Die Verdwaling van Sina Witbooi

P1380157

Sina Witbooi

 

Sina Witbooi kom vanaf Carnarvon. Haar man is ‘n draadspanner. Saam het hulle twee skoolgaande kinders wat vir die skoolvakansie by hulle ouma op ‘n plaas kuier.

Sina, haar man en ander draadspanners, kom saam met Daniel wat op de Naauwte boer – ‘n plaas so 33km vanaf Vanwyksvlei op die Kenhardt, Marydale pad. Hulle gaan tuis in ‘n mobiele staning omtrent 6km vanaf die plaas. Bedags, as die manne draad span, verwyl die drie vroue en twee kleintjies, met hulle twee brakke en ‘n katjie, by die staning.

P1380172

Die staning op De Naawte waar die draadspanners oorbly

Woensdag besluit Sina om na Beesdam, die buurplaas, te loop om meel en suiker by Willem, die jakkalsvanger, se vrou te gaan haal. Dis reg suid van die staning af, al met die jakkalsdraad langs. Ek skat dis nie meer as 10km nie.

P1380221

Met hierdie lyndraad langs moes sy koers hou

By Beesdam aangekom, is Willem se vrou nie daar nie. Sina wag tot in die namiddag en loop toe maar weer terug voor die donker toesak. Waar die tweespoor paadjie vurk, vergeet sy om die lyndraad as baken te hou en draai  kamp in.

Dis duinewêreld daarlangs en dig begroei met Prosopis. Sy verloor rigting in ‘n poging om die skerp dorings van die Prosopisbome te vermy. Sy verdwaal. Klim bo-oor ‘n lyndraad in ‘n volgende kamp in en begin in sirkels dwaal. Die son sak oor die horison en sy het nie ‘n idee watter rigting om in te slaan staning toe nie.

Met die manne se terugkeer is Willem se vrou steeds by die staning. Nee, sy het nie vir Sina raakgeloop nie. Sy wis dan nie eens dat Sina na haar toe op pad is nie. Dit word donker. Spoor kan nie nou gesoek word nie.

P1380181

Willem, die jakkalsvanger

Met eerste lig vat die manne Sina se spoor Beesdam toe. Willem is bedrewe in spoorsny want dis hoe hy jakkals jag. Hulle kry haar spoor waar sy op pad terug afgedwaal het. Gou besef hulle dat sy in sirkels begin dwaal het. Sy is heen en weer oor dieselfde lyndraad. Dