Plêstiek issie vi’ wegstiek

Twintig plastiese sakke wat ge’fuse’ is om een dekoratiewe bak te maak, is baie beter as twintig sakke wat in die asblik beland. Dertig sakke om ‘n mat mee te maak, veel beter as dertig sakke deur die wind verwaai.

 

 

So bevind ek my alweer, vir die hoeveelste keer, betrokke by ‘n ding. Dit deur die toedoen van my suster; Mariëtte van Wellington. Van die eerste keer af wat sy by ons kom kuier, is sy so aangegryp deur die groot getal werkloses in Vanwyksvlei en die min geleenthede tot ontwikkeling, dat sy weer ‘n wilde perd gaan staan en opsaal. Nou is ons ‘n span van vier (en binnekort meer) wat ons vaardighede deel met almal in ons omgewing wat belang stel – Vanwyksvlei, Carnarvon, Williston en Loxton. Mariëtte doen verf- en skildertegnieke, Iréne van Caledon gee opleiding vir tuisversorgers van belêendes en bejaardes, Gwen van Bettysbaai bied naaldwerkklasse aan. Die uwe is ingegrawe in plastiekherwinning en handwerk met plastieksakke en plastiek bottels.

In Vanwyksvlei meld net een belangstellende aan en die werkswinkel word gekanselleer – Die afstand om vanuit die Kaap te ry met al die aangekoopte voorrade, verblyf op pad en in die dorp asook petroluitgawes regverdig dit net nie.

Ons eerste werkswinkel skop af in Williston. Net een inskrywing! Ons sak op die munisipaliteit toe om hulp te vra om meer lede te werf, vaar die woonbuurt in om belangstellendes aan te keer, maak ‘n paar oproepe en eindig met dertien deelnemers waaronder heelparty CWP-werkers. Aan die einde van daardie week deel ons sertifikate uit en al ses tuisversorgers se kontakbesonderhede word by die winkel opgeplak as kandidate vir ‘n werk as tuisversorgers.

L1440780

Die tweede werkswinkel vind in Carnarvon plaas. Veertien verwerf sertifikate in tuisversorging, die ander nege doen o.a. kuns, plastiekverwerking en naaldwerk.

Daarna is ons Loxton toe. Sewentien belangstellendes voltooi die werkswinkel.

Die positiewe van hierdie onderneming is om die deelnemers se getuienis en terugvoer te hoor:

“Mevrou, ek kan nie vir jou vertel hoe hierdie week my lewe verander het nie.”

“Nou gaan ek elke middag al my kleinkinders wat ek moet versorg leer plastiekgoed maak – en sommer al hulle maats ook!”

“Mevrou, ek kon nie slaap laas nag nie. Ek het heelnag net lê en dink aan al die mooi goed wat ek vandag gaan maak.”

“Die Here het julle oor my pad gebring. Ek wou nog my lewe lank skilder, en kyk wat het ek in hierdie week leer doen!”

“Van kleins af droom ek daarvan om ‘n tailor te word. Nóú gaan ek een word.”

L1450119

Iréne maak die opleiding van versorgers baie prakties.  Hulle oefen om voete en toonnaels te doen op inwoners van die plaaslike ouetehuis. Sy demonstreer hoe ‘n bedlêende pasiënt volledig in ‘n bed gewas word. In Williston en Carnarvon gebruik sy ‘n ou dame in die ouetehuis. In Loxton doen sy haar demonstrasie op ‘n parapleeg wat in ‘n klein donker kamertjiein die woonbuurt lê. Sy rug is in ‘n onderonsie gebreek en sy ma (wat ook moet werk om die pot aan die kook te hou) versorg hom met groot toewyding. Maar sy kamertjie het geen venster nie – al die ruite wat gebreek is, is toegeplak en toegetimmer om die koue uit te hou. Iréne gaan reël by die koöpersie om ruite te sny en af te lewer. Godfrey, die handige word betaal om die ruite te gaan insit. Nou kom daar darem weer sonlig die kamertjie binne. ‘n Rolstoel is aan hom geskenk, maar is te klein vir hom om te gebruik. Iréne reël met die plaaslike predikant, Andrea, om die rolstoel te gaan omruil met een van die groter ou model rolstoele van die eertydse ouetehuis sodat die jongman se ma hom soms buitentoe kan stoot.

Verder maak sy haar opleiding wat sy al vir 20 jaar doen, en waardeur daar al 9 000 versorgers werk gekry het, beroepsgerig. Sy leer hulle hoe om ‘n siekekamer mooi in te rig, goed te ventileer, hoe om ‘n skinkbord met kos of tee mooi te dek, sy leer hulle dissipline en netheid en gee ‘n breedvoerige oorsig oor algemene gesondheid. Hulle moet ‘n eksamen slaag alvorens hulle ‘n sertifikaat kan kry.

