Jan Barend die Boesman

 

 

Jan Barend is die laaste afstammeling van ‘n opregte Boesman in hierdie geweste. Sy pa, Abraham Barend, is volgens ‘n inskrywing in ‘n boek deur Pippa Skotnes; Claim to the Country – ‘n versamelde werk oor die argiewe van die ǀxam (Kaapse San of Boesman) – waarskynlik die laaste lewende persoon wat met sekerheid sy oorsprong kon terugwys na die ‘opregte nasie van Boesmans van die Boesmanland’. Abraham se pa (Jan Barends se oupa) is as nege- of tienjarige deur Boere gevang en ‘makgemaak’. Abraham het dus opgegroei as Afrikaansprekende. Jan Barend praat ook net Afrikaans – die oorspronklike Boesmantaal van sy voorvaders ken hy glad nie.

As die tweede oudste van sewe kinders, groei hy op in hierdie wêreld waar sy pa en sy ma ookal as plaaswerkers vertoef.  Blinkpoort. Farlook. Dorpsekolk. Wonderkraal. “My oudste broertjie het klein afgesterf. Agter my kom Hendrik, dan agter Hendrik is Petrus, agter Petrus kom Jannetjie. Dan kom Hanna wat op Swartkop bly en agter haar kom Maria van Calvinia. Almal nog in die lewe. Nog een sustertjie het ook vroeër afgesterwe.”

Vir 26 jaar werk Jan Barend op Olifantsvlei by Jan en Hester Van Wyk. Hester vertel dat daar op ‘n dag ‘n donkiekarretjie op die plaas aankom. Jan en Sophie Barend. Wettig getroud. Sy veel ouer as hy. Mens kon duidelik aan sy gelaatstrekke sien dat hy van Boesmanafkoms is – geen baard, kort postuur. Hy leer nooit lees en skryf nie. Getalle meer as drie het vir hom geen betekenis nie. Ingewikkelde opdragte wat een op die ander volg, verwar hom totaal. Maar as hy eers ‘n opdrag snap, voer hy dit getrou uit tot in die fynste besonderhede. Agter ‘n trop skaap is hy in sy element. Betroubaar en lojaal nog al die jare. Jan, ‘n behendige man in allerhande handvaardighede, het Jan Barend immer soos ‘n skaduwee aan sy sy. Waarmee hy ookal op die plaas besig is, leer Jan Barend die vaardigheid by hom deur mooi te staan en dophou. Sterk soos ‘n bees, beskryf Hester hom, ten spyte van sy klein postuur. Hy tel goed op sy dae op wat jou mond laat oopval – goed buite verhouding groot in vergelyking met sy bou. Met spoorsny is hy ‘n meester.

Jan Barend en Jan van Wyk vorm ‘n hegte vriendskap. Maar omdat daar nie twee Janne (‘n lang Jan en ‘n kort Jan) op dieselfde plaas kan werk nie, kry Jan Barend die bynaam Wieletjies vanweë sy kort vinnige treëtjies waarmee hy altoos loop. Hy en Jan van Wyk maak baie saam deur op Olifantsvlei. Sommige van die vertellings weerspieël die onnutsigheid van die twee jong manne en die graad van poetse wat hulle mekaar bak . So vertel Jan Barend vir my van die keer toe hy en Jan van Wyk ‘n luiperdspoor vat. ‘n Groot spoor! Ver volg hulle die spoor, deur kampe en oor klowe. Die spoor verdwyn in ‘n digte bos. Jan van Wyk stuur vir Jan Barend na die oorkant van die bos terwyl hy die duskant bewaak. Net toe Wieletjies agter die bos verdwyn, laat hoor Jan van hom: “Hier laat ek my vandag nie opvreet nie!” en hy maak oop na die bakkie… Wieletjies is voor hom by die bakkie.

Op die plaas is biermakery verbode. Maar soms is die versoeking net te groot. Dan verraai sy onophoudelike gepraat hom baie gou. Ghitaar kan hy meestelik slaan. Veral op ‘n volmaannag sit hy die instrumentjie nie neer nie. Hester vertel dat Jan een aand ver na middernag naderhand die kragtoevoer na Wieletjies se huis afgesit het sodat hy net kon ophou tokkel – g’n mens kon tot ruste kom nie. Maar in die donker speel Wieletjies onverpoosd voort. Totdat Jan opstaan, die ghitaar by hom afneem en op die waenshuis se dak laat beland.

L1150131

Tot onlangs is Jan Barend nog die trotse eienaar van ‘n donkiekar en ‘n fiets. Hy verkoop onlangs sy donkiekar terug aan Rina omdat hy nie meer donkies besit nie. Met sy fiets doen hy als. Gaan maak selfs hout en ry met ‘n stapel brandhout op die fiets wat hoër as hyself opgestapel is.

 

L1150147

Jan Barend staan op sy ouderdom steeds sy skoene vol as dit kom by houtmaak en voorsien vir sy familie.

 

 

“Was jy al ooit ernstig siek, Jan Barend?”

“Nooit, my klei’nooi. Net een keer het ek ‘n pyn in my sy gekry. Toe was dit my blindederm. Hulle het my Kimberley toe gevat met die ambulans en dit daar uitgehaal. Toe ek terugkom op die plaas was ek weer reg”.

Jan Barend het nie kinders nie. Sy eerste vrou is oorlede en tans woon hy by die tweede vrou se kinders in Vanwyksvlei. Volgens sy ID-dokument is hy nou 71 jaar oud. Waarskynlik is hy al diep in die tagtig. Op die foto van sy oupa op ‘n geskatte ouderdom van 90, lyk sy oupa nie veel  ouer as wat Jan  Barend vandag lyk nie. Maar toe ‘n ID-dokument uitgereik moes word, word daar ‘n denkbeeldige geboortedatum aan hom gegee.

 

 

Vyftien jaar gelede word Jan Barend blind. Maar ses jaar gelede herwin hy sy sig in sy linkeroog nadat hy ‘n katerakverwydering ondergaan.

Tot vandag toe kan hy nog steeds goed sien.

L1150134

 

Advertisements

4 comments

  1. Elna Bekker · July 26, 2016

    Aw man! Wat ‘n karakter. Onthou jy die man wat op Loeriesfontein se winkel-stoep met ons gesels het? Jy laat die stories en die foto’s sing my vriendin, met ‘n kuns waarvan jy so onbewus is, maar wat so eerlik en opreg is. Dit seën ons almal. Om darem so-‘n paar skoene te kan vol staan. Dankie Leonette.

    Like

  2. Franlie Lexow · July 27, 2016

    Wonderlik soos altyd!!!

    Like

  3. Japie van Wyk · July 27, 2016

    Ai my ou boesman pa. Wens so ek kon jou saam met my Upt toe bring. Dankie vir al die lekker stories wat jy so graag vertel as ons mekaar sien. Altyd stories oor pa Jan en al ons avonture saam op die plaas. Ek mis so die vryheid van die plaas. Die dorp met sy sement “drade” waardeur ons niks kan sien en net karre kan hoor steel al ons vrede. Met ons laaste sien het jy in die bakkie na my 3 kinders gekyk en gevra of hulle almal myne is. Ek het ja geantwoord en dadelik is ek aangepraat. Baas Jakkie jy moet nou ophou om vir jou so bokrammerig te hou. Ja ou Wielie as ons nou weer mekaar sien sal jy se nou moet ek stop want dan is daar 4 klein gesiggies agterin.

    Ou Wiele is regtig n staatmaker. Mag die Here jou nog lang jare spaar sodat jy my kinders, wat nooit vir oupa Jan geken het, n kykie deur jou oe na hulle dierbare oupa kan gee.

    Jy is deel van ons. Liefde Japie, Loraine & kinders

    Like

    • Leonette Smit · July 28, 2016

      Kosbaar. Dankie Japie. Wiele het nog baie vuur in hom. Hy gaan nie gou groet nie.

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s