Om Eensklaps Alles te Verloor

By ons tuisgemeente in Centurion, Lyttelton-Oos, word Ds Freddie Schoeman te ruste gelê. Op 57 het ‘n kragtige hartaanval sy lewe gekos. Hy laat sy vrou, drie kinders, twee skoonkinders, ‘n kleinseun en ‘n kleindogter in wording agter.

Donderdagoggend groet Freddie en Alma mekaar. Om mekaar nooit weer te sien nie. Hy vertrek na Klub Immergroen se koeksisterbakkery in die kerksaal en daarna Kemptonpark toe vir ‘n vergadering. Sy vertrek skooltoe waar sy skoolhou. Sonder waarskuwing  is Freddie  vir altyd weg. Alles van hom, sy massiewe boekery, sy data op die rekenaar, sy skrywes, kursusse en preke, sy klere, skoene en besittings is daar.  Alles is steeds daar.  Maar hý is vir altyd weg.

As predikantsvrou weet ek dat mens se identiteit maklik  kan lê in jou man se amp en verbintenis met ‘n gemeente. As dit wegval, en jy  is werkloos en inwonend in ‘n gemeentepastorie, kan jou hele wese eensklaps in duie strot. Gelukkig het Freddie en Alma na meer as 30 jaar in die pastorie in Lyttelton, ‘n paar maande gelede hulle eie huis gekoop en uit die pastorie getrek. En Alma het ‘n vaste werk en ‘n vaste inkomste.

Die lewe móét aangaan vir Alma.

Sonder Freddie.

ᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗ

Op Sondagaand, 9 April, gaan daar ‘n kragtige elektriese vloedgolf van Evkom deur Vanwyksvlei. TV’s blaas. Gloeilampe ontplof. Rekenaars vrek onherstelbaar. Vrieskaste kalf. Dit word ook waargeneem sover as Carnarvon, Loxton, Williston.

In die vroeë oggendure merk ‘n poliesepatrollie ‘n gloed en rook in Kosie en Frances  van Schalkwyk se huis. Die kraggolf het ‘n kortsluiting veroorsaak wat heelnag nog lê en smeul. Kosie en Frances is nie tuis nie. Hulle was heel naweek tuis maar vertrek laat Sondagmiddag plaas toe vir die week se werksaamhede daar. Gewoonlik bly Frances agter op die dorp vir die week, maar om een of ander rede gaan sy saam met Kosie plaas toe waar net die nodigste aangehou word.  Net om nooit weer iets van  haar grootwordhuis en van al hulle besittings oor te hou nie.

Die polisie kan nie die traliedeure oopkry nie, want deesdae bly ons mos in forte. Teen die tyd dat Kosie opgespoor word en die pad Vanwyksvlei toe afjaag met die sleutels van die traliedeure, is omtrent alle plankvloere  en meubels al aan’t gloeie. Toe die traliedeure uiteindelik oop is en mens kan inkom om die brand te probeer blus, vat daardie gloed suurstof en ontplof in ‘n onblusbare vuur. Vensters ontplof uit hulle rame en weergalm soos kanonskote deur die vroeë oggendlug. Alles, alles brand tot as.

Alles.

Al Frances se kosbare erfmeubels, o.a. ‘n geelhouttafel met 10 stoele. Elke kosbare eetservies van geslagte tevore bars in skerwe. Elke skoen, kledingstuk, ornament, boek. Al Frances se  kosbare juwele.

Alles.

Elke kosbare herinnering van hulle seun Jaco se springbok rugbydae. Elke aandenking en toekenning wat hy al ooit gekry het tydens sy klubrugbydae in die buiteland.

Alles.

Vir Kosie en Frances moet die lewe ook aangaan.

Kosie en Frances kan eis teen die versekering.

Hulle het nog die plaas.

En hulle het nog mekaar …

Advertisements

6 comments

  1. Franlie Lexow · April 25, 2017

    Ja,ek ken daai seer van in ‘n oogwink iemand te verloor.

    Like

  2. ekmyselff · April 25, 2017

    Ai ‘n mens verstaan nie – maar eendag sal ons.
    Sterkte aan albei van hulle.

    Like

  3. Anita Schutte · April 25, 2017

    Ai, maar dit is hartseer … sterkte vir almal!

    Groetnis,

    Anita

    Like

  4. Hier "blok" Elanè · April 25, 2017

    En binne oomblikke verander ‘n mens se lewe vir altyd en dan raak aardse besittings nikswerd nie.
    Twee mense word een, twee mense bly twee agv ‘n Hoër Hand wat dalk gesien het wat ons nie gesien het nie, en geweet het hierdie moet nog twee mense wees al word alles aards vernietig?? Wat sou ek gekies het? Verseker die laaste deel van hierdie hartseer realiteit.

    Like

  5. Elna Bekker · May 4, 2017

    Op die ou end is almal se lewensfoto’s die van die gebrande stukke “skatte” met stukkies onthou tussen die as.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s