Oorle Annie Blom se kjênd

“Sy soek iets lekkers. Want haar ma is dood.” Dis die eerste woorde wat ek hoor toe ek die voordeur oopstoot as antwoord op die deurklokkie wat vier, vyf keer gelui word. Vyf kleintjies van verskillende ouderdomme staan teen die gaasdeur. Elkeen het seker ‘n beurt gevat om die klokkie te lui.

“Ag siestog, ek is jammer. Wie was jou ma?”

“Blom. Annie Blom”

“Wanneer is jou ma dood?”

“Gisteraand.”

“Wat het gebeur? Was sy siek?”

“Sy’t gif gedrink toe dooi sy.” Sonder ‘n sweempie emosie of hartseer.

L1200027

Is dit ‘n storie om my sag te maak om iets te bedel? Sy is sekerlik nog nie 6 jaar oud nie. Maar die groter seuntjies val dadelik weg met ‘n storie. ‘n Opgemaakte storie? “Hulle het haar vanoggend gebegrawe.”

Iets rym nie. Dis skaars 11uur. Gisteraand dood en vanoggend gebegrawe en als oor en uit?

“Hoe dan so gou?” wil ek weet.

“Die lykshuis se krag is af” het ‘n groter seuntjie dadelik ‘n antwoord reg. Sjoe, was daar dan so gou ‘n graf gereed? Kon hulle dan so gou al die familie hier kry? Gewoonlik vat dit tot 2 weke om almal kans te gee om die begrafnis by te woon. Ek begin vermoed hierdie storie is uit die duim gesuig.

“Nou hoe is sy begrawe?”

“Met ‘n doek oor haar kop en in ‘n ou rok.” Dis dieselfde slim knaap met die vinnige antwoorde.

“Hulle het haar in die graf laat insak” vertel ‘n ander enetjie.

“Hoe diep was die graf?”

Die ‘weeskindjie’ hou haar een armpie op tot bokant haar kop. Sy moes al by ‘n begrafnis gewees het.

“Het hulle haar nie in ‘n kis gesit nie?”

“Ja, in ‘n houtkis.” Nou hoe sou die knaap kon sien daar is ‘n doek oor haar kop en sy lê in ‘n ou rok as sy gekis was?

“Ek kan nie dink dat dit die waarheid is nie. Maak julle nie hierdie storie op nie? Kan ek gaan verneem of Annie Blom regtig dood is?”

“Gaan,” se wysneusie, “ry met die bakkie.  Laai ons in dat ons Doemenie kan loop wys.” Dit het hulle ook al gehoor – dat ek kinders in die bakkie laai dat hulle my moet gaan wys waar bly die pa of ma wat nie vir hulle sorg nie.  En dan vat hulle my op ver ompaaie vir ‘n lekker pretrit.

Ai, kan ek elke geval gaan ondersoek?

Toe gee ek maar.

Sulke oorspronklikheid moet darem beloon word.

Net na skool die volgende dag is weeskindjie en haar maatjie weer hier vir iets te ete. Die ougat maatjie herken ek van ‘n vorige keer. Dit was ‘n Sondagmiddag en ek het gestaan en klei afbrei. Sy wou weet wat my makeer – hoekom speel ek dan in die modder?

Nadat sy my ‘n lang ruk ernstig gestaan en betrag het, vra sy: “Doemenie, hoe kry Doemenie Doemenie se hare so glad?”

L1200025

Nou is die tweetjies alweer hier. Ek vermoed die ander drie staan net agter die heining, indien iets uitgedeel gaan word.

“Hoe gaan dit vandag met jou ma?” vra ek vir weeskindjie.

“Goed dankie, Doemenie.”

Sy is blykbaar nie meer dood nie …

8 comments

  1. travel460 · May 16, 2017

    Al kom hulle met jok storietjies by jou aan, skryf jy met baie deernis daaroor. Dit doen my siel goed om hier by jou te kom lees.

    Like

  2. Net Ek · May 16, 2017

    Dis darem so kostelik!

    Laat my dink aan die een in Paul C Venter se Terug na Egipte wat elke keer vir ‘n Denzel gebedel het, van ‘n lekhart tot kanker! 😆

    Like

  3. elza · May 16, 2017

    Maar tannie, hoekom speel tannie dan so in die modder :’) kostelik ma!

    Like

  4. Helena · May 17, 2017

    Wat ‘n ryk verbeelding! Hulle moet dalk luister na daai Wolf-wolf storie van die dogtertjie/seuntjie wat vir snaaksigheid wolf-wolf skreeu vir die mense en toe die wolf regtig kom toe glo niemand haar nie en sy word opgevreet. Fooitog, ten minste weet hulle by wie se deur om te gaan klop….

    Like

  5. Leonette Smit · May 17, 2017

    Ja beslis. Aan storietjies en antwoorde uitdink het hulle nie ‘n gebrek nie. Oorspronklikheid is ‘n gawe

    Like

  6. Hier "blok" Elanè · May 17, 2017

    “smaail” ek nou lekker.

    Like

  7. Elna Bekker · May 24, 2017

    …en die gladde bek wil nou nog gladde hare ook het…

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s