Geraldine en die Waterkar

L1230375

Water loop nie meer bedags in die krane in Vanwyksvlei nie. Tuin natgooi is al baie lankal buite die kwessie. Selfs die Kanniedood in my tuin is al dood.  Daar is net nie meer water in die krane nie vanweë die droogte en die swak waterdruk.

L1230380

Tensy jy so gelukkig is om ‘n watertenk op jou erf te besit wat oornag vol loop van dorpswater, met ‘n drukpompie wat aanskop as die krane oopgedraai word, moet jy maar voordag reeds genoeg begin opgaar vir die dag se gebruik. Want vanself kom die water nie meer uit by die huise nie, veral nie by díé hoër op teen die hang in die woonbuurt nie – die drukking is net te swak. Hier in die onderdorp spoeg dit soms vroegoggend so ietsie uit die krane voordat die mense water begin gebruik. Maar dit neem ‘n leeftyd om ‘n koppie water getap te kry.

Danksy die gereelde ritte van die waterkar, kry die huise hoër op in die woonbuurt tog daagliks water. Vir 14 jaar al ry Oom Schalk Esquire die waterkar. Reginald en Geraldine is sy assistente.

L1230377

Geraldine is ‘n vrou van vele vaardighede. Sy werk by die munisipaliteit as algemene werker. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. As daar pad herstel moet word, spring sy saam in. As daar draad gespan moet word, doen sy mee. As die dorp se vuilgoedsakke op ‘n Dinsdag weggery moet word, is sy op die sleepwa. Kom die rioolwa vanaf Carnarvon, is Geraldine daar om mangatte oop te gooi en suiers in te laat.

Onlangs het sy ‘n kursus bygewoon in boorgatpompherstel. Vanwyksvlei is afhanklik van boorgatwater. Daar is een boorgat wat sy water met behulp van ‘n sonpomp na die reservoirs in die aanleg pomp – of na die plant, soos die mense van die aanleg praat. Die ander drie of vier boorgate is toegerus met elektriese pompe. En ‘n man moet weet hoe werk hierdie pompe, want ons kan nie híér ‘n dag sonder water bekostig nie.

Verder is Geraldine ma van vier dogters en ook reeds ouma. Sy gooi haar volle gewig in by die kerk en by skoolaktiwiteite en by die dorp se sopkombuis. Sy is begenadig met ‘n lieflike sangstem. Al vier haar dogters ook. Hulle sing gereeld saam by kerkfunksies. Sy en haar oudste het juis verlede jaar met die Erfenisdagvierings so mooi gesing. Saam het hulle ‘n stuk getiteld New South Africa gesing en Geraldine se solo lied was Surely the Presence of the Lord.

Hierdie waterkar-ryery gaan heel somer so aan. Elke liewe dag van die week. In die winter is dit nie so ‘n groot probleem nie. Maar veral nou, met die vreeslike hitte en droogte in hierdie gebied, ry Oom Schalk en Geraldine soms soveel as vier ritte per dag deur die woonbuurt. Hulle begin vroegmiddag, net na 3nm. Die twee Jo-Jo’s, elk 2500ℓ, word volgetap uit die resevoirs by die aanleg onder in die dorp. Met die 5000ℓ op die sleepwa, vaar hulle die woonbuurt in. Op sentrale punte kom ontvang mense water met hulle dromme en kanne en emmers. As die Jo-Jo’s leeg is, is dit eers terugdraai en weer gaan opvul. Ek het al gesien dat hulle tot na nege saans, soms amper hier teen tienuur, steeds waterkar ry.

Wanneer die trekker en sleepwa vir iets anders gebruik moet word, soos vir Dinsdag se vuilgoedsakke, moet die Jo-Jo’s eers van die sleepwa afgehaal word. En na die rondtes weer opgelaai word.

Dit het al gebeur dat iets fout gaan met die boorgatpompe. Dan moet water aangery word van Carnarvon se kant af. Bo-op die kop agter die dorp staan twee groot reservoirs. Die reservoirs vanaf die aanleg, voed hierdie groot reservoirs deur die nag. As hulle die dag vol is, is daar sommer lekker druk in die krane op die dorp. Maar dit het baie lanklaas gebeur, want die pompe bly skaars voor om die paar reservoirs by die aanleg gevul te kry.

Schalk meen hulle word darem ordentlik vergoed vir al die ekstra ure wat hulle insit en oortyd werk elke dag van die week. Maar, hoe meer mens verdien, hoe meer word mos afgetrek, reken hy.

L1230371

Schalk Esquire, die waterkardrywer

Nou wonder ek maar net; Is daar dan nie ‘n langtermyn oplossing moontlik vir die probleem nie, eerder as om vir oortyd en brandstof en onderhoud aan die trekkertjie te betaal – al vir veertien jaar lank?

Advertisements

3 comments

  1. HesterLeyNel · December 19

    Sommige mense meen mos dat jy nie moet sukkel met ‘n resep wat werk nie; ry die ou kar tot hy gaan staan. Ek moet sê, ek wens die klomp mense hier aan die Suidkus waar ons nou sulke erge waterprobleme het, kan almal hierdie blogpos lees. Dalk sal daar minder klagtes en vingerwysings wees en meer samewerking.

    Like

  2. Leonette Smit · December 19

    Of die ou kar word gery omdat daar geen inisiatief vir ‘n alternatief is nie. Tot iemand eendag begin sommetjies maak.

    Like

  3. cecilia · December 21

    Die Bo-Karoo lê my na aan die hart. Dit is waar mens waardering vir God se genade in swaarkry leer ken. Die dorte en ooptes kan ook mooi wees, mits mens verby ellendes kyk en poog die God van die ewigheid daar agter soek en gewaar word. Dankie Getroue Heer vir die water van elders om ons mense te laaf

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s