Skaapafval

P1410188

“SeënVaderwatonseet. GeedatonsUnooitvergeet.” Dan sug Oupa die “Amen” agterna uit – mens hoor net die A…

Pa dra vir Ouma die groot ysterpot met die afval van die koolstoof af tafel toe. Sy stoot die plankie waarop die pot moet staan vir hom nader. Die hingsel van die ysterpot klink teen die tafelblad toe Pa hom neersit. Ouma lig die sware deksel op met ‘n vatlap; loop kombuis toe met die deksel onderstebo waarin die stoom opdam. Geurig stoom die kerriereuk soos die offerrook van Abel na die plafon waaraan ‘n enkel gloeilamp hang.

Ma sit die enemmel skottel met spietwit uitgeswelde stampmielies voor Oupa neer. Hy begin skep. Daarna skep Ma ons vyf se borde boepensvol met stampmielies. Sy deel die vleis regverdig tussen ons vyf borde. Elkeen kry ‘n groot skep geel pensvel met die mooiste fatsoen blokkies daarop. Sy druk die lepel diep in die stampmielies sodat die sous in ‘n krater lê. Dan skep sy vir ons elkeen ‘n lepelvol beentjies om af te suig daarby. Elkeen kry eweveel aartappeltjies.  Oupa het dit nog self vanoggend vir Ouma gaan uitspit. “Kleintjies, hoor jy , Tom. En hou hulle heel” het sy agterna geroep. Die sakkie met harsings is vandag spesiaal vir Pa.

Ouma sny solank die groot koepelbrood. Die kors knars onder haar mes. Krummels spat op die tafeldoek. Pa kry ook die korsie. Hy smeer die plaasbotter dik. Vat solank ‘n hap nog voordat hy die afval geproe het.

Ma skep die fyn stowekwepers langs ons bergies stampmielies. Die soet pienkerige stroop meng met die geel kerriesous van die skaapafval. Oupa suig behaaglik aan die beentjies. Klap sy tong hoorbaar na elke happie. Vee onnodig hard die kerriesous uit sy grys baard met die jammerlappie.

“Ma, dit smaak vorentoe” komplimenteer Pa vir Ouma. Sy glimlag skalks. “Ek soek nog die mens wat Ma kan oortref as dit by kook kom.” Nou glimlag Ouma breed. Maar sy hou haar besig om die brood vir ons te help smeer.

“Kwepers Pa?” vra Ma.

“Nee dankie kind. Na ete met room.”

My maag bult maar ek móét hierdie laaste afvalsousie met my brood opvee.

“Sias van die koöperasie het toe daai trekker bestel,” lig Oupa vir Pa in, “sê hy behoort aanstaande week op die stasie aan te kom.”

“Dis goed Pa,” sê Pa. “daai trekker sal ‘n groot aanwins vir Pa wees hier op die plaas.”

Die telefoon in die gang lui ‘n lange en twee kortes. Dis nie Ouma-hulle se lui nie. Ons eet rustig voort. Oupa slaan met ‘n vlieëplak na ‘n lastige vlieg. Hy is gereed vir sy kwepers en vars room.

Ons kinders praat nie. Dis ongehoord. Maar ons baai ons in die genoeglike samesyn om die groot ou geskropte houttafel. Soos elkeen van ons ons bordjies leeg eet, bedank ons Ouma opreg vir die heerlike kos soos Ma ons aangesê het om te doen. Heerlik was dit voorwaar. Ek wens ek het nog plek vir ‘n halwe snytjie brood met taaipit perskekonfyt. Maar ek kry nie eens my glas melk opgedrink nie. En hier by Ouma betaam dit nie om iets halfpad te los nie. Net die beentjies word uiteindelik uitgekrap vir Lêssie, Oupa se skaaphond.

“Virwatonsnoukongeniet, geeonsUlofeerendank. Voedooksoonsesielemetdiebroodvandieewigelewe. Amen.”

P1410460

Hierdie stuk het ek as opdrag geskryf tydens ‘n skryfskool wat ek bevoorreg was om by Riana Scheepers by te woon. Haar kommentaar hierop: my hart gaan staan. Komende van iemand wat kan skryf en wat kan SMEUL oor kos, plaas ek dit hier nadat ons vandag gesmul het aan aan die skaapafval van die hamel wat Vasie dié week vir ons geslag het.

P1410449

En wat Sara vir ons geskraap het.

Advertisements

11 comments

  1. Pieter · March 12, 2017

    Ek het dit baie geniet om díe te lees!
    Ek is baie lief vir die Kalahari en maak voor Desember n draai in Vanzylsrus om te kom fotos neem.

    Like

  2. coetzee2014 · March 12, 2017

    Ai, ai, ai. Wat kan ‘n afvaleter, hierop sê. Herinneringe na vergange se dae. Dankie!

    Like

  3. Johan Bauer · March 12, 2017

    Hi dankie Leonette, die afval storie voer my terug na my kinderdae in die Transkei. Ons as familie het altyd in die wintervakansie (Junie/Julie) vir my pa se ouers gaan kuier. Hulle het op die dorpie Elliotdale so 17 myl suidoos van Umtata gebly. Van 1951 tot 1966 het ons daar gaan kuier, eers per trein vanaf Langebaanweg aan die weskus en later per motor.
    Oupa Bauer en my pa het dan in daai tyd ‘n skaap en ‘n vark geslag. Oupa en ouma het op ‘n hektaar of groter erf/plot in die dorp gebly met ‘n bees en ‘n skaapkraal en varkhokke.
    Ouma het die skaapafval onder lopende water uitgespoel en seker gemaak dit is silwer skoon. Dit is dan opgesny en saam met aartappels en uie gekook in die ysterpot op die koolstoof. Ja en daar is ook vars brood gebak om die sous te absorbeer. Ons het nie skoon wit afval geken nie, maar het met groen afval groot geword. Ek het eers wit afval geleer eet by Davina se ouers as skoonma dit voorgesit het.
    Dit was nie lekker nie dit was heerlik.
    Groete uit Lyttelton
    Davina en Johan

    Like

  4. Elna Bekker · March 12, 2017

    AMPERTJIES oorreed jy met jou skrywe my om weer afval te probeer; Ek kook dit glo lekker, sê Jan en Thys, maar eet,… My pa se ma, ouma Lenie kon ‘n afval kook, maar hy het verseg om sy mond daaraan te sit, en “wie de ouwde zongen, zoo piepen de jonge.” Ek het by my skoonma destyds self ‘n klein happie ingeskep, en probeer, maar helaas, Jan is lief daarvoor, daarom sal ek af, en toe die offer bring om dit te kook. Jou skrywe is rêrig hartsake! Dankie dat jy dit deel. Geniet jou afval!

    Like

  5. Toortsie · March 13, 2017

    Sjoe! Mond my water nou!

    Like

  6. ekmyselff · March 13, 2017

    Ek het my nou behoorlik ingeleef – so mooi geskryf, voel of ek ook aan tafel sit.
    Afval bly darem maar LEKKER!

    Like

  7. Anita Schutte · March 13, 2017

    Dagsê Leonette, ai nou het jy darem lus gemaak vir my ma se afval. Ek onthou hoe sy, met die trein, vir ons kom kuier het met ‘n hele bak gaar afval tussen die bagasie!

    Ek het, tot my gesin se ergernis, geleer om ‘n been behoorlik af te eet! Willie het nou onlangs voorgestel om vir my ‘n sak bene gaar te maak … om af te eet. Volgens hom sal geen hond belangstel in ‘n been wat ek beetgehad het nie!!

    Verder gaan dit goed, veral na die goeie reëns wat ons gehad het. By AC – hulle staan die gras ook kniehoogte. Hoe lyk dit in julle omgewing?

    Willie het op die 4 de Januarie van ‘n klein plastiese stoeltjie geval en sy regter skouer ontwrig wat terstond gereduseer is, maar later met ‘n sonar is bevestig dat twee spiere afgeskeur is.

    Intussen is die operasie gedoen, ses weke van passiewe oefening gedoen en spook ons nou met die aktiewe oefening! Dit gaan goed, maar ai die geduld vir ‘n ou wat gewoond is om nóu te doen … wat gedoen móet word!!!!!!!!

    Groete van huis tot huis,

    Anita

    Like

  8. marietjie raath · March 14, 2017

    Liewe Leonette di verhaal het my baie ver terug geneem! Hoe verlang ek nou na my groot ouers en ouers. My mond het behoorlik gewater toe ek die lieflike afval sien. Seen en nogmaals dankie vir die pragtige verhale wat jy getrou deel. L marietjie

    Like

    • Leonette Smit · March 16, 2017

      Die nostalgieding wat so aanmekaar kop uitsteek soos die jare aanbeweeg, doen dit aan ons. Ver terugverlang en leef in die goeie ou dae, kom al meer gereeld oor ons paaaie, ne.

      Like

  9. Henriette · March 21, 2017

    My lus hang nou behoorlik op die grond! Soos my ma altyd gesê het! Die plaas, Carnarvon en die Karoo sit in my bloed! Selfs na 20 se woon in Nederland. Ai, ek sal darem wat wil gee vir ‘n hap koue jellierige kerrie-afval! Of so ‘n warm pensie propvol harsings, toegewerk met ‘n dik stopnaald!!

    Like

    • Henriette · March 21, 2017

      …. 20 jaar! se woon in Nederland

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s