Gwen doen die naaldwerk in Carnarvon in ‘n VGK-saaltjie sonder masjiene – aanvanklik is daar nie eens elektrisiteit om ‘n strykyster te gebruik nie. Maar elke dag bemeester hulle ‘n nuwe tegniek – hoe om ‘n soom in te sit, ‘n stukkende plek te stop, ‘n ribtrim aan te werk, te appliek en ‘n ritssluiter in te werk. En elke dag maak hulle ‘n nuwe skepping met die hand. In Loxton tref sy ‘n volledig toegeruste naaldwerklokaal aan. Daar maak elk van die ses naaldwerksters elke dag ‘n nuwe kledingstuk of handsak waarmee hulle die aand van die sertifikaatuitdeling modeparade hou.

Mariëtte leer haar student van kleur en die kleurwiel. Sy begelei hulle om enige ou skinkbord of koekblik of bord ‘n nuwe lewe te gee.

Hulle leer selfs kaartjies en naambordjies maak en voltooi selfs hulle eerste skildery. Tussendeur rap en riel hulle!!

L1450314

Die uwe beklemtoon die belangrikheid van herwinning. Ons standpunt vanwaar ons vertrek is om die omgewing te red – om nie meer één plastiese sak of bottel in ons leeftyd die asblikroete te laat gaan nie, want so beland dit tog net weer op die verkeerde plek. Ons weef, brei, hekel, knoop, lamineer, modelleer en dekoreer met plastiek. Elke snippertjie afval gaan in ‘n 2ℓ koeldrankbottel om ‘n ekosteen van te maak – later gaan ons daarmee bou! Deesdae kry g’n bedelaar meer by my voordeur sommer net ‘n broodjie of ‘n koppie sop verniet nie – die heersende betaalmiddel is ‘n volgepropte ekosteen.

Die sertifikate is net tydelikes. As hulle al vier modules per vak suksevol voltooi het, verwerf hulle ‘n permanente, gelamineerde sertifikaat waarop seëls die betrokke suksesvole kursusse aandui – amper soos ons destydse Sondagskoolsertifikaat

Nou probeer ons weer opnuut om Vanwyksvlei te mobiliseer. Hou duimvas …

Ons het ‘n N.R.O gestig onder die naam Carpe Diem Opleidingsentrum. Om hierdie bemagtiging in die Noord-Kaap te kan doen, vra ons elke deelnemer R20 per dag, net sodat hulle met trots kan voel dis iets wat hulle self verwerf het. Dit dek nie eens ons oorhoofse koste nie. Ons maak maar staat op donasies om die werk te kan voortsit.

Kry ek gister die goeie nuus: Rymondo en Godfrey wat in Loxton die plastiekherwinning gedoen het, kry ‘n bestelling van 100 matte vanuit Carnarvon se wêreld.

Dis mos nou presies wat ons probeer regkry; werkskepping!

Advertisements

12 comments

  1. poerdez · May 1

    Well done!!

    Like

  2. Lida Eksteen · May 1

    Fantasties!!

    Like

  3. HesterLeyNel · May 1

    Dis absoluut fantasties! Baie geluk met julle en julle studente se prestasies.

    Like

  4. FRANLIE LEXOW · May 2

    Wonderlik!!!!

    Like

  5. Mariette · May 2

    Kom klim saam met ons op hierdie wa, al die 60 jariges en ouer. Ons het mos in ‘n bevoorregte tyd vaardighede en kennis verwerf. Dis nou gee-tyd, om brugbouers, bemagtigers en werkskeppers te wees is net ‘n voorreg!

    Liked by 1 person

  6. Anita · May 3

    Leonette én span, dis wonderlik om van al die omgee te lees. baie geluk en sterkte. In ons gemeente herwin ons plastiese proppe,doppies en deksels, gee dit vir ‘n skool se Voortrekkers wat dit weer gee aan ‘n instansie wat rolstoele aan minder bevooregtes gee … so het ons al gehelp met twee rolstoele.

    Liked by 1 person

  7. Leonette Smit · May 3

    Wonderlik Anita, daar’s so baie om te doen daarmee. Ons kan nie bekostig dat dit verder in die veld of riviere beland nie

    Liked by 1 person

  8. ekmyselff · May 3

    WOW!!! Baie oulik, well done!

    Liked by 1 person

  9. elnabe · May 11

    Julle neem die spreekwoord:”If life gives you lemons, make lemon-aid.” na ‘n nuwe vlak. Bravo! Mag die kers-vlammetjie wat julle aangesteek het dwars-oor die hele land begin lig maak. Ander kan mos ook so maak, die oes is so groot, en die ‘pelstiek’ so baie!

    Liked by 1 person

  10. Leonette Smit · May 11

    Jy praat!!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s