Oumangoudbos

l1120738

Daar word gesê dat daar ‘n pot goud aan die einde van die reënboog is. Die bekendste pot goud wat met die huisie oorkant ons s’n in Vanwyksvlei geassosieer word, is die winkeltjie wat Arthur Alston in sy lewe hier bedryf het. As die enigste winkel op die dorp, kan ek dink dat dit ‘n goudmyn moes wees.

 

Meeste van Vanwyksvlei se mense wat hier groot geraak het, onthou nog die winkeltjie. Die reuk van die winkeltjie. Die holgetrapte drempel. Die glasflesse vol los lekkergoed. Hotnotsklontjies. Suurklontjies. Nigger balls. Toffies. Sagte oranje appelkosies met ‘n effense rooi wang. Borssuiker aan ‘n toutjie. Plat wit, pienk, geel, blou en groen lekkers in die vorm van ‘n wolkie of ‘n hartjie met liefdesboodskappe daarop …

Daar lê stapels en stapels lap. Bont gekleurde Sungleam wat jou hande laat jeuk om ‘n spogvoorskoot of ‘n kappie mee te maak. Styf gepap. Stapeltjies en stapeltjies. Presies ewe groot opgevou.

Daar is skoenveters, fietspompe, rooi stoeppolitoer, paraffien wat uit ‘n drom gepomp word. Daar is grondboontjies, nog in die dop, in ‘n erdeskottel, wat met ‘n blikbeker uitgemeet word. Hoenderkos in ‘n streepsak. Houtkissie vol glas koeldrankbotteltjies – Hubbly Bubbly en Canada Dry. Daar is 3-in-1 olie in klein blikkies en lewensessens in bruin geriffelde, glasbotteltjies; verseel met kurkproppe. Daar is meel en vislyn. Eiers en haakspelde. Wol en knipmesse. Stene blouseep en sambokke. Sinkbaddens en vlieëplakke. Patch-and-solution en enemelware. Als uitgestal in ‘n glaskas onder ‘n toonbank, te hoog vir ‘n kind om bo-oor te kan sien.

Daar word gesê dat winkelier Alston die oumansoutbossaad (Artiplex nummuralia) vanaf Australië die land inbring in 1889. Glo laat toets in die Kaap as droogtebestande plant. Die eerste oumansoutbosplantjies juis hier oorkant die straat kom inplant.

l1160707

Die Alstons is alombekende mense in Vanwyksvlei. Garwood is die landmeter wat die Vanwyksvleidam uitmeet, laat bou en voltooi in 1884. Herbert, een van sy nege kinders, begin die winkel oorkant die straat. Hy is in 1944 oorlede. Sy een seun, Arthur, sit die winkel voort. Dan kan dit net Herbert wees wat die soutbos die land ingebring het.

Elke erfie op die dorp het êrens ‘n oumansoutbosheininkie. Die plant groei welig in hierdie droë dele van die land. Ons sien dit tot diep in die Kalahari en al langs die pad noorde en ooste toe, tot anderkant Bloemhof. Suide toe ook.  Seker nou reeds die hele land vol. Dit is ‘n kategorie 2 indringerplant en groei al lang rivierbeddings, omsoom gatdamme en floreer kunslangs teen die duine. Hierlangs word die oumansoutbos as voer gebruik. As daar niks meer kos in die veld is nie, is daar nog oumansoutbos wat maklik in brak grond oorleef. Die blare is regtig souterig. As jy daaroor streel en jou vingers aflek, proe jy die sout. Blykbaar klam vog in die lug op die soutbos aan en verkry die plant so sy water uit die lug.

Ek wonder wat sou Herbert Alston vandag sê as hy moet sien hoe die soutbos oorgeneem het. Watter groot dividende daardie paar saadjies wat uit Australië gesmokkel is, opgelewer het. Nie eens die winkeltjie oorkant die straat kon soveel oplewer tydens sy bestaan van twee geslagte Alstons nie.

Sou die oumansoutbos tog die pot goud aan die einde van hierdie reënboog kon wees?

l1160704

Advertisements

6 comments

  1. coetzee2014 · September 18, 2016

    Hier in ons omgewing, by Helvetia, was daar ook so ‘n winkel. Het mos so ‘n kenmerkende reuk van roltwak, koffie en suiker en ek weet nie wat nog alles gehad nie. My pa het altyd, daar stilgehou, as ons veepos toe gaan. Was te mooi om te sien as die tante, hulle was van Tonders, die papier in so ‘n tuit draai en en daarin lekkergoed of wat ons ookal gekoop het, plaas. Nog geen papiersakke gehad nie. Ai, jy laat my ver terugdink. Ja, oumansoutbos,is ‘n baie goeie plant en geen indringer nie.

    Like

  2. Ria Jacobs · September 18, 2016

    n Heerlike storie! Kuier saam in die winkel. Wens ek kon n kardoesie suikerklontjies koop. Dankie.

    Like

  3. Mariette · September 18, 2016

    Wat ‘n lekker storietjie. Ons moet haas al die ou winkelstorietjies en smouse se goeters neerskryf voordat dit saam met ons verdwyn.

    Like

  4. Elna Bekker · September 21, 2016

    Ja, ek dink daar is menige winkeltjie in almal se geheue. Ek onthou hoe mens op die sementvloer loop en op die meel trap wat gemors is as dit in kleiner hoeveelhede verdeel word, en eenkant was dikwels die poskantoor-rak. Daai nare lamp-olie reuk, en dalk nog ‘n doodskis vir die skielike nood bo-op ‘n balk gestoor. Leonette, jou skrywe is al hoe mooier op my ‘ore’. Soos die tolletjies borduurgare onder die glas toonbank, en stringe kraletjies teen die rak aan hakies.

    Like

  5. Franlie Lexow · November 21, 2016

    Ek sien en ruik die winkeltjie. Op die plase rondom Lydenburg was daar altyd sulke winkeltjies vir die kindertjies vd omgewing. ons het graag met ‘n handvol geld ‘n bruin sakkie vol toffies en suiglekkers gekoop…sulke Butterscotches. ‘n Waarlike pot goud in my herhinneringe. Daar was mos so ‘n winkeltjie naby Rietkolk waarheen ons weggeloop het. Onthou jy nog??? Goue herhinneringe.

    Like

  6. Leonette Smit · November 22, 2016

    Oom Sias se winkeltjie. Rekamoga Ratseswana (of hoe spel mens dit?)

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s