Ta’ Alie

 

Ta’ Alie Basson word 91. Al twee jaar bedlêend. Die oudste lidmaat in die gemeente van Vanwyksvlei. Die oudste van vier geslagte in die huishouding van die De Bruins van De Bruinsrus – die jongste word volgende week nege.

Ta’ Alie praat nog duidelik. Sien nog redelik. Hoor nog goed. Onthou nog baie dinge.

So vertel sy vir my hoe sy ‘n plaas naby Ariamsvlei afbetaal met wasgoed wat sy weekliks vir die koshuis doen  – 75 seuns en 75 meisies van die hoërskoolkoshuis se wasgoed. Toe sy die kontrak kry, gaan koop sy ‘n wasmasjien – een van daai skommelsoort met die rollers (ek het Ouma Sophie s’n van Rietkolk gekry en dit was waarmee ek in daardie eerste jare my kinders se doeke was),  ‘n hele paar sinkbaddens, emmers en ‘n watertenk. Als op skuld. Desjare maak hulle toe nog gebruik van kanaalwater wat moes staan sodat dit kon afsak voor gebruik. Water word in ‘n seeppot warm gemaak.

Haar man span drade die hele erf vol om al daardie wasgoed droog te kry. En dan moet dit nog gestryk word ook. Met potyster strykysters wat op die koolstoof warm gemaak moet word.

Elke Vrydag word ‘n bakkievrag wasgoed afgelaai. Die volgende Vrydag stuur sy dit netjies skoon en gestryk, mooi in stapeltjies gepak – elke kind s’n afsonderlik – terug per bakkievrag .

Snags, as haar twee kindertjies slaap, doen sy naaldwerk op ‘n Singer trapmasjien vir mense in die dorp.

Ek dink aan my mense wat nie bang is vir werk nie. Wat ‘n plaas kan afbetaal met handearbeid. Wat weekliks kan slag en vleis werk, kaiïngs uitbraai, wors maak, afval skraap, seep kook. Wat ‘n spens vol kênfruit kan maak sodat niks bruikbaars verlore gaan nie. Wat daagliks knie en stook om vars brood op tafel te kan sit. Wat rieme brei. Wat bome snoei. Wat leiwater afspit. Wat smôrs voor die môrester opkom, klaar gemelk het. Wat saans teen laaste lig nog die beeste kraal toe jaag. Wat donkie stook vir badwater. Wat die aand afsluit rondom die tafel met huisgodsdiens en die aandgesang. En ek is bly oor my eie wortels.

Ek kyk na haar hande terwyl sy vertel. Ek kyk na die kilometerlesing op daardie twee hande. Ek kyk en kyk en verkyk my. En ek hoor weer Ma Chrissie se aanhaling van Hennie Aucamp se vers; Eindelik:

Die oumens word langsaam deurskynend

want hy staan teen die ewige lig;

en ligter en ligter die oumens

soos die skaduwees om hom verdig.

20160525_184055

Advertisements

3 comments

  1. Anita Schutte · May 27, 2016

    Sjoe jy raak my hart, lief niggie.

    Wees geseënd in julle wonderlike taak in Sy naam!

    Anita

    Like

  2. Elna Bekker · May 27, 2016

    Oeee jy sê dit so mooi, soos makataan konfyt…

    Like

  3. Franlie Lexow · June 2, 2016

    Roerend-pragtig, Leonette!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s