Oom Doupie

Oom Doupie word 85 jaar oud. Hier op Vanwyksvlei gebore, groot geraak, skool gegaan, getrou, kinders verwek, en steeds hier.  Die oudste lidmaat van ons gemeente. “Die dop is nog oraait, maar dis die binnegoed wat nie meer wil nie” sê hy skertsend.  Soos ‘n weerstandige grasspriet wat plat getrap word, staan hy elke keer weer regop, soos weer onlangs na die dreigende hartversaking wat hy onder lede het.

Sy pa boer desjare hier op die lande. Henrik Thuys is die helper wat sy lewe lank op die plaas werk. As jong bandiet kry hulle hom op Carnarvon. Vat hom saam plaas toe. Daar is egter nie plek in die motor nie. Henrik sit toe wydsbeen oor die koplig – daardie groot ronde tipe wat soos brulpaddaoë vooraan die ou tjor was. Klou vir sy lewe tot op die plaas. Daar werk hy sy lewe lank as ‘n betroubare plaaswerker. Daar sterf hy ook baie jare later.

Oom Doupie se geheue gaan ver terug. As klein seuntjie speel hy en sy kleinboet, Billy buite. ‘n Drom val op sy boetie se voet en sny die voet erg. Oom Doupie vertel hoe hy van skrik weghardloop. Sy ouers los hom net so klein alleen op die plaas terwyl hulle Carnarvon toe ry om Billy by die dokter te kry. Later keer hy maar terug huis toe, seuntjie alleen. Wag beangs en verwese totdat sy ouers baie ure later van Carnarvon af met Billy terugkeer.

Skaars 16 jaar oud sit sy pa hom alleen, as die oudste van 3 seuns, met  600 skaap op die trekpad Kalahari toe. Met net een helper en ‘n wa en ‘n bokseil. Dis Meimaand. Alreeds koud in die Bo-Karoo en snerpend in die Kalahari. Hy vertel hoe hulle oorleef van mieliepap waarin skaapvet ingeroer word. Einde Junie kom hy met die skaap in die Kalahari aan. November trek hy weer terug met wat oorgebly en aangeteel het.

Vier jaar  later, in 1952, moet hy weer met sy pa se skaap Kalahari toe trek vir beter weiding. Dié keer, vertel hy, het hy darem ‘n perd en ‘n muilwa met twee muile. En ‘n bed op die wa. Op pad terug, naby Boegoeberg, dros die muile een nag agter ander muile aan. Die volgende oggend loop soek hy hulle te perd. Die perd trap in ‘n gat en val met sy volle gewig bo-op Oom Doupie se regterbeen. Van die knieg af heup toe, swel sy bo-been so erg, dat hy die naat van sy broek moet oopsny. Hy bel sy pa en ma want hy is nie in staat om te loop nie. ‘n Week later kom sy pa en ma daar aan. Sy pa het hom een kyk gegee en teruggery. Hy moes maar self aansukkel met die mank been en die skaap, terug Vanwyksvlei toe.

Met daardie been en al, speel Oom Doupie later jare kranig rugby vir Vanwyksvlei. Ry met ‘n oop lorrie Groblershoop toe om daar te gaan deelneem aan rugby wedstryde. Hy teel sy eie resieperde en  word ‘n kampioen met gymkana. Spog vandag met toekennings en trofee’s van daardie dae. Hy wys my sy swaard wat hy vanaf Engeland ingevoer het vir ₤50 waarmee hulle gymkana weddrenne gedoen het. ‘n Soliede staal swaard met ‘n koper handvatsel en skede.  So swaar, ek sukkel om hom uit sy skede te trek. En met daardie swaard volspoed op ‘n resiesperd verower hy menige pryse as kampioen.

