Lug, lig en ligene

Is ek dan alreeds so gewoond aan die skoon lug van Vanwyksvlei dat dit die motoruitlaatgasse van die oggendverkeer is wat my vroegoggend stap benadeel? Is ek dan al klaar so gewoond aan die donker Karoonagte dat dit die oorweldigende lig in die woonbuurt in die stad is wat my slaap so versteur? Kan dit wees dat ek na net drie maande kan terugverlang na ‘n kwynende Karoodorpie en sy opregte mense? Na die suurstofryke lug en die nagte waar die sterrelig feitlik die enigste bron van lig is?

Tans is ons in Pretoria om ons sake vir die volgende drie jaar te reël. Ons Smitfamilie en ons geestelike familie in Lyttelton-Oos gemeente het ons Sondag met ‘n seënbede gegroet.

 

L1120212

Die Smitfamilie |(sonder Elza) in lawwe luim

 

DSC_0302

Lyttelton-Oos groet

Die gemeente in Vanwyksvlei bied Johan ‘n kontrak aan vir drie jaar. Om net vir ‘n jaar als te los en daar te gaan werk, sou nie maklik kon realiseer nie. Wat sou ons met ons huis in Pretoria doen? Nou verhuur ons die huis met meeste van die inhoud vir drie jaar en maak gereed vir ons finale verhuising. Johan en vriend Bauer is reeds met Bauer se bakkie en Wally se sleepwa deur met ‘n eerste vrag persoonlike goed en behoort vandag terug te keer.

So waad ek deur my foto’s van die laaste drie maande. By die dorheid en die uitgestrekte niks, val my oog weer op die groen ligene wat teen die klippe lewe. Daar word beweer; hoe skoner die lug, hoe groener die ligene.

P1360015

Ligene groei aan die suidekant van die klippe

 

 

P1360009

Ligene kan jare lank oorleef en as daar vog kom, weer aktief begin raak.

 

 

Opvallend groei die ligene net aan die suidekant van die klippe. Blykbaar is dit die kant van die klip wat die minste son kry in die suidelike halfrond. Want son droog dit uit. Ligene leef van lig, lug en water. Dit is eintlik twee soorte organismes wat simbioties saamleef – ‘n alg en ‘n swam. Die alg fotosinteer in die sonlig en verskaf voedsel aan die swam. Die swam onttrek water en minerale uit die omgewing en voorsien dit aan die alg. Ligene kan uiterste omstandighede oorleef en na jare van droogte met gemak voortleef op die klip waarop dit vasgegroei het.

Die ligene is vir my ‘n metafoor van ons bediening in Vanwyksvlei. Simbioties. ‘n Saamlewingsooreenkoms. Ons het klaar daar in die dorte wortel geskied. Waar ‘n klein gemeente van sowat 70 lidmate nie ‘n voltydse leraar kan onderhou nie, word ons ‘n toegeruste huis, ‘n voertuig vir huisbesoek, ‘n maandelikse traktement en wyd ope harte aangebied. En ons sal die verantwoordelikheid op ons neem om elke lidmaat geestelik te versorg. As als volgens plan verloop, behoort Johan op 21 Februarie bevestig te word.

Sal ek vir die geleentheid vir my ‘n liggroen tabbert maak?

4 comments

  1. Elda Rautenbach (White) · February 8, 2016

    My ouma hulle het naby die dorp gewoon. My oom ook. 40 jaar terug. Ons het altyd oor Desember vir twee weke daar gekuier. Die wonderlikste tyd van my kinderjare. Sal dit nooit ooit vergeet nie. Die spesiale reuk vd Karoo. Die skoon lig, sterre. Soet druiwe. Moerbeie in die tuin. Ongelooflik. Baie Seën vir julle daar.

    Like

    • Leonette Smit · February 8, 2016

      Baie dankie. Ons sien baie uit na die 3 jaar in die Karoo. Wie was jou Ouma en jou oom?

      Like

  2. Elna Bekker · February 9, 2016

    Ja! Daai kleur van daai groen ligene, hulle bly vir my raaiselagtig mooi. Julle harte is aan die vryheid verknog Leonette, hoe dan anders? As mens eenkeer onder die sterre in die veld geslaap het, en die wye genade van die Heer oor Sy skepping beleef het, is jy vry van die klatergoud van die stad. Mag julle seën op seën ontvang in daardie harde aarde. xxx

    Like

  3. Leonette Smit · February 9, 2016

    Dankiedankie!! Lappie is gekoop…

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s