R.I.P Appie

 

l1160277

Appie Immelman  1/1/1942 – 7/11/2016

Ek sou so graag met sonop die kerklok wou lui om Appie se eerste dag in die hemel mee te vier. Uit eerbied vir hom wat elke Sondagoggend die kerkklok gelui het vandat Joey koster was. Enkel, afgemete slae; 74 van hulle. Een vir elkeen van sy jare hier op aarde.

Ek sou so graag by die hemelpoorte ‘n erewag vir hom wou staan om te sien hoe ontvang sy oorlede vrou en seun hom toe hy gister oorgestap het – hulle oor wie hy so droewig gerou het met hulle vertrek van hier af.

 

Ek sou so graag ‘n Psalm wou sing by sy sterfbed in ICU (Panorama, Durbanville, waar hy die afgelope 8 weke deurgebring het) om sy pyn en lyding sagter te maak. Oor die pyn en lyding wat hy sagter gemaak het vir sy oorlede vrou Joey én vir sy pa vir wie hy jare versorg het, tot op hulle laaste.

Ek sou so graag vir hom ‘n spesiale medalje wou smee vir die lojale stap om met Tania te trou sodat sy versorg agtergelaat kon word uit dankbaarheid vir al die jare wat sy hom so lojaal versorg het. Dít skaars 10 weke gelede, toe hy besef het sy dae op aarde word min.

Ek sou so graag die polisievlag vandag halfmas wou laat hang uit eerbied vir die baie jare wat Appie as bevelvoerder van die polisiestasie hier op Vanwyksvlei toegewyde diens gedoen het. Ek sou die vlag wou sien wapper as simbool van die sukses waarmee hy, met die hulp van slegs twee konstabels, hierdie hele gebied se wet en orde kon beheer. Van ál die sake – van veediefstal tot huismoles – wat hy so flink en vinnig kon oplos.

Ek sou so graag by die volgende gemeentebraai ‘n groot vuur wou brandmaak en totaal laat uitbrand uit erkenning vir Appie wat by elke gemeentebraai die rooster beman het, al was dit op een kruk.

Ek sou so graag ‘n groot lourierkrans by die plaashekke van Dagboetie en Moffiesdam wou neerlê uit eerbied vir Appie wat vir baie jare so getrou hierdie plase vir Brian bestuur het, al kon hy soms nie eers uit die bakkie kom nie.

Ek sou so graag op aandag wil staan met my hoed op my bors as hy langs Joey begrawe gaan word uit eerbied en respek vir sy eerlikheid oor sy eie foute en gebreke, vir die opregtheid waarmee hy gelewe het en vir die waardige manier waarop hy die slae wat die lewe hom uitgedeel het, gelate en alleen gedra het.

Rus in vrede, ou Appie. Sterkte Tania.

l1160261

Appie en Tania op hulle troudag, 10 weke gelede.

6 comments

  1. Anita Schutte · November 9, 2016

    Liewe Leonette, dankie vir hierdie mooi storie en huldeblyk!

    Só harts-mooi en met soveel diepte. Julle is op die regte plek.

    Groete en wees geseënd.

    Anita

    Like

  2. Franlie Lexow · November 9, 2016

    Dis roerend Mooi. Ek dink die klokke het gelui daarbo!

    Like

  3. Mariette · November 10, 2016

    ‘n Mooi groet vir Appie. En so dun hierdie linie waarvan ons nou van die voorlopers is, daagliks uit.

    Like

  4. Elna Bekker · November 11, 2016

    Jou storie is die klokke en die erewag.

    Like

  5. Anli · November 20, 2016

    Baie dankie vir hierdie pragtige woorde oor my pa, ons drie dogters gaan hom vreeslik mis. Hy het ons almal baie geleer. Ek het die voorreg gehad om vir hom 11 jaar te kon leer ken.

    Like

  6. Elna Bekker · November 8, 2017

    …en steeds bly jou storie my by.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s