Seekoors

20170116_123043

‘n Hele paar gemeentelede is tans by die see. Of was onlangs. Abel-hulle by Port Alfred. Tannie Boetie Pale in Mosselbaai. André By Bloubergstrand. Rudi-hulle by Hartenbosch.

Nee. Één keer in my lewe was ek by Hartenbosch oor Desember. Nooit weer nie! Dit was sowat 30 jaar gelede. Ek wíl nie sien hoe lyk Hartenbosch nóú nadese oor ‘n Desembervakansie nie. Geen begeerte nie dankie. As ek gaan rus wil ek rus en nie wedywer nie.

Maar as seekoors jou pak, is daar net een raad. See toe. Daar waar jy jouself met seevlak gelyk kan maak

20170116_191847

om jouself weer gelyk te kan maak met seevlak

So moet die dominee van Vanwyksvlei ook oor Januarie, na sy jaar in die gemeente, met vakansie gaan. Helgard en MC maak hulle harte oop en bied hulle strandhuis op Eersterivier naby Kareedouw vir ons aan. Op die soom van die see. Met ‘n uitsig van sonop tot sonsondergang.

MC het vir my ‘n paar boeke geleen want ek het my kindle by die kind van my lyf op Upington vergeet. Eerste dag lees ek Katryn, vrou van die Richtersveld in een lê dwarsdeur. Volgende dag lees ek Lugkasteel, van Annelie Botes. Vertel sy van Izak en Johanna van Murraysburg se huis, Karooland, waar hulle soms kom uitspan het – skaars vyf huisies van waar ek nou lê en lees.

p1400241

Izak en Johanna se huis waarvan ek in Lugkasteel van Annelie Botes gelees het

Tydens ons bediening in Port Elizabeth, het ons ‘n paar keer hier kom uitspan. Hier lê herinnering oral rond aan ons dae met ‘n string kinders in die huis. In die sloepie, wes van die huis, sien ek nog vir Tom-Tom. Hoe hy een oggend opstaan en reguit soontoe gaan – sonder brekfis en sonder sonskerm. Nog slaapklere aan. Tussen daardie rotse agter klipvissies en seekatjies aan, verloor hy homself en alle kontak met die werklikheid. Teen 11uur loop ek ondertoe met ‘n hoed en sonskerm, toebroodjies en ‘n fles tee, want ek wéét niks sal hom daar wegkry nie. Die son het hom reeds kis gebrand.

Toe ons onlangs weer oor daardie insident praat, vertel hy die ware storie. Hoogwater het hom daar vasgepen. Hy kón nie daar uit nie.

p1400232

Die sloepie waarin Tom-Tom homself verloor het agter klipvissies en goedjies aan

Dan was daar die Sondagmiddag na ete. Almal het na ‘n stewige maal gelê en slaap. Met ‘n klomp kleintjies, waarvan die jongste nog in doeke was, het ek maar bitter min slaap ingekry. Nog minder wegbreekkans. So vat ek ‘n snorkel en paddavoete om skelm in die Blougat te gaan snorkel. Ek sluip saggies uit. Nie lus vir stertjies wat ek moet oppas nie. Die hele Eersterivier is grafstil. Nie ‘n siel te bespeure. Nie eens iemand wat braai op sy stoep of erf nie.

p1400060

Behaaglik sink ek in Blougat in en verslustig my aan daardie onderwêreldse weelde. Die mooiste vissies. Die mooiste skulpe. Die mooiste plantjies en groeiseltjies. Knoetse soos kasteeltjies met mosbedekte tuintjies. Elke inhampie en skeurtjie ‘n nuwe wonderwêreld.

‘n Dringendheid gryp my om my nek en trek my oppervlak toe. Iets soos ‘n warm vrees pak my beet. Ek wil dit nog ignoreer en weer afsak, maar die gevoel slaan oor in koue rilling op koue rilling. Ek spoed uit Blougat. Pluk die paddavoete af om vinniger oor die rotsrif te klouter. Gryp my handdoek om … Die volgende oomblik slaan ‘n reusagtige fratsbrander bo-oor Blougat en stort sidderend op my neer. Ek klou en klou totdat die ergste water wegtrek rondom my. My handdoek deurnat. Ek kyk terug en skrik die skrik van alle skrikke. Die watermassa in Blougat het ‘n siedende kolk geword wat die volgende oomblik deur die lug trek en tussen die punterige rotse aan die westekant neerplons. Ek hardloop en hardloop en hardloop. Van skok voel ek nie eens hoe die rowwe rotse my voete sny nie.

Ek sou nie ‘n kat se kans kon hê nie. Niemand sou weet waar om my liggaam te gaan soek nie.

Dankie. Dankie Heilige Gees.

My eerste ontmoeting met Eersterivier is in 1976 net nadat ek my studies klaargemaak het op POTE. Ek, Mariëtte en Dalina kom as deel van Noord-Transvaalse CSV-span saam met Ds Freek Swanepoel en sy gesin Eersterivier toe vir ‘n stranddienskamp.

Hier verdrink ek amper die eerste keer toe ek ‘n man wat besig was om te sink van ‘n kramp wou help. Ons altwee verdwyn onder die water sonder dat ons om hulp kon skreeu. ‘n Groot sterk man – ook ‘n spanlid (wat ook ‘n lewensredder was)  – snel ons te hulp. Was opmerklik genoeg om onraad te merk. Wens ek kon sy naam onthou.

Daardie jare is die watertoevoer kampterrein toe nog ‘n probleem. Mens kon nie daar stort nie. Die storte op die strand is al uitweg. So wil ek gou die stort gebruik voor die massas uit die water kom want die volgende item op ons program gaan haas begin. Daar staan twee toilette elk met ‘n houtdeur op die strand. MANS s’n front see toe. DAMES s’n berg toe. ‘n Buitestort is deel daarvan.

p1400057

Op pad soontoe, sien ek twee kinderbeentjies skiet onderdeur die opening onder die houtdeur deur. Dit woel en wurm om uit te kom maar steek by die boutjies vas. “HEEELLLPPP!!! EK SIT VAAAAAASSSSSS!!!!”

“Kom ek help jou” probeer ek die outjie kalmeer. “Ek sal die deur styf teen die koesyn trek dan probeer jy weer die skuifknippie oopskuif.”

“EK KAN NIE TANNIEEEE!! HY’S AAAAFF!!”

‘n Groot oom wat die geskreeu gehoor het, staan nader. “Wat is fout?”

“Dit lyk my die skuifknippie het aan die binnekant afgebreek.”

“NEE TANNIEEEE!! HY’S NOG HIER MAAR HY’S AAAAFF!!!” Ek besef die skuifknippie is net afgedruk teen die deur.

“Nou luister mooi vir my. Ek en die oom gaan jou help. Ons sal die deur styf teen sy raam trek, dan bring jy die knippie regop en skuif hom terug in sy spoortjie.”

Die volgende oomblik vlieg die deur oop. ‘n Klein seuntjie van so 8,  9 jaar vlieg soos ‘n vlakhaas by ons verby en verdwyn tussen die massas. Al wat ek kon sien was sy swart swembroekie.

Daardie aand nadat ons klaar is met ons gebruiklike konsert vir die strandgangers, afgesluit het met ‘n gepaste boodskap, samesang en gebed, staan ons saam en milo drink. Ek vertel van my reddingspoging die oggend. Ds Freek se jongste seuntjie staan ook belangstellend en luister. “Maar was dit dan nie jý nie?” vra ek. Dieselfde lengte. Dieselfde blonde haartjies.

“Nooit nie Tannie!” ontken hy en maak hom uit die voete.

Later toe ons besig is om op te ruim, draal die kannetjie al in my omgewing. Tot hy dit nie meer kan hou nie.

“Tannie,” sê hy terwyl hy sy kennetjie nadenkend staan en vryf. “Hoe het daardie seuntjie van vanoggend wat in die toilet vasgesit het gelyk?”

“Nee, ek kan glad nie onthou nie. Hy was te vinnig daar uit om hom te kon sien. Ek het net sy swart kostuumpie gesien.”

“Tannie weet, nou-dat ek mooi daaroor dink, wonder ek tog of dit nie ek was nie …”

9 comments

  1. travel460 · January 19, 2017

    Jy klink na ñ pragtige mens. Jong ja, Desember en Hartenbosch is nie jou speelmaat nie. Het jou skrywe baie geniet, en ek is bly Heilige Gees het hard en duidelik met jou gepraat.

    Like

    • Leonette Smit · January 19, 2017

      Dankie. En ja, net om te kan WEET waarvandaan die inspraak kom, is ‘n groot stuk genade!

      Liked by 1 person

  2. Toortsie · January 19, 2017

    Oulik

    Like

  3. ekmyselff · January 20, 2017

    Ek het nou te heerlik gelees – LEKKER!
    Hartenbos lyk deesdae oor n Desember soos Johannesburg. Lekker maar ook nie….

    Like

  4. Franlie Lexow · January 20, 2017

    Jy wonder seker nie…:-)

    Like

  5. Anita Schutte · January 20, 2017

    Hallo Leonette, kostelike herinneringe!

    Geniet die vakansie,

    Anita

    Like

  6. Leonette Smit · January 21, 2017

    Dankie Anita, ons benut hom ten beste. Groetnis

    Like

  7. Elna Bekker · January 22, 2017

    Mag die Here Helgaard en MC uit hul skoene uit seën! Julle moes daarheen gaan, om siele te herlaai, voete te vind, en asem te skep. Dit lyk so idillies stil en mooi! Ek is dol oor jou storie…

    Like

  8. Leonette Smit · January 22, 2017

    Elna, die veskil tussen ‘n pap battery en ‘n herlaaide een, dis die verskil tussen vandag en ‘n week gelede. Engele het oor ons pad gekom

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s