Die Ryloper

L1200794

Sy staan langs die pad met haar sak vasgeknyp onder die arm. Netjies uitgevat in ‘n denim langbroek en denim baadjie wat al baie wassiklusse gesien het, maar tog lyk na winkel-toe-gaan klere. Sy gooi duim. Ek stop. Kom vra eers by die bestuurderskant of ek dalk op pad is Carnarvon toe. Sy moet ‘n paar goedjies by die winkel gaan kry.

Ons gesels die res van die pad kort. Haar woordeskat is netjies en sy sit mooi sinne aanmekaar. Vertel hoe tevrede sy is om uiteindelik ‘n man te kon kry met ‘n goeie hart. Wat nie rook en drink nie. Wat nie ‘n bakleier is nie. Wat hardwerkend is en ‘n eerlike dag se werk kan afhandel sonder om te mor.

Ons praat lekker gemaklik oor die lewe en sy gebruik mooi woorde soos kommunikeer en dankbaarheid en prestasies en vermag en geleenthede en vaardighede. Sy vertel van hoe sy haarself geleer hekel en brei het deur die ou mense dop te hou maar nou nie meer doen nie want sy het nie wol nie.

Sy vra of ek weer later terugkeer hierlangs. Ek verduidelik ek is op pad Loxton toe vir ‘n vrouekonferensie en weet nie hoe lank dit gaan aanhou nie. Moedig haar aan om nie vir my te wag as sy dalk ‘n ander geleentheid kan kry nie.

Kort na vier kom ek terug vanaf Loxton deur Carnarvon. Daar staan sy kort na die einde van die teerpad waar die grondpad begin. Swaai haar arms deur die lug toe sy die bakkie in ‘n stofwolk sien aankom. Denim knieë trap hoog oor karoobossies soos sy aangehardloop kom. Ek slaan rem aan.

Swaar sakke word agter op die bakkie gegooi. Sy klim dankbaar langs my in. Sy’t gedrink.

Skaars gegroet met die wegtrek of die dronkverdriet vind ‘n uitlaatklep: “Mevrou, hoe maak mens as jou mense jou nie eens ‘n stukkie brood wil aanbied nie oor hulle jou alewig verwyt oor dinge van die verlede.” Sy huil sommer dadelik ‘n diep, droefgeestige geween.

“Het jy gedrink?”

“Ja Mevrou, net een bier.”

“Dis darem min om so ‘n groot dronkverdriet van te kry.”

“Ja maar as mens drank nie gewoond is nie, kan hy so met jou maak.”

Sy begin weer bitterlik te huil. Ek trek dit met moeite stuk vir stuk uit haar uit:

Sy is buite die eg verwek. Het nooit haar eie pa geken nie. Is herhaaldelik deur haar stiefpa seksueel misbruik vanaf haar puberteitsjare. Het uiteindelik haar ma ingelig oor wat haar stiefpa aan haar doen toe sy begin agterkom dit is nie reg nie. Is deur haar ma uitgekryt en verwerp.  Het haar afgesloof op skool om haar ma se goedkeuring te probeer werf – sertifikate en toekennings ingeryg in akademie, sport, kultuur. Aan die einde van haar graad 11 jaar was haar ma wéér nie by haar prysuitdeling nie. Daar het sy tou opgegooi. Skool verlaat. Twee kinders by verskillende mans verwek wat sy nie self kon grootmaak nie. Uiteindelik het sy haar huidige man ontmoet en is getroud. ‘n Eenvoudige draadspanner wat al die kwaliteite in ‘n man het waarna sy nog altyd gesoek het. Maar elke keer as sy op die dorp kom en haar ma opsoek, moet sy weer van voor af die verwyte aanhoor oor hoe sy haar lewe opgemors het. Hoe sy nie matriek gemaak het nie. Hoe sy in ‘n lae klas ingetroud is. Hoe sy haar kinders weggegooi het.

“Mevrouuuuu! Wat moet ek maaaaaaak!!!!” Snot en trane spat.

Ek probeer my allerbeste beradingsvaardighede. Probeer vir haar verduidelik dat sy ‘n besluit oor die verlede sal moet neem as sy nie vir altyd en altyd ‘n slagoffer daarvan wil bly nie.

“Maar hóé Mevrouuuuu!!!” Sy snuif diep maar als kom weer net so uit saam met die smart.

Ek probeer weer. Verduidelik dat sy self die mag het oor die invloed van die verlede. As sy besluit om die verlede in die verlede te hou en te begin werk aan ‘n nuwe toekoms ….

“Maar Mevrouuuu!! Hoe dóén ek diiiiiiit!!!” Als is nou al nat gehuil. Ek ook.

Ek tik op haar kop. “Hier sit jou kragtigste wapen waarmee jy die vestings van die Satan kan vernietig. Niks is sterker as jou denke nie. Besluit om nie toe te laat dat jou stiefpa jou één dag verder slagoffer hou van sý verkeerde keuses …”

“Ek kan nie Mevrouuuu!! Ek kan dit nie vergeeeeeeet nie!! As ek by my man is, dan is my stiefpa dááááárrrr!!! Ek kan nie loskom van wat hy aan my gedoen het nieeee!! Ek het al vyf keer probeer selfmoord pleeeeeeegggg!!! Help my Mevrouuuuu!!! Help myyyyy!!!” sy gryp my linker arm vas met haar besnotte en betraande hande en ween in my skouer. Albei bene onder haar ingetrek in ‘n fetale posisie. Ek moet net mooi die bakkie in die spore hou op die grondpad.

Weer probeer ek deurdring. Probeer verduidelik volgens Rom 12:2 dat verandering alleen moontlik is as mens God toelaat om jou denke te vernuwe …

“Jaaaa!! Ek ken daai Skrifwoord Mevrouuuuu!! Maar ek weet nie hoe nieeee!!”

“Jy moet ‘n besluit neem. Dit moet ‘n radikale besluit wees. Wat agter is moet agter bly. Trek ‘n streep in die sand. Klim bo-oor as bewys daarvan dat die verlede agter jou is. Merk hierdie dag en datum as die einde van ‘n era. Begin ‘n nuwe lewe ….”

“Maar Mevrouuuuu!! Hoe kry ek die goed uit my kop uit!! Hoe veg ek teen die onthouuuu!!!” en die rou snikke skeur opnuut uit haar hart.”

“Jy vertel vir die onthou dat hulle nie meer welkom is nie. As hulle kom, dan herinner jy hulle daaraan dat jy besluit het dis verby. Hulle het nie meer krag oor jou nie. Die onthou sal nooit verdwyn nie maar hulle sal hulle krag verloor as jy hulle elke keer herinner dat hulle nie meer oor jou kan heers nie. Gebruik hulle om te bevestig dat dit oor en verby is en jou nie meer kan beïnvloed nie.”

“Maar Mevrou, hoekom het die Here dit toegelaaaaaat!!! Hoekom het Hy my nie teen my stiefpa beskerm nieeeeee!!! Hoekom doen die Here sukke dingeeeee!!!!”

“Hoor my nou duidelik en hoor my mooi: jou hemelse Pa wás daar. Jy was nie alleen toe dit gebeur het nie. Dit was nie sy wil nie, dit was jou stiefpa se verkeerde keuse. Maar my kind, die Here was elke keer by jou.”

Ek hou stil by haar afdraaipad. “Dankie Mevrou. Dankie!! Ek het so gebid dat die Here jou weer oor my pad moet stuur en Hy het. Wanneer  kom Mevrou weer hier verby?” kry sy dit tussen die snikke uit.

Ek vat haar aan die arm om vir haar te bid toe sy wil uitklim. Sy hou my linker arm met albei hande vas. Huil teen my bo-arm terwyl ek bid. Hoe langer ek haar aan die Here opdra, hoe dringender huil sy in my in. Ek is nat van my skouer tot my vingerpunte. Albei haar bene is nou al op die bank soos wat sy soos ‘n kind aan my probeer klou. Sy wil nie los nie al sê ek Amen.

Voor sy gaan, vertel ek haar dat ek ‘n onderwyser was. En as ek iets moeiliks aan my leerders moes verduidelik het, het ek getoets of hulle dit gesnap het deur hulle te vra om dit aan my terug te verduidelik. Ek wou hoor hoe hulle my gehoor het – of hulle verstaan het wat ek sê. As hulle die konsepte kan herhaal, weet ek die les het tuisgekom. Ek vra haar om in haar eie woorde vir my te vertel wat ek vir haar probeer sê het.

“Jy moet altyd liefde in jou hart hê en vrede najaag en dankbaar wees  vir alles.”

O, die drankduiwel!

 

7 comments

  1. Mariette · September 17, 2017

    Ek haat, haat, haat die mag van drank!!!!!!!!!!!!!!!!

    Like

  2. Leonette Smit · September 17, 2017

    Die magteloosheid daarteen maak dat mens so voel, ne

    Like

  3. Toortsie · September 17, 2017

    Ai ja

    Like

  4. Anita · September 18, 2017

    Hallo Leonette, ek het bogenoemde met ‘n traan in die lag gelees. Die drankduiwel vernietig só baie mooi verhoudings-en lewens. Liefde vir julle.

    Like

    • Leonette Smit · September 18, 2017

      Dankie Anita. Is dit nie so intens hartseer dat daardie mag soveel lewens inpalm nie. Eintlik is dit die uitsondering as daar nie drank betrokke is nie

      Like

  5. James Roux · September 26, 2017

    Ai tog so tragies vasgevang. Ek geniet jou skrywes, blik op ‘n samelewing en ‘n landskap wat vir meeste van ons
    vreemd is. Doet so voort, Baie dankie.

    Like

Leave a comment