‘n Tragiese Verhaal van Verspeelde Kanse

Eendag, nie so lank, lank gelede nie, is ‘n prinsessie gebore. Haar naam was Prinses M. Haar ouers, wat in die Gange in Vanwyksvlei gewoon het, was oorstelp van vreugde.

13265923_881007542045761_745204177575354574_n

‘n Ruk later, in daardie selfde jaar word nog ‘n prinsessie gebore. Haar naam was Prinses J. Ook haar ouers, wat in die Kroek in Vanwyksvlei  gewoon het, was in die wolke oor die wonderlike toevoeging tot hulle gesin.

Albei ouerpare het, ten spyte van hulle omstandighede, hierdie prinsessies oorlaai met liefde en versorging. Omdat hulle nou nie juis in koninklike paleise gewoon het nie, kon hulle nie altyd aan hierdie twee prinsessies gee wat hulle hartjies begeer het nie. Tog, danksy die regering se kindertoelae en die skoffelwerkie van die staat, het hulle altyd genoeg gehad om van te lewe en kon hulle onbesorgd groot word tussen al die ander kindertjies wat in Vanwyksvlei opgegroei het.

Op ‘n dag, nog voordat Prinses M kon begin skoolgaan, sterf haar mamma en laat haar en twee ander susters alleen agter by hulle pappa. Op daardie stadium het hulle pappa in die myn by Copperton gewerk en moes van Maandag tot Vrydag die dogters alleen agterlaat om na mekaar om te sien.

Prinses J se pappa weer, het hulle verlaat. ‘n Ander oom het by haar mamma ingetrek. Elkeen se swaar op so ‘n bloedjong ouderdom het hulle na mekaar gedryf. Hulle word beste maatjies. Doen alles saam. Saam-saam is hulle Gr 1 toe.  Altyd aan mekaar se sy.

Maar, soos dinge maar gaan in die Kroek en in die Gange in Vanwyksvlei (en seker op baie ander plekke),  is alles nie altyd goed en gelukkig en mooi nie. So begin gebeur die lewe met hierdie twee prinsessies. Hulle ervaar dat daar ‘n slegte kant is van die lewe. Voordat hulle lewens nog behoorlike kon bot soos roosknoppies, word hulle steeltjies al gebreek.  Sonder die nodige kundige begeleiding  en ondersteuning, probeer die twee prinsessies om maar self die seer en ontugtering te hanteer.  Hulle is skaars 13 jaar oud en saam met hulle nuwe liggaamlike ontwikkeling,  begin droom hulle van ontvlugting na ‘n beter lewe met beter omstandighede en beter geriewe.

Dis ook nie lank daarna nie, dat ‘n nare feë hulle voorlê. Haar naam was Ca Nnabis. Ewe besorgd oor hulle geluk, bied hierdie slegte feë aan om eensklap hulle ongeluk in geluk te verander met die swaai van haar towerstaf. Wat sy nie vir hulle gesê het nie, is dat ‘n eenmalige swaai van haar towerstaf nie permanente geluk kan bring nie. Gevolglik moes hulle weer en weer die nare feë gaan opsoek om net bietjie verligting van die seer en die swaar te kon beleef. En elke keer, met elke besoek, het die nare feë se fooi gestyg.

Wat hulle nie geweet het nie, was dat die nare feë maar net ‘n dienskneg was van ‘n ander bose feë Haar naam was Ma Ndrax. En baie subtiel bied die nare feë eendag, toe hulle wéér nie kon betaal nie, die dienste van die bose feë aan. Dis gratis!

Die bose feë se towerstaf werk wonderlik. Eufories word hulle na ‘n ander droomwêreld heen gevoer.

Met hulle volgende besoek aan die bose feë, is haar dienste skielik baie duur. Hulle het nooit die fynskrif gelees nie – net die eerste diens is gratis! Boonop is die nare feë skielik ook nie meer so goedkoop nie.

Omdat nie een van die prinsessies uit ‘n paleis met baie middele kom nie, begin hulle toe wyer soek na dit waarmee hulle die nare feë en die bose feë kan vergoed vir hulle dienste. Dit kos toe baie waagmoed, maar ‘n keer of wat kry hulle dit baie suksesvol reg om genoeg in die hande te kry. So raak hulle albei later baie vernuftig om te kry, sonder om uitgevang te word.

