Die Storie van die Konsistorie

 

Elke konsistorie het ‘n storie.

Ons storie begin met hierdie geelkoper deurknop – kompleet of jy ‘n storieboek oopslaan met die afwagting op wat daarbinne vir jou wag.

L1120848

Hoeveel keer is hierdie deurknop al die afgelope eeu oop en toe gedraai? Ek wonder, word hy nog blink gevryf met braso?

Elke konsistorie het gewoonlik ‘n kluis. Ons s’n dateer beslis uit die vorige eeu. Wens ek kon die som geld wat oor die jare heen hierin veilig bewaar is nou hier op papier geskryf sien staan. Dink net wat kan vandag met daardie bedrag in hierdie gemeenskap verrig word. Opsigself ‘n versamelstuk, hierdie eeu oue kluis, sou ek dink. In die heel eerste notuleboek staan daar ‘n besluit aangeteken tydens ‘n kerkraadsvergadering van 14 Mei 1917 dat ‘n kluis aangekoop sal word vir die kerk. Om te dink, volgende jaar staan hierdie kluis al ‘n eeu hier.

 

Hierdie silwer nagmaalbord lyk of hy iets oorgekom het, maar blykbaar moet hy so skeef staan vir makliker gebruik deur die bedienaar van die nagmaal. Is die hout hamer vir gebruik tydens vergaderings wat te vurig raak? Of met die verhoor van tugsake dalk? Of is dit maar net daar om aan te wend met veilings tydens ‘n kerkbasaar?

Wanneer laas is dié klavier bespeel? Kan my mos nie indink dat daar deesdae veel gesing word tydens ‘n kerkraadsvergadering nie. Bybelstudies en bidure vind in die pastorie plaas, nie meer in die konsistorie nie. Hoeveel kinders het dalk by hierdie einste klavier leste gehad? Ek speel ‘n paar akkoorde. Al die note klink nog, al is party bietjie stram en effe van die toon af.

Uit die houtplafon hang ‘n enkel gloeilamp. Sonder ‘n skerm. Na al die jare weer in die mode.

L1130019

In die hoekkas hang ‘n toga. Die plaatjie sê die kas is gemaak en geskenk deur Rina se familie van Springbokoog. Moet haar bietjie uitvra daarna…

L1120873

Twee ou Kanselbybels lê op die boekrak in die konsistorie. Die imposante eerste Kanselbybel met sy silwer klampe is “geschonken door de heer en mevr.  Vos” van Smouskolk in Des 1922.

L1120860

Kort na die eeufeesviering in 2012 verdwyn hierdie kosbare Bybel ampertjies uit die museum wat ingerig is met allerhande oudhede van gemeentelede. Glo reeds opgeskryf vir verkope deur die prokureur toe tannie Petro en haar oorlede man daarop afkom. Danksy hulle, besit die gemeente nog hierdie kosbare ou Bybel. Ongelukkig reeds bygekom deur ‘n vismot of twee.

Die jonger Kanselbybel, ‘n geskenk van die Rousseau’s van Gansvlei is 3 weke ouer as ek…

Elke konsistorie het egter nie meer deesdae kapstokke soos hierdie om hoede of kuile aan op te hang nie.

Kompleet soos die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word, hang daar ‘n galery van geestelike leiers se foto’s teen die muur in die konsistorie. Soos in elke ander konsistorie.

L1120837

Óns storie begin al in 1875, toe Vanwyksvlei nog as ‘n buitewyk van Carnarvon bedien word deur Ds W P de Villiers. Een na die ander pryk die geestelike leiers van die verlede teen die muur. Party werk vir jare hier, soos Ds. Brink wat vir 27 jaar lank, vanaf 1947 tot 1974 Vanwyksvlei as predikant bearbei. Die jongste twee van sy vyf sy kinders word hier gebore en groei op in Vanwyksvlei. Vandag nog het hulle almal ‘n baie nou band met die dorp en kan kosbare staaltjies uit hulle jeugjare vertel. Nie lank terug nie, lui die deurklokkie. Daar staan ‘n blondekop meisie wat vra of sy asseblief ‘n foto mag neem. Sy is in diens van die WNNR en doen ‘n impakstudie vir SKA in die gebied. Haar pa is in hierdie huis gebore en het hier opgegroei. Surina, stel sy haarself voor. “My oupa was lank die predikant hier.”

