Begrafnis op Breekkierie

In stofstrepe kom plaasbakkies uit alle rigtings aangery na Breekkierie. Vanuit Vanwyksvlei, Kenhardt, Loxton, Carnarvon, Merydale kom vriende en familie groet. PL Moolman word vandag te ruste gelê.

20180711_191307R

PL Moolman

Skaars 40jaar oud, nog ongetroud, sterf PL aan ‘n hartaanval 5 dae nadat ons Oom Chrisjan De Bruyn te ruste lê op DeBruynsrus. Ons gemeenskap is geruk. PL is wyd en syd welbekend – dis sy wêreld hierdie waar hy gebore is en groot geraak het. Waar hy skoolgaan en vriende maak. Vanwaar hy die boerdery op Vaalputs behartig vandat hy sy opleiding voltooi.

Die plaas is al baie jare in die Moolmanfamilie se besit. ‘n Welbekende baken in ons wêreld op die pad wat afdraai Verneukpan toe vanaf die pad tussen Vanwyksvlei en Kenhardt. Op hierdie einste plaas is Oom Johannes Willemse byna 100jaar gelede gebore as die oudste van 12 kinders. Op presies hierdie selfde aarde, waar Oom Johannes leer loop en leer werk en sy liefde vir die karoobossies en hulle genesende waarde aangeleer het, ontluik PJ tot ‘n boer met ‘n diep liefde vir die Karoo en sy weelde.

20170916_143500resz

Oom Johannes Willemse en Antoinette Pienaar tydens ‘n byeenkoms in Loxton verlede jaar

FA Venter skryf ook in sy boek, Kambrokind, van sy eie kinderdae op Breekkierie. Sy pa se plaas, Constantia, was die buurplaas. Later van tyd, na die erge droogte wat sy ouers Kalahari toe laat trek het met die skaap, verkry Oom Frans Venter se pa deelsaairegte op Breekkierie.

Op einste Breekkierie word PL vandag te ruste gelê. Sy aarde.

Die skuur is ingerig vir die meer as 150 gaste waar Ds Fransie Human van Wellington, eertydse leeraar van Vanwyksvlei, die diens lei. Hy verwys juis na PL as hierdie wêreld se Kambrokind – altyd vrolik en dankbaar, altyd ‘n deurdrukker ten spyte van harde tye.

 

‘n Koue Noord-Westewind huil saam oor die verlies. Ruk aan die dakplate van die skuur. Stoot die koue wolkies in wat algaande saampak tot teen die einders.

Veldblomme en boesmangras, sy wêreld se liefdes, staan in die teken van sy lewe oral as versiering. Word ook op sy kis geplaas as laaste eerbewys voordat hy teruggee word aan die aarde. Nog een van sy liefdes, duiwe, word in hulle hordes vrygelaat oor sy graf – hulle wat weet waar huis is as simbool van PL se vertrek na sy Vaderhuis.

132520rez

Die groet is swaar. Ou PL, ou Boerie, ou Spyker;  altyd vrolik, so ‘n lekker danser, een wat oor die diep dinge van die lewe maklik ernstig kon raak, se stem is vir altyd stil. Se plek is vir altyd leeg.

Advertisements

7 comments

  1. David Malherbe · 11 Days Ago

    Dankie Leonette. Hartseer, maar goed en met deernis geskryf. Is julle nog steeds op Van Wyksvlei?

    Like

    • Leonette Smit · 11 Days Ago

      Ja, Dawid, ons het nog sowat 7maande van ons kontrak om uit te dien. Daarna nog onseker …

      Like

  2. elnabe · 11 Days Ago

    Ai, die een afspraak wat ons almal het, wat ons nie die tyd en uur van weet nie, en leef as-of dit nog laaaank nie tyd is nie. In die week sterf ‘n jong vrou [33] na haar huwelik van een week, weens suiker-probleme ons word geruk, maar weet dat die dinge gebeur. Iewers het iemand gesê: “Only the beautifull die young…”

    Like

  3. Marie Bredenkamp · 11 Days Ago

    Ek het met groot hartseer en deelneming vandag in my gees die begrafnis gevolg. Eers later vandag die parallel getrek tussen die een wat begrawe is, wat my ouma Maria Moolman was, wie se graf hy my omtrent 22 jaar gelede as matriekseun gaan wys het: Sy was 39 jaar en 4 maande oud toe sy in die Groot Griep van 1918 oorlede is – honderd jaar gelede – PL 40. Hoe profeties was sy woorde toe hy gese het “Al die Moolmans word hier begrawe, tannie.” My pa, Johannes Zacharias, is ook op Breekkierie gebore en hy en Oom Johannes Willemse was tydgenote – hulle het saam voetspore op hierdie grond getrap. Ek dra graag die meegevoel van ons kant van die Moolmans aan julle almal oor, Liefdegroete, marie (moolman) bredenkamp, Outeniquastrand

    Like

    • Leonette Smit · 11 Days Ago

      Baie dankie Marie. Hoe loop die geskiedenis van hierdie wonderlike aarde nie dik en breed nie, ne! En die stories wat met mekaar skakel is telkens so verrassend!

      Like

  4. Elsa van Zyl · 8 Days Ago

    N Plaasbegrafnis is n ander soort innigheid….ek ken nie vir PL, maar ek onthou die stil innige weemoed, eerbied, teenwoordigheid van God se Gees in die stilte en verlaterheid van die dood en vlaktes tot op die horison sover soos die oog kan sien op n plaas begrafnis….
    Sterkte aan almal wat treur oor en verlang na PL Moolman !

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s