Op ‘n dag, in die laaste week van die skoolvakansie dwaal hulle honger en hoogs verveeld straataf . Hulle het al gehoor dat die juffrou by die pastorie maklik ‘n stukkie brood of ‘n koekie gee vir kinders wat honger is. So besluit hulle om daar ‘n draai te maak. Maar daar is g’n lewe nie. Hulle loop om die huis. Klop aan die deur. Nee. Niemand.

Toe kry Prinses J ‘n goeie plan. Daar’s nie ‘n voertuig nie, wat beteken die dominee en Juffrou sal nie gou by die huis wees nie. Hulle gebruik net die voertuig as hulle weggaan. Andersins stap hulle sommer waar hulle wil wees in die dorp. So, daar sal genoeg tyd wees om gou te gaan kyk vir ‘n stukkie brood. Of iets om die nare of die bose fee mee te betaal …

Prinses J tel ‘n boomstomp op en klits die onderste ruit van die TV-kamer daarmee uit. Die slag is oorweldigend en prinses M druk haar ore toe. Maar toe sy weer sien, klouter Prinses J deur die gat. “Kom!” skreeu Prinses J,  “ kom kyk!!”

Prinses M klouter ook veilig deur. “Jou voet bloei, Prinses J” merk Prinses M op.

“Ag dis niks, net ‘n klein snytjie. Kom ons gaan kyk.”

Hulle kan hulle oë nie glo nie. Dis ‘n yslike huis met báie kamers. ‘n Enkele kamer is amper groter as hulle hele huis in die Kroek.  Meer as een badkamer met  lang baddens en ‘n spoeltoilet in elk. Self ‘n stort ook nog. En ‘n wasbak. In die kamers staan massiewe beddens met mooi linne. Spieëltafels  met gróót spieëls.

Hulle ondersoek die huis verder. In die studeerkamer is rakke met baie boeke. Twee lessenaars met draaistoele. Hulle begin laaie ooptrek. Dit word ‘n wonderlike ontdekkingstog. Terwyl die een nog laaie deursoek, is die ander een al in die sitkamer. Maak kasdeurtjies en laaitjies oop.

“Kroon! Hier’s baie kroon!”  skreeu die een uit die studeerkamer. In die dominee se laai is koevertjies met Oom Boy se naam op. “En ‘n selfoon!” Maar die selfoon werk nie. Dis nie ‘n probleem nie – hier is dan ‘n charger.

“Hier’s ook kroon!” skreeu die ander een uit die eetkamer wat op ‘n blik in die buffet afkom met geld in.

Hulle pak dit op die mat in die sitkamer uit. “Hiermee kan ons baie keer by Ca Nnabis  en Ma Ndrax gaan kuier!”

Vol bravade soek hulle verder.

Die uiteinde is ‘n groot partytjie. Onbeperkte toegang tot baie drank, koekies, kondensmelk, versiersuiker, glanskersies, vrugte …

Nou het hulle baie moed. In die hoofslaapkamer pas hulle die juffrou se onderklere aan. Paradeer daarmee op die bed en neem van hulself foto’s met die selfoon. Leë bierbottels staaan oral. Nou is dit ook nie meer lekker nie. Takel ‘n bottel 2012 Spier sjampanje en elk gaan lê in ‘n bad met ‘n glas vol soos hulle al op TV gesien het.

Dit is seker ‘n goeie paar uur later wat hulle uiteindelik, in ‘n besope toestand, by die gat in die ruit uitkruip. Elk met ‘n sak gelaai met kroon, make up, creams en sprays en baie juwele.

Maar hulle word, met alles in hulle besit, op heterdaad betrap.

Toe dominee en die juffrou laat die aand terugkeer uit Upington van hul kleinseun se doopplegtigheid, wag die polisie hulle in. Die huis is in absolute chaos. Bloedspore op die matte. Leë drankbottels in feitlik elke vertrek. Vuil baddens. Taai gemors en vuil skottelgoed in die kombuis.

