Vasie se koeitjie

Bontes is hoog neergesit. Sy veskyn dan al op TV in WegAgterpaaie. Juis waar Vasie besig is om haar te melk. Selfs Erns Grundling kry sy hande op kamera op haar.  Maar nou is Vasie se beroemde koeitjie vort. Weggelaai Upington toe met haar bruin kalf.

vasieMelk

 

 

En daarmee saam kom ‘n hele leeftyd van gaan-melk-elke-oggend vir ou Vasie tot ‘n einde. Al van die ouderdom van 5 jaar melk Vasie elke dag. Tydens sy koshuisdae as kind op Vanwyksvlei maak hulle beurte om soggens by sy pa se koeistalle te gaan melk vir die koshuisvoorraad. Steel so ‘n paar mondevol vars, warm melk uit die emmer op pad terug koshuis toe, so vertel Vasie.

Al die tyd wat Bontes ‘n kalf had op Hottentotsdam, ry Vasie vroeg soggens uit om te gaan melk. Rida gooi af en lewer af. Smiddae laat, ry Vasie weer uit plaas toe om die kalf te gaan afkeer. Duur melk sou mens dink. Maar nee, heel bekostigbaar vir Vanwyksvlei. Nou is dit iets van die verlede.

En so begin ‘n hele nuwe fase vir ons twee oues hier op Vanwyksvlei en ook vir almal wat van Bontes se melk gekry het. Want vars beesmelk op Vanwyksvlei is so ‘n kosbare kommoditeit soos vars lug en oop ruimtes en helder sterrenagte. Nou sal ons weer moet grootmaat aankoop as ons kans kry en dit vries.

melk

Want sien, boksmelk werk nie vir ons nie. Daagliks kweek ek kefir en dit vra vir vars beesmelk. Mens raak mos gou afhanklik van die groot bederf om vars kefirmelk elke dag te kan gebruik. Met hierdie einste kefir bak ek beskuit. Het seker al vir 10 jaar nog nie weer betaal vir karringmelk uit ‘n winkel nie.

As die kefirkorrels vermeerder, deel ek uit of vries. As die kefirmelk ophoop, maak ek feta van die maas deur die kefir deur te syg en die wei op te vang – danksy Lida Eksteen, my fb-vriendin se raad na my katastrofiese ophoping van kefir vir die BullRun verlede jaar. Dis einste op haar aanbeveling wat ek die oortollige wei gebruik om ricottakaas mee te maak. Want in ‘n afgeleë plek soos Vanwyksvlei, is feta en ricotta net so ‘n weelde soos vars melk.

Leer ek algaande hoe kosbaar wei is. ‘n Wildsboud word murgsag as jy hom in wei gaarmaak. As byvoeging tot sop en ‘n gladde jantjie, baat mens by al die heilsaamheid van die hoë protein-inhoud, kalsium, kalium, magnesium, fosfor, selenium, yster, sink, Vit B12, B6 en die lae vet inhoud. Wie gooi nou sulke kosbare voggies in die drein af. Boon-op is die reste van die proses om ricotta te maak ‘n ideale plantvoedsel. Al die ekstra’s vries perfek.

Kosmeties is wei ‘n perfekte tonikum. As ‘n toevlug teen velkwale, bied dit oombliklike verligting as mens dit aansmeer. Ideale aanvulling teen dehidrasie as ‘n maagkwaal jou plattrek. En ek kan verder uitwy oor wei.

Staan ek op met ‘n poepoog nou die dag. Bloedbelope en tranerig. Die naaste dokter is 80km ver in Carnarvon. Die naaste apteek is 125km ver in Prieska. Wat nou gemaak? Bel ek my skoondogter, Annemarie, welbekende oogkundige in Parys vir raad. Spoel die oog uit met wei, Ma, is haar aanbeveling.

Wei het ek beslis, al het ek nie oogsalf nie. Die proses van feta voorberei vir die kerkbasaar, het bottels vol wei opgelewer. Ek spoel die oog met wei in ‘n oogglasie. Onmiddelike verligting en beterskap, sê ek vir julle.

Ai, Bontes, jou waarde gaan diep gemis word.

 

Advertisements

5 comments

  1. Mariette · July 15

    Lekker gelees en gaan nie weer wy weggooi nie.

    Like

  2. elnabe · July 15

    Myne staan nou weer amper vier dae… sal moet deurgooi, en leer hoe maak jy daai kaas. Dit is ‘n stuk lewe wat wegval Leonette, melk wat vars en onge-fix van die boer af kom…

    Like

  3. Leonette Smit · July 16

    Ja, Elna, ek wonder hoeveel mense ken dit nog. Ek kon sommer hoor hoe jubel die kefir as ek daai lyfhitte melk oor hulle gooi. Die heel-heel lekkerste ooit!

    Like

  4. HesterLeyNel · July 16

    Ek het net gister op facebook geadverteer vir melk-kefirkorrels en iemand is bereid om die kultuur met my te deel. Môre moet ek dit gaan haal in Uvongo. Ek kan nie wag nie! Ek kan nou wel nie melk direk van die koei af kry nie, maar ek koop dit wel dieselfde-dag-vars en gepasteuriseer. Hou duim vas dat my kultuur lekker gaan werk!

    Like

  5. Leonette Smit · July 16

    Hester, ek verseker jou dit sal. Jy gaan nooit terugkyk nie. As jy vashaak, kontak my

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s