Skoonmaak of doodmaak

L1230013

Die enigste lappie groen wat ek deesdae vanuit ons studeerkamer kan sien, lê en hyg in die skroeiende son tussen ‘n hoop rommel en ‘n prosopisbos wat erg stoel op ‘n kaal stuk aarde. Nie eens die duwweltjies het hierdie seisoen opgekom nie. Dis die enigste veldplantjies met blommetjies  waar die bye nog besoek kan aflê.

Ek hef my oë op van my werk. Nee, nie dít nie! Die skoffelspanne is jou wrintiewaar besig om daardie einste lappie groen uit te skoffel. Wat de … Dis al wat nog lewe in hierdie der dorte – ‘n moedige lappie patrysdruifbossietjies. In daardie area het laas, toe dit gereën het, bietjie waters opgedam gestaan. Die kinders van die buurt het daardeur geploeter en geplas, tog te lekker.

Ai toggie, dis mos nou nie mý verantwoordelikheid om die skoffelspanne aan te sê wat om te doen en wat om nie te doen nie. Ek probeer verder werk.

Elke keer wat ek opkyk, is my hart seerder. Daar gaan die enigste goedjies wat nog oorleef. Ek kan dit nie toelaat nie. Ek spring op en stap soontoe. Maar wat gaan ek sê? Ek kan hulle tog nie verbied om hulle werk te doen nie …

“Môre julle.”

“Môre Juffrou.” Die paartjies wat skoffel, kom regop en leun half op hulle se grawe. Die res, wat sit, bly sit,

“Gaan dit goed met julle?”

“Ja, dankie Juffrou.”

“Werk julle lekker?”

“Ja, dankie Juffrou.”

“Kan ek vir julle ‘n storie vertel?”

“Ja, dankie Juffrou.”

“Daar was eendag ‘n lappie grond. Dié lappie grond was op die randjie van dood in die hetige son en skroeiende wind. Net voor hy finaal die gees gee, besef hy dat as hy nie iets drasties doen aan sy ellendige situasie nie, hy vir ewig en altyd morsdood gaan sterf.”

Die klomp staar my aan of ek ‘n moroon is. Ek beur voort.

“So span hy sy laaste kragte in en neem ‘n besluit: ek gaan elke saadjie wat oor my waai vasvang en koester. Ek gaan elke druppeltjie dou of vog gryp en my bes doen om daardie saadjies te laat groei. Ek gaan nie sonder terugveg sommer net so vir ewig en ewig uitsterf nie.” Ek kyk in twaalf paar vasgenaelde oge vas. Ek druk deur.

“Dit was nie lank daarna nie, toe verskyn die eerste groen skynseltjie oor daardie lappie aarde. Die stukkie grond is só opgewonde, hy probeer harder as ooit tevore om elke plantjie aan die lewe te hou. Kort voor lank staan die groen bossie bankvas op sy oppervlak. Toe die westewinde weer begin woed en die son weer vel begin brand op die stukkie aarde, gee die plantjies darem ietwat van ‘n koelte as lafenis en waai die boonste grond wat geanker is nie sommer net weg nie. ‘Ek het dit gemaak! Ek lewe!’ jubel die lappie aarde dit bly uit.”

Sien ek ‘n skynsels van lig in party oë?

Toe vra ek: “Wie het vir julle gesê om vanoggend híér te kom skoffel?”

“Maar Juffrou sien, ons maak mos die dorp skoon” sê een namens die groep.

“Ja, ek weet en ek het groot waardering vir wat julle doen.” Ek buk af en tel een uitgeskoffelde plantjies op. “Ken julle hierdie plantjie?”

“Hy groei maar hier oral rond” antwoord ‘n ander een.

“Ken julle sy naam?”

Ek dink nie hulle het gedink onkruid kan ‘n naam hê nie. “Dis ‘n patrysdruif. Kyk, sy blaartjies lyk soos vet korreltjies. Hy lyk nogal na ‘n trossie druiwe. Weet julle, hierdie is, nes die naam sê, wonderlike kos vir die voëltjies. As al die ander kos in die veld op is, dan is daar nog altyd patrysdruif.”

L1230010

“Ja, maar Juffrou ons móét die dorp skoonmaak.”

“Daar is ‘n fyn lyn tussen doodmaak en skoonmaak” antwoord ek. Ek groet en stap terug, terwyl my hart moedeloos sug oor al die rommel wat teen drade vasgewaai, net so gelaat word.

Tuis merk ek op dat daar ernstig gepraat word onder die groep. Ek gaan maak troostee. Toe ek weer voor my rekenaar kom sit, sien ek die skoffelspan het opgepak.

Nou sit hulle op die straathoek onder die koelte van ‘n boom.

l1180187[1]

Advertisements

8 comments

  1. Anita Schutte · December 4, 2017

    Ja … kan jy nou meer!

    Groetnis van huis tot huis!

    Anita

    Like

  2. HesterLeyNel · December 4, 2017

    Sielkundige aanslag en soms werk dit 😊

    Like

  3. Anne · December 4, 2017

    A sigh and a heavy heart follows this excellent post: in my town too the plastic packets and cardboard boxes plaster the fences and choke the drains while the potholes grow larger and the cattle grow fatter – but the skoffeling continues willy-nilly!

    Like

    • Leonette Smit · December 5, 2017

      How sad, Anne, we sacrifice so much in order for more people to stay alive. But what a life will it eventually be with nature morsdood

      Like

  4. Mariette · December 4, 2017

    Ek wens mens kon sien hoe dit gelyk het toe die dorp nog boorde en groente en grane gehad het.
    Mooi gevertel!

    Like

  5. Franlie Lexow · December 5, 2017

    Dis mooi

    Like

  6. ekmyselff · December 5, 2017

    Foitog.
    Ek het lekker gelees.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s