Vroeg die volgende oggend is die polisie terug met Prinses M en haar pappa, asook Prinses J en haar mamma. Daar word gepraat oor die opsies vorentoe. Meeste van die verlore goedere is teruggekry, die ouers kan nie ‘n nuwe ruit vanuit Prieska bekostig nie. Die prinsessies is nog te jonk om toegesluit te word. Dus sal hulle maar moet werk vir die ruit. Die hele week. Nie dat werk ‘n straf is nie, dis al manier om die ruit te kan bekostig – en dit sal hulle van die straat afhou. Geen skoolvakansie verder vir dié tweetjies nie! Die ouers stem in en die dominee doen ‘n gebed vir almal.

Hulle val toe sommer dadelik in om hulle eie gemors op te ruim, want die juffrou het nie ‘n bediende nie.

“Het julle al vanoggend iets geëet?”

“Nee Juffrou.”

Die juffrou bring vir hulle tee en beskuit waar hulle in die TV-kamer besig is om die glasstukke van die gebreekte ruit op te vee. Op ‘n skinkbord. ‘n Porselein teepotjie.  Melk en suiker apart. Hulle moet soos prinsesse kan voel, nie soos honde nie, want ‘n nuwe era het mos nou begin…

P1420134

Prinses M maak die kombuis skoon terwyl Prinses J die bloedspore van die matte afskrop. Die juffrou deel werk uit. Hulle bly heeloggend besig.

Die dominee werk in die garage en die juffrou op die rekenaar. Sy moet dokumente aflaai en besef dat al haar datastokkies weg is. Sy roep die dominee om te hoor of hy dit dalk gebêre het. Ook syne is weg. Selfs die nuwes wat nog in hulle verpakkings was. Die dominee is kwaad en roep die twee prinsesse. Raas. Verduidelik dat al hulle inligting, asook die kerk s’n op daardie stokkies is. Die prinsesse weet van niks. Weet nie eens wat memory sticks beteken nie. Dominee waarsku. “As dit nie môre-oggend 8 uur hier is saam met die hangertjies en die naelknippers wat nog soek is nie, sal ons maar moet oorweeg om tog ‘n saak te maak.” Die prinsesse pleit onskuldig.

Later berei die juffrou middagete voor. ‘n Tafelgebed word gedoen en die twee prinsesse eet saam met die dominee en die juffrou in die kombuis. Tussen 1 en 2 mag hulle huis toe gaan om presies 2uur weer in te val.

Dis amper half 3 toe die twee aangeslenter kom. Elk met ‘n stokkielekker in die mond. Juffrou raas oor hulle laat is. Hulle val weer in. Kort-kort moet Juffrou vir Prinses J terugroep na haar werk. Sy’t momentum verloor en dros telkens terug na waar Prinses M skoonmaak.

Tannie Rachel daag op wat ‘n pakkie by Juffrou moet kom kry. Juffrou laai vir tannie Rachel in die bakkie om haar huis toe te vat met die pakkie. Prinses J staan nader. Sy haal R20 uit haar bra. “Koop vir ons elkeen ‘n pie.” Juffrou ontplof amper oor die blatante manier. “Gaan aan met die meubels. As jy klaar is in die sitkamer, politoer jy die bank in die voorportaal.”

Oppad terug van tannie Rachel gaan verneem  die juffrou of die datastokkies nie dalk nog by die polisiestasie is waar hulle die gesteelde goedere gehou het nie. Die speurder is kwaad toe hy hoor dat dit ook weg is. Hy kom praat met die twee prinsesse. Verduidelik vir hulle hoe belangrik sulke datastokkies is. Hoe daardie inligting nooit weer teruggekry kan word as dit eers weg is nie. Hy verduidelik dat dit nie kan wag tot môre-oggend 8uur nie en staan op. “Ons gaan dit nóú haal.”

Prinses M staan saam met hom op en binne 10 minute is hulle terug met al die verlore datastokkies. “Nou verduidelik vir my waarom lieg julle so blatant dat julle dit nie gehad het nie!” wil die dominee kwaai  weet.

Die dominee vra vir die juffrou die strokies van die aankope wat sy in Upington vir Sondag se gemeente-ete gedoen het. Maar  haar beursie is dolleeg! Sy kan nie onthou waarvoor het sy dan so baie geld uitgegee nie. Het sy dan kontant betaal vir goed wat sy met die kaart moes aankoop? Waar sou sy dan haar kontant ingedruk het?

