Die Skaapwagter met die Roos

p1400745

Hans Mienie langs Japie by Oom Gertjie se begrafnis

Dis die prentjie wat my bybly as ek aan oom Gertjie se begrafnis dink: Hans Mienie as een van die draers by die begrafnis. Hans Mienie met ‘n wit roos in sy growwe hand.

Oom Gertjie Smit het ons ontval. Oom Gertjie met die ruim hart. Oom Gertjie met die stewige handdruk as hy jou Sondae by die kerk kom groet, al is daardie groot  hande geknokkel van die artritis. Vier maande gelede die ouderdom van 83 bereik.

Vir ‘n hele paar jaar reeds leef Oom Gertjie met bloedkanker. Dán is sy toestand verswak. Dán tel hy weer krag op. Maar nooit, nooit kla hy oor sy siekte nie. Dit gaan goed. Altyd goed.

Seker al vir 16, 17 jaar wewenaar, boer oom Gertjie voort op Marcusdam. Al die jare nog want hier is hy gebore en hier het hy groot geraak. Skoolgegaan. Getrou met Tant Annie. Hier het sy twee kinders, Japie en Marida ook opgegroei. En al die jare nog werk Hans Mienie op die plaas. Vir 37 jaar al.

Oom Gertjie; die sagte gees met die diep wysheid. Die een wat ‘n ander se seer kan lees en daarop kan reageer. Wat nooit gevat het wat hom toekom nie. Al kon hy. Winter verlede jaar kom hy weer, soos altyd om te kom help vleiswerk vir die basaar. Heeldag op sy bene, die kierie net hier langs hom vir ingeval. Maal vleis en stop wors.

 

Weke voor die basaar ontvang ek ‘n koevert vol note – nie sommer groenes, bruines, pienkes of bloues nie. Oranjes! Daar is ‘n groot bedrag in vir elke tafel om solank mee te woeker. Of dit nou vir die aankoop van bestanddele of vir kragaankope vir die verwerking daarvan is, hoe ookal. As mens by hom sou gaan kollekteer vir die basaar, is jy ook na Hans Mienie toe gestuur vir ‘n bydrae. Dan gee Hans asof vir sy eie gemeente – ‘n bedrag wat sommige lidmate se koppe in skaamte sou laat sak.

Die dag van die basaar is sy artritishande so oop soos sy beursie. Bestel 20 pannekoek en deel uit by die braaivleisvure. Bie op skaap en gee dit terug as die bot op hom toegeslaan word. Bie weer. Gee weer terug. So saai hy.

In Desember verswak hy weer. Mike neem hom Bloemfontein toe waar hy vir behandeling opgeneem word. ‘n Paar weke later sterf Mike aan kongokoors. Uit sy hospitaalbed bel hy vir Heila. Hy is so jammer hy kan nie self daar wees om haar by te staan nie. Drie weke later sterf Oom Gertjie self. So verloor Heila nie net haar man nie, maar ook haar ma se broer in een maand.

p1400729

Heila, heel links

Die laaste twee jaar, met oom Gertjie se verblyf in Carnarvon Ouetehuis, woon en werk Hans Mienie steeds voort op Marcusdam al word die plaas verhuur. Sy betroubare self. Soveel so, dat hy gereken word as een van die draers by die begrafnis. Dat hy spesiaal deur die familie genoem word tydens die bedankings vir sy jarelange getrouheid en toewyding.

Op die aand van 31 Januarie ry ons deur Carnarvon op pad terug huistoe aan die einde van ons vakansie. Ons hervul die bakkie met brandstof. Praat oor Oom Gertjie wat, volgens ons wete, nog in Bloemfontein in die hospitaal is. Min wetende dat hy reeds ‘n paar uur vantevore oorlede is.

Toe Hans Mienie gebel word daardie volgende oggend met die nuus van Oom Gertjie se afsterwe, sê Hans: “Ja, ek weet. Hy het gisteraand kom groet.” Later, toe Japie op die plaas aankom, verduidelik hy: “Die Oubaas was gisteraand hier by my.”

“Wat het hy gesê?” wil Japie weet.

“Niks. Hy het nie gepraat nie. Net hier by my voete se kant gestaan en vir my gekyk. En gekyk.

En toe is hy weg.”

Advertisements

5 comments

  1. Pingback: Baie mooi geskryf | Die Wit Hasie
  2. travel460 · February 10, 2017

    Jou skrywe het my skoon hartseer gemaak. Daar is soveel mooi nog in ons land oor, soveel mense met ñ hart en ope hand vir ander.

    Like

  3. Leonette Smit · February 10, 2017

    Dis die goed waaraan ons moet vashou en moet onthou as daar ‘n sirkus losbreek in die parlement en op kampusse. Want dis die goed wat verandering kan bring as ons meer daarop begin fokus en minder op die negatiewe.

    Like

  4. Elna Bekker · March 8, 2017

    Ag, hoe absoluut mooi! Hans en oom Gertjie was boesemvriende, want net in so-‘n vriendskap sou hy kom groet het…

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s