Ander se dienstydperk is maar kort, soos Ds. De Kock (nogal familie van Vasie de Kock) wat skaars 6 weke die gemeente bedien. Hy dien as voorsitter van slegs een kerkraadsvergadering, nl. die een gehou op 14 September 1946. Hy sterf skielik aan ‘n hartaanval. Op die kerkterrein staan ‘n gedenksteen op sy graf wat die gemeente vir hom opgerig het.

Die pa van die welbekende akteur Siegfried Mynhardt, Ds C F Mynhardt, se dienstyd strek hier in Vanwyksvlei oor 6 jaar; 1921-1927. Mevrou Mynhardt lê ook begrawe op die kerkterrein.

20160414_110329_4

Die gallery van geestelike helde eindig skielik by Ds Fransie Human in 2002. Wat sou die storie wees dat geeneen van sy opvolgers van die laaste 13 jaar se foto’s teen die muur pryk nie? Is daar ‘n storie agter hierdie storie?

Advertisements

9 comments

  1. Franlie Lexow · April 14, 2016

    En so leer ek stukkie vir stukkie /hoofstuk vir hoofstuk VanWyksvlei beter ken. Dankie Leonette.

    Like

  2. E Lourens · April 14, 2016

    Dankie baie. Geniet jou blog terdee.

    Like

  3. Elmien · April 14, 2016

    Dis interessant, jy moet nog baie skryf

    Like

  4. Elna Bekker · April 15, 2016

    O dit is so aangrypend. Dankie vir die mooi foto’s en die kykie in ‘n plek wat ek met musiek-teorie-eksamens assosieer. Hierdie ou gemeente het jou nodig gehad om te sorg dat die storie darem vir ‘n rukkie die vergetelheid ontglip! Jy mag maar.

    Like

  5. annien Kriel · April 15, 2016

    Baie dankie Leonette ek geniet so elke stukkie wat jy hier skryf. Ek beleef alles. Dit was jare deel van my lewe. Ek vee sommer ‘n traan af want ek sien alles so voor my. Dis als so kosbaar. Jy beskryf dit so goed. Voel of ek alles so bymekaar kan vat in my arms en vas hou. My Pieters familie het diep spore daar getrap. Dankie dankie vir dit wat jy alles skryf. Ons ken die bruin mense bo in die “lekasie” baie goed. weereens sommer dankie vir jou mooi beskrywing van alles

    Liked by 1 person

  6. Leonette Smit · April 15, 2016

    Jou terugvoer is vir my kosbaar. Daarsonder sal ek mos nie weet of my insigte in die kol is nie. Groot waardering

    Like

  7. Johan Bauer · April 17, 2016

    Hi Julle “Vleiers”,
    Nou iets oor die dorp en die omgewing asseblief. Met fotos van die pastorie, koporasie, begrafplaas, winkels, kliniek, polisiestasie, “Watergat”, hotel, donkies ens Groot asseblief Leonette. Ek het dit werklik geniet die drie dae en aande wat ek daar by Johan gekuier het. Moenie die muskiete vergeet nie.
    Lekker bly(kuier) daar op “Die Vlei”.
    Groete aan die wat ek ontmoet het. Johan ook vir Hendrik Swarts(onthou die S).
    Johan B

    Like

    • Leonette Smit · April 17, 2016

      Okayokay, gee kans! Ek kan nie almal tevrede stel nie! Is goed Johan, ek is besig om materiaal bymekaar te maak. Ek is net bang ek het te gou als vertel, wat bly dan oor vir die volgende 2 en ‘n half jaar? Sien more, DV

      Like

  8. Rian Verster · April 18, 2016

    Ai Van der Spuy, vanoggend laat jy my darem baie vêr terugdink aan die jare op Vanwyksvlei en ons betrokkenheid by die gemeente en gemeenskap. Hoeveel kerkraadsvergaderings en weeklikse bidure in die konsistorie oor ‘n tydperk van 12 jaar? En dan natuurlik het die Karoo sy eie manier om deur jou vel te beur en nes te maak in jou bloed en in jou siel! Ek verlang sommer vanoggend na die mense met wie ons die lewe in Vanwyksvlei gedeel het!!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s