“Prinses J, was jy in my beursie?”

“Nee juffrou!” met die onskuldigste gesig wat jy kan kry. “Daai R20 het my ouma vir my gegee toe ons nou by die huis was.” Drie keer vra die juffrou haar  en elke keer ontken sy.

Die dominee en die juffrou moet uitry na ‘n plaas toe na mense wie se huis die naweek afgebrand het. Hulle laat loop die twee prinsesse vroeg sodat hulle kan klaarmaak om te ry. “8uur op die kop môre-oggend. Julle is nie laat nie en julle bring alles terug wat aan ons behoort wat nog by julle is, gehoor.”

Met die regmaak om uit te ry plaas toe, kom die dominee af op die verlore hangertjies en naelknippers van die juffrou in sy bedkassie. Dit was nie vroeër die middag daar toe die juffrou sy liddoringpleisters vir hom daar gaan insit het nie…

Oppad plaas toe, herroep die juffrou haar laaste inkopies en onthou, na aanleiding van die kleingeld wat uitgekeer is, dat daar presies nog R180 in haar beursie moes wees. Sy is kwaad. Sy en die dominee besluit om die prinsessies die volgende oggend nie weer in die huis toe te laat nie.

‘n Halfuur laat kom die tweetjies die volgende oggend vrolik daar aan.

P1420605

Die juffrou groet vriendelik. Vra hoe was hulle nagrus. Verneem hoe dit by die huis gaan. Verneem ook of hulle iets van die verlore goedere teruggebring het. Niks.

“Vandag sal julle in die warm son werk. Elke ruit aan die buitekant was. Vir julle eie kos en drinkgoed verantwoordelik wees. Nie julle voete weer in die huis sit nie, want ek vertrou nie een van julle meer nie.” Die speurder daag op. Praat mooi met die twee oor die geld wat weggeraak het. Vra uit na waar hulle die vorige middag stokkielekkers gaan koop het. Sê toe dat hy maar dáár sal gaan verneem met watse geld hulle daarvoor betaal het. “Ons het dit betaal met die R20 wat my ouma gegee het”  sê Prinses J.  Regtig? Watter ander R20 het sy dan aangebied vir pies?

Prinses  M besef dat hulle nou vas is. Sy kom uit met die sak patats. Toe hulle die vorige dag huis toe is, het Prinses J nog R150 by haar gehad.  Saam met die stokkielekkergeld en die piegeld, maak dit op vir die verlore R180. Maar daar’s niks daarvan oor nie. Volgens hulle het hulle brood en polonie daarmee gaan koop, maar eintlik het hulle ‘n besoek aan die bose fee gebring.

“Nou luister,” gaan die speurder voort, “as julle vanmiddag hier uitval, kom julle direk stasie toe. Ons gaan julle vingers vat. Daar is nog te veel onopgeloste sake in die dorp. As die vingers ooreenkom met ander misdaadtonele, sal ons julle maar moet toesluit.”

“Prinses J,” sê die juffrou, “dink jy ek is ‘n ҏðɝᵽṏᶅ dat jy jou aan my kan afvee en as ek my rug draai my nog verder kan besteel? Ek wil net vir jou sê, die saak is glad nie tussen my en jou nie. Wys maar vir my middelvinger. Vee maar jou ᵷᶐᵵ af aan my. Wat jý besluit om met die tweede en derde kanse in die lewe te maak, is nie mý verantwoordelikheid nie. Ek kan my nie verknies oor jóú keuses nie.  Die saak is tussen my en die Here. Want eendag sal ek moet verduidelik waarom het ek nie vir ‘n klein prinsessie in Vanwyksvlei ‘n tweede, selfs ‘n derde kans gegee het nie. Dít nadat Hy vir my soveel kanse in die lewe gegee het.”

Die twee prinsesse het swaar gewerk tot 1 uur.

Na 2nm het hulle nie weer teruggekom nie …

 

10 comments

  1. Rika Kruger · April 13, 2017

    Ai Skoonsus, so jammer om te hoor. Jammer oor die uiteinde en jammer oor al die ongerief. Groete.
    Rika het nou net vir my die saak laat lees. Ek is regtig jammer om dit te hoor. Ek is nog jammerder oor die verspeelde kanse van die twee. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Ai mag hulle tot bekering en berou kom. Ons is regtig jammer oor julle ongerief. Baie sterkte ook vir julle.

    Like

    • Leonette Smit · April 14, 2017

      Dankie Skoonies, ja, wat kan mens hierop se^. Die duiwel het nie ‘n lui haar op sy flikken kop nie.

      Like

  2. Toortsie · April 14, 2017

    Daardie feë, daardie feë.
    Die grootste hartseer is die mees basiese lewenslesse wat hulle nie kleintyd kon leer nie. Dis so jammer.

    Liked by 1 person

  3. Leonette Smit · April 14, 2017

    Oepsie Toortsie, nou eers sien ek dat ek feë verkeerd gespel het. O weë

    Like

  4. travel460 · April 14, 2017

    Ek het eintlik nie woorde nie. Hierdie verhaal is seker dieselfde as baie ander wat daagliks reg oor die wêreld afspeel. Verspeelde kanse. So jammer dat dit met julle gebeur het; al wat ons seker kan doen is om ons Here te vra om in dié twee se lewens in te gryp voor dit te laat is.

    Like

  5. Leonette Smit · April 14, 2017

    Amen. Dis nooit te laat vir Hom nie.

    Like

  6. johannclaassen · April 15, 2017

    As iemand by wie se besigheid nege keer ingebreek is en een keer beroof was, wie se huis vier keer besteel was, lê my simpatie by jou. Maar daardie twee prinsesse het van dag een af nie ‘n kat se kans gehad nie. Dis godswonder dat hulle gevorder het tot op daardie ouderdom wat hulle nou reeds is. Hier is nie net armoede ter sprake nie maar ook twee totale disfunksionele huise (gesinne). Die totale sosiale bestel het hierdie twee kinders (en nog baie ander) gefaal: Die Ouers, die Skool, die Kerk en die Reg. Die polisie se primêre taak is voorkoming van misdaad – nie om te arresteer nadat misdaad klaar gepleeg is nie. Weens die gebrek aan voorkoming is die dorpe en die stede besmet van dwelms en dergelike gif. Weens ‘n onstabiele regering wat beleggers uit die land hou, neem werkloosheid toe, ensovoorts, ensovoorts.
    Dit gaan baie meer as net ‘n skrop en skoonmaak vir ‘n dag of twee kos om hierdie twee prinsesse tot ander insigte te bring. Uiteraard weet ons ook nou nie wat verder met hulle gebeur het nie.
    Dan net so terloops: As daardie twee prinsesse se ouers miljoene agter hulle gehad het, het julle vandag met ten minste twee siviele sake op hande gesit…
    Groete vanuit die Paarl.

    Like

    • Leonette Smit · April 15, 2017

      Dankie vir jou simpatie, Johann. Klink my jy het al erg deurgeloop. Is daar iemand wat dit nog nie aan die lyf gevoel het nie? Hierdie is ‘n probleem wat nooit deur individue opgelos sal kan word nie. Soos jy tereg opmerk is iets groters as ‘n tekort aan rehabilitasie aan die wortel van die probleem. Nee wat,niks het verder gebeur nie. Hulle het hulself uit die “program” ontslaan. Ons het die ouers gaan inlig. Hulle hande is afgekap. Die polisie beweer ons het die saak uit hulle hande gevat. So, die twee loop en spog in die woonbuurt oor hulle prestasie.

      Liked by 1 person

  7. Elna Bekker · April 20, 2017

    As ‘n mens so deur iemand vreemds in jou huis beroof is, voel dit of dit nie meer jou eie is nie. Jou privaatheid is betreë. Saam met die ontnugtering kom dikwels ook die besef dat die enigste “goed” wat die moeite werd is, is die lewe in jou lyf wat jy saam dra.

    Like

  8. Leonette Smit · April 20, 2017

    Dis so waar. Mens kan als in een oomblik verloor, maar niks is so belangrik soos jou lewe nie

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s