Handsentrale-operateur tot weerdata-invorderaar

P1380979

Tannie Herlina Malan

 

Tannie Herlina Malan (80), bedryf vir 32 jaar die handsentrale op Vanwyksvlei saam met nog drie ander persone. Elke nommer op hierdie dorp en elke plaaslyn se luikode ken sy – drie kortes en ‘n lange, twee langes en twee kortes, vier kortes… Vandag nog ken sy elke nommer al het die voorafgedeelte van die nommers aansienlik verander sedert die telefoondiens hier op Vanwyksvlei ook ge-outomatiseer is. Aanvanklik vul sy die pos net halfdag, maar later van tyd werk sy voldag totdat die handsentrale uiteindelik moes plek maak vir ‘n outomatiese sentrale.

Gesamentlik hiermee versamel sy daagliks weerdata en bel dit deur na die weerburo. Drie maal per dag op presies dieselfde tyd daagliks, neem sy die gemiddelde lesing van twee termograaflesings en ‘n termograaflesing. Die termograaflesings is verkry as ‘n gemiddeld tussen ‘n nat en ‘n droë lesing – die natte is ‘n termometer waarvan die bol in lap toegedraai is, toegebind met ‘n vierkoord toutjie. Die punt van die toutjie moet altyd in water hang.

Die higrograaflesing is verkry van ‘n stukkie nat menshare wat sy met groot sorg altyd volgens die regte instruksies en met die regte chemikalieë skoon hou. Die uitrekfaktor van die nat hare dui die lesing op die higrograaf aan. Boonop is daar ‘n grastermometer en vyf verskillende grondtermometers, die langste omtrent menshoogte, wat sy een vir een uit die grond trek en die lesings boekstaaf.

Die klein weerstasietjie met al hierdie toerusting is agter in haar erf ingerig waar dit onbelemmerd van bome of turksvybosse kan funksioneer. Die weerburo voorsien nie aan haar opleiding hiervoor nie; rus haar bloot toe met ‘n handleiding wat sy getrou navolg.

Soggens bel sy ‘n kode deur na Beaufortwes om die stand van wolke aan te dui. Elke soort wolkformasie het ‘n ander kode. Daar is 27 verskillende kodes – 9 verskillendes vir lae wolke, 9 vir middelwolke en 9 vir hoë wolke. Lae Cummiluswolke is bv. 01-laag . Hoë vlieswolke is  dalk 02- hoog. Alleenlik as die wolkbedekking sewe-agtstes van die hemelruim bedek, is dit noemenswaardig genoeg om aangeteken te word. Daarom rapporteer sy ook of dit drie-agtstes, sewe-agtstes of dalk agt-agtstes is vir wanneer die lug totaal betrokke is.

Dan is daar nog windspoed en windrigting ook om aan te teken. ‘n Windmetertjie wat vinnig in die rondte draai en so die windspoed registreer en wat ook die windrigting aandui, help haar hiermee. Sonkaarte vir elke seisoen installeer sy elke dag voor sonop in sy houertjie en saans, met die sontrajek daarin vasgebrand, liasseer sy dit. Hierdie data word dan aan die einde van die maand geprosesseer in datakaarte en aangestuur na die weerburo.

Die verdampingsfaktor word gemeet in ‘n drom wat op pootjies staan. ‘n Maatstok  is in die middel geïnstalleer. Soggens word die watervlak gemeet, die drom weer opgevul en die vlak word weer eens aangeteken. Die verskil tussen hierdie tweede lesing en môre-oggend se eerste lesing, dui die persentasie verdamping aan.

Tannie Herlina word net voor Kersfees ‘n weduwee. Oom Henry, in die ouetehuis op Carnarvon, sterf as gevolg van Altzheimers. Tannie Herlina versorg hom lank tuis, totdat sy vier maande gelede haar heup breek en self in die hospitaal beland.

Terwyl hy, al byna blind en doof, in die huis lê, val sy een middag so teen vyfuur in die agtererf. Sy kan glad nie beweeg nie. Omdat haar aandete op die gasstoof staan en kook, sleep sy haarself tot by die gasbottel en draai dié toe. Daarna vorder sy net tot by die agterstoep se trappe. Daar kan sy geensins verder nie. Desperaat lê sy daar en roep na oom Doupie, die buurman. Later die aand kom oom Doupie se seun daar aan om hulle oudergewoonte te kom groet soos hy elke Donderdagaand doen. Sy jong wat agterop die bakkie sit en wag, hoor die geroep uit die donker en maak vir Marius daarvan bewus toe hy eindelik terugkeer bakkie toe.

Marius kry vir tannie Herlina in die koue donkerte by die stoeptrap. Dis al byna nege-uur. Hy tel haar op en maak haar sit in ‘n stoel. Bel die ambulans. Daardie nag word sy en oom Henry saam deurgevat Carnarvon toe – want wie sal tog na Oom Henry omsien alleen in Vanwyksvlei? Eers ‘n week later word haar heup in Kimberley geopereer.

Nadat sy sodanig herstel dat sy self weer kan loop, keer sy terug Carnarvon toe. Maar sy sal nooit weer vir Oom Henry kan versorg nie – hy bly agter in die ouetehuis in Carnarvon tot en met sy dood twee weke gelede.

Terug in Vanwyksvlei neem sy haar dogter vanaf Douglas, wat erg verswak is vanweë Parkensons se siekte, by haar in. Versorg haar met dieselfde nougestheid waarmee sy al die jare die dorpsmense se oproepe deurgesit het, die weerdata aangeteken en deurgestuur het en vir oom Henry in sy siekte versorg het.

6 comments

  1. Elna Bekker · January 2, 2016

    Hartroerend, en geweldig interessant ter gelykertyd! Die stukkie laat my so aan “Standing in the Rainbow” van Fanny Flagg dink.

    Liked by 1 person

  2. annien · January 4, 2016

    Ek ken tannie Herlina het groot geword op Vanwyksvlei.. Het op ‘n plaas groot geword maar in die week by my ouma en oupa gebly. Dis omtrent 4 huise van tannie Herlina af. Hulle op die sentrale kon altyd vir jou se waar is die een wat jy soek want almal knoop ‘n geselsie aan

    Like

  3. Franlie Lexow · January 11, 2016

    Eers vandag terug by werk. Dis ‘n ongelooflike stuk, van ongelooflike mense. Beny jou.
    Liefde

    Liked by 1 person

  4. keith P Eksteen · January 12, 2016

    Pragtige verhaal..die word ‘jong’ pas egter nie..Werker is meer vanpas

    Like

    • Leonette Smit · January 12, 2016

      Dankie, ek verstaan jou gevoel. Eg aan hierdie afgelee gemeenskap, word daar nog van ‘jong’ gepraat. Gelukkig is die benaming betaamliker as ander terme wat ek al gehoor het…

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s