Soos die palm van haar hand

 

L1120750

So ken Betjie Adams van die VGK die binnekant van ons kerkgebou hier op Vanwyksvlei. Elke hoekie en lysie. Elke kassie en rakkie. Elke bakkie en beker. Elke bekleedsel en behangsel.

Vir die derde jaar in ‘n ry alleen (en voorheen saam met Ant Sophia), maak Betjie die kerk op ‘n Vrydag skoon. Soms ook op ‘n ander dag as die kerkprogram dit vereis. Sondag se koppies waaruit tee en koffie gedrink is. Die ablusietjie in die agterjaart van die kerk. Die silwer nagmaalware.

 

Die spieëls, horlosies en portrette. Die klede en doeke. Die houtgallery, orrel en orrelpype. Die eeu-oue banke wat gereeld gepolitoer moet word. Die hemelhoë lysies en vensters wat afgestof moet word.

“Die geldjie? Hoe sal ek nou sê, Mevrou. Die geldjie is maar seer. Maar ek het darem ‘n werkie. En elke bietjie help om die gate toe te hou.”

Betjie woon ver van die kerk teen die skuinste in die woonbuurt. Haar knieë, wat maar praat van die artritus, dra haar smôrs afdraand tot by die kerkgebou. En smirrae weer teen die bult op terug. “Dis soos my lewe, Mevrou. Die Here gaan voor en ek agterna.”

Kort-kort oorval ‘n hoesbui haar. Ek vra of sy medesyne het vir die hoes. “Ja, Mevrou. Karmedip. Ek brou vir my tee daarvan – van daai veldbossie wat in my tuin staan.”

Betjie verloor haar eerste man terwyl sy 8 maande swanger is met haar vierde seun. “Vergiftiging, Mevrou. Hulle het geknie in ‘n houer wat die brood vergiftig het op die plaas waar hy gewerk het. Die ander man het deurgetrek. Maar my Flip is afgesterwe.”

Vir 10 jaar versorg sy alleen haar vier seuns terwyl sy as skoonmaker werk vir Abel en Annelien by die winkel. “Dis maar swaar tye, Mevrou. Saans, as ek my kop neerlê, weet ek nie waar môre vandaan gaan kom nie. Maar elke môre, as die Here se son opkom, is daar maar weer voorsien.”

Neels word haar tweede man by wie sy nie kinders het nie. Maar Neels se kinders word ook vir haar soos kinders.  Neels het ‘n vaste werk en ‘n bestendige inkomste by KVB. Haar baba skryf vanjaar matriek in Carnarvon. Vir elke uitgawe van elke kind se onderrig, betaal hulle nog elke keer, sonder dat hulle geld moet leen of geld op verkeerde maniere moet aanvul.

“Betjie, watter deel van hierdie werk is vir jou lekker?”

“Dis vir my lekker, Mevrou, om eers hier in die stilte van die kerkgebou te kom sit en my broodjie en koppie koffie te geniet.”

“Is daar iets wat nie vir jou lekker is nie?”

“Daarvan weet die Kerkraad, Mevrou. Dis maar dingetjies waarvan hulle weet.”

Betjie sorg vir jare, terwyl sy nog by haar ouers woon, vir oompie Jakob en antie Rachel wat diep bejaard is. Na werk, loop sy eers daar aan. Was vir oom Jakob en versorg sy bedsere. Na sy dood, versorg sy steeds daagliks vir antie Rachel. Antie Rachel vertrou haar met haar lewe. Hoe sy eendag uitgelê wil word vir haar graf, wat Betjie vir haar moet aantrek, waar die geld vir die begrafnis weggesteek is.

So word ‘n koevert aan haar oorhandig na antie Rachel se ter aarde bestelling. Sy is te bang om die koevert oop te maak. “Nee, laat haar seun die koevert oopmaak. Net-nou spring daar iets uit wat ek nie kan hanteer nie.”

Dis antie Rachel se testament. Betjie erf die huis. Dieselfde een wat sy vandag in woon. “Ja Mevrou, ‘n mens bedink, maar God bestuur,”

20160401_100235_3

Advertisements

5 comments

  1. Franlie Lexow · April 8, 2016

    Wat “n wonderlike lewensles. So roerend. Dankie dat ons VanWyksvlei se mense kan leer ken.

    Liked by 1 person

    • Leonette Smit · April 8, 2016

      as mens net agter elke mens se stories kan inkom – daar’s soveel potensiaal vir wonderlike en bemoedigende stories

      Like

  2. Anita Schutte · April 8, 2016

    Dankie Leonette, ja ons het baie om voor dankbaar te wees! Wees geseënd, van huis tot huis.

    Liked by 1 person

  3. Leonette Smit · April 8, 2016

    Elkeen is eintlik ‘n potensiele storie, ne

    Like

  4. Anli Theron · April 8, 2016

    Dankie Leonette. Ek hoop die essays wod ‘n boek…..

    2016-04-08 11:11 GMT+02:00 Bo-Karoo :

    > Leonette Smit posted: ” So ken Betjie Adams van die VGK die binnekant van > ons kerkgebou hier op Vanwyksvlei. Elke hoekie en lysie. Elke kassie en > rakkie. Elke bakkie en beker. Elke bekleedsel en behangsel. Vir die derde > jaar in ‘n ry alleen (en voorheen saam met Ant” >

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s