Op sy dae ry hy vragte sand van Kleinfourieskolk Copperton toe vir bousand waarmee die dorp opgerig word.  Walle maak hy met ‘n span donkies vir boere in die omgewing om gatdamme gereed te kry as die reën sou kom. Later vervoer hy skoolkinders soggens en smiddae vanaf die lande skool toe en weer terug. Alles maniere om ekstra te verdien. So vertel Oom Doupie van die keer toe hy die kombi net buite die dorp omgooi – gelukkig nadat hy die skoolkinders afgelaai het. Net sy jongste, skaars ‘n jaar, was by hom in die kombi. Dié het hy op ‘n kombersie sitgemaak en man-alleen die kombi van sy sy opgetel, terug op sy wiele.

Oom Doupie se eerste grond wat hy self koop, is ‘n stukkie besproeiïngsgrond by Groblershoop. Daar hou hy skaap aan. As daar lusern nodig is vir sy pa se skaap, laat kom hy van sy lusern van Groblershoop af. Grond wat hy van sy pa erf is grond wat hy self gekoop het en op sy pa se naam moes sit. In die Vanwyksvlei gebied  koop hy nog plase aan – Baberaas, Vaalput, Pietswartsekolk, De Naauwte, Takdam, Karringmelkskolk, Vaderlandsdam, Visserskloof.  So sorg Oom Doupie dat elk van sy kinders – drie seuns en ‘n dogter – vandag eiendom besit.

Oom Doupie en Tannie Elize is vandag trotse oupa en ouma van 13 kleinkinders wat almal akademies of op sportgebied uitblink. Daar is ook al vier agterkleinkinders vir hulle gebore.

P1420644 (2)

Oom Doupie Oberholzer

Wat my die meeste verstom van Oom Doupie is sy briljante geheue. Hy kan sonder huiwering presies vertel hoeveel hektaar beslaan elke plaas wat hy gekoop het. Hy weet presies nog vir watter bedrag per hektaar hy elke plaas gekoop het en wat die koopsom van elke plaas was. Name en getalle, telefoonnommers en datums, bedrae en jaartalle haal hy presies korrek, sonder om eers te wonder uit die databasis van sy geheue.

Oom Doupie loop moeilik  – die nagevolge van rugbybeserings. Bestuur ook moeilik deesdae met sy sig wat nie meer so skerp is nie. Maar wat agter daardie twee sielvolle blou oë sit, makeer net mooi niks.

Advertisements

6 comments

  1. travel460 · September 5, 2017

    Jy is voorwaar ñ bo-baas storieverteller! Leonette, my kamermaat van 1980 op Kovsies, het van Vanwyksvlei af gekom. Alma Schreüder. Klink dit dalk vir jou bekend? Die hele familie het in julle geweste geboer.

    Like

    • Leonette Smit · September 5, 2017

      Verbeel my ek het al daardie van in die omtes gehoor. Maar tans woon die nasate nie meer hier rond nie

      Liked by 1 person

      • travel460 · September 5, 2017

        Dankie vir die laat weet.xx

        Like

  2. Anita Schutte · September 5, 2017

    Ai … dankie Leonette ek het nou lekker gelees én meegeleef!

    Ek was op ‘n Weskus Blommetoer nou so 2 weke gelede en het die eerste aand op Upington geslaap (oorgestaan).

    Ons het die Maandagoggend 05:30 vanhier vertrek en laat op Upington (Desert Palace Hotel) aangekom. Regtig net geëet en in die bed geklim.

    Daardie Upington lug was suiwerskoon, helder en ‘n blou wat ons nie hier in die stad ken nie, my vriendin sê die lug “stink” eintlik van skoonigheid!

    Dit was ‘n wonderlike ervaring en soos julle weet net baie droog … mooi blomme gesien aan die Weskus naby Saldanhabaai.

    Ons Lente begin nou stadig naderkruip met lieflike dae. Verder goed met ons tweetjies!

    Groete van huis tot huis. Ons bid almal vir rus-en vrede in ons land met genoeg reën vir al die waternood.

    Anita

    Like

  3. Mariette · September 5, 2017

    Lekker gelees en bewonder die puik foto’s.

    Like

  4. Franlie Lexow · September 5, 2017

    Sjoe, merkwaardig!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s