BISMARC

p1200085

Ek is in Rustenburg om die jongste (39 weke swanger) te help pak vir die groot trek Upington toe. Die trek sal volgens plan ‘n maand in Pretoria gestoor word in afwagting op die nuwe baba se geboorte, voordat dit Upington toe verskuif word. Ek sien uit na die Pretoriabeen van die ekskursie – om ‘n slag by die Pretoria-kinders uit te kom. En met Bismarc herenig te word.

‘n Week voor die finale trek Pretoria toe sterf Bismarc. Asemnood. 100m van die huis af. En hy was fiks. Maar net 4jaar oud. Maar sy opgewondenheid oor die stappie saam met Tom en Jo kos hom sy lewe.

Bismarc is in 2012 deur die Paryskinders aan ons gestuur tydens die eerste been van ons sabbatsjaar. Net 6 weke oud kom hy saam met Leonette en Andries by ons aan op Swartpan in die Kalahari. Ons kameraadjie wat ons moet vergesel op die tweede been van ons tydperk in die verlate Boesmanland.

p1180580

Daardie eerste paar weke slaap hy in die buitekombuisie op Taaiboschoek om tog nie plassies op die mooi houtvloere van die eeu-oue huis te maak nie. Maar na ‘n paar weke spring hy deur die venster as die vensterraam opgeskuif is en maak hom langs my bed snag tuis. Want ek is sy mens en hy moet my beskerm. Voor my bed slaap hy van toe af elke nag totdat ons hom sowat ‘n jaar gelede moes agterlaat met ons skuif vanaf Pretoria Vanwyksvlei toe. Die kinders in Pretoria versorg hom totdat ons hom eendag kan kom haal. Tot dusver is die erf nog te oop met te veel rondloperhonde wat kan inkom. En donkies wat hier verbydrentel – hy sal hulle mos nooit net kan laat verbydrentel nie.

Die onvergeetlikste van die Boesmanlandtyd is die staptogte die velde in. Aanvanklik is hy nog te bang om te ver van die huis af te beweeg. Later van tyd raak hy net ‘n stippeltjie in die veld agter ‘n haas of ‘n steenbok aan. Maar altyd  keer hy weer terug om aan my sy te wees. En o, die kere wat ons op ‘n krip afkom na kilometers se stap in die warm son! Staffies hou mos van water.

Bismarc beskik oor baie spesiale gene. ‘n Stamboekhond met ‘n omgeehart vir als wat swaarkry. Op Taaiboschoek lê hy ‘n hele dag langs ‘n siek skaap totdat die skaap uiteindelik soveel beter is dat hy kan opstaan. Bismarc wys hom eers waar om water te drink voordat hy vort is die veld in.

Op ‘n keer versorg Karien ‘n pasgebore blesbokkie met asemnood. Bismarc is rasend omdat ons hom nie  toelaat om langs die bokkie in die krat te gaan lê nie. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir elke beseerde diertjie wat op ons werf aankom se nood. Sy nabyheid is sy manier van vertroosting.

Of dit nou ‘n voëltjie, ‘n hasie, ‘n skilpadjie, ‘n padda of ‘n katjie is, sy belangstelling is altyd met sagtheid. Hy het selfs ‘n gunsteling onder die hoenders!

Helaas. Net toe ek, vanweë die skielike toename in diefstalle en betredings op ons erf, besluit om Bismarc saam te bring Vanwyksvlei toe, toe sterf hy.

Daar was toe nooit ‘n hereniging nie …

p1400718

Advertisements

18 comments

  1. diewithasie · February 3, 2017

    Ag tog. Huil ek nou asof hy myne was. Ek is so jammer vir julle verlies. Hy was pragtig!

    Like

  2. Pingback: Sodat almal weet dis Bismarc | Die Wit Hasie
  3. ddupl3ss1s · February 3, 2017

    Ag dit is so hartseer.

    Like

  4. travel460 · February 3, 2017

    Wat ñ wonderlike vriend het jy verloor! Hy was voorwaar spesiaal. Jammer oor jul verlies.

    Like

  5. Chrisma · February 3, 2017

    Aggenee nou is ek skoon hartseer. Wat n mooie ode aan n dierbare vriend. Ek love jou Blog

    Like

    • Leonette Smit · February 3, 2017

      Dankie jong. Dit het my lank gevat om hierdie een te kon skryf.

      Like

  6. Brenda Els · February 3, 2017

    En daar is ek in trane. Bisto lyk darm op n haar soos Bismarc. Die familie trek het mooi deurgetrek.
    Ai my hart is so seer. Bisto is Sondag al 2 maande weg en ek huil gedurig oor hom. Hy was my skaduwee en het net soveel omgee in hom gehad.
    Dit is darm maar spesiale diere dié.

    Like

    • Leonette Smit · February 3, 2017

      Ja, eenmaal ‘n Staffiemens, altyd een. Jammer oor julle Bisto. Is dit die een wat deur ‘n slang gepik is?

      Like

  7. Anita Schutte · February 3, 2017

    Hallo Leonette, so jammer om van julle mooie hond te hoor, dit bly maar hartseer.

    Ai, dié nuwe jaar het al besige paaie met ons geloop, maar dit gaan nou beter en rustiger.

    Geluk met die nuwe kleinkind, gaan dit nou goed en is hulle al gevestig in Upington?

    Groete van huis tot huis,

    Anita

    Like

  8. Leonette Smit · February 3, 2017

    Hi Anita, dankie jong. Gerrit is al 6 weke oud. Ons is pas terug van ons jaarlikse 3 weke vakansie. Vind ook nou eers weer. Hoop julle jaar behou sy makliker pas. Groete

    Like

  9. Ronel Erasmus · February 4, 2017

    Jammer oor die pragtige hond. Ken daai hartseer. Ek geniet jou blog baie.

    Like

    • Leonette Smit · February 4, 2017

      Dankie. Ja, almal wat sy liefde op ‘n dier uitgiet, het ook deel aan daardie hartseer afskeid, ne.

      Like

  10. Elna Bekker · February 5, 2017

    Elke een van ons honde-vriende het ‘n eie karakter. êrens in jou foto’s was een waar Bismarc langs ‘n veldblommetjie lê en snuffel daaraan. Dit som hierdie mooi afskeids-ode aan hom vir my op. Hy was so-‘n nuuskierige ene. Ek onthou hoe hy die tiemie-plantjie “besigtig” het… Jammer dat hy nie saam van Wyksvlei toe is nie.

    Like

  11. Leonette Smit · February 5, 2017

    Dalk het hy dan aan sy einde gekom deur ‘n geveg met een van die baie rondloper honde op die dorp. Of ‘n skoot deur die kop oor hy donkies pla. Hy het ‘n baie lekker lewe by Tommie-hulle gehad. Hulle het SO mooi na hom omgesien. Tot op die einde. En hy het in Tommie se arms gesterf. Met Tommie se trane oral oor hom.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s