit waarsonder jy ‘n paar jaar reggekom het kan iemand anders se lewenskwaliteit verbeter. Opgaar grens aan sonde …

Om ligter verder te reis word lekker. Goeters knel. Dis makliker met minder.

Minimalisme word ons motto. Ontruiming, ontdek ons, verruim.

Advertisements

11 comments

  1. Elza · 27 Days Ago

    Like

    • Franlie Lexow · 27 Days Ago

      Ek moet ook ‘n slag goed deur alles gaan-jare se opgaar verstik my. Nou het ons nog bokse en bokse goed geërf vd kinders wat Kanada toe is

      Like

      • Leonette Smit · 26 Days Ago

        Ai ou Franlie, en daarvan kan mens mos nie ontslae raak nie. Dit verbind jou dan aan jou kinders wat so ver is. Ek dink aan jou met die ver verlang

        Like

  2. Toortsie · 27 Days Ago

    Ek moes verlede jaar erg opruim, en dit lê weer vir my voor nog in hierdie jaar.

    Like

  3. Leonette Smit · 27 Days Ago

    Miskien is ons soos termiete; ons dra net aan en aan

    Like

  4. Emsie Mohr · 27 Days Ago

    Dankie vir die wyshede…. ek gaan nou in meer vryheid en gelukkigheid afskaal!

    Like

    • Leonette Smit · 27 Days Ago

      Doen dit net rustig. As jou tyd beperk is, kan mens verboureerd raak

      Like

  5. elnabe · 27 Days Ago

    Onthou net, termiete [ek het hulle op eie werf…] vreet en breek af. Dit is inderdaad bevrydend Leonette, ek dink as ons óór kan begin, met die kennis van nou, skaf ons baie minder aan… Dis heerlik om ‘n groot boks vol bruikbare goed vir iemand te gee, die glimlag te sien, en dït word jou “opgaar” – die herhindering aan vreugde op ‘n ander mens se gesig. Dis nie net bevrydend om ontslae te raak nie, dis verrykend. Siels-verrykend soos jou immergroen blog!

    Like

  6. Leonette Smit · 26 Days Ago

    Dankie Elna, en die hoogtepunt van ons Pretoriatrip was om saam met jou en Jan te kon kuier

    Like

  7. coetzee2014 · 25 Days Ago

    Ons het ook ‘n paar jaar gelede besluit, om af te skaal. Aanvanklik, wil sentiment, mens laat huiwer, maar nou, is ons baie bly, dat ons dit gedoen het. Soos Elna, hier bo, sê, dit is bevrydend. ‘n Besoeker, sê eendag: Julle bly darem nou baie Spartaans.

    Like

  8. Leonette Smit · 25 Days Ago

    En Coetzee, sal ons vra, wat is fout met Spartaans? Hoe vryer hoe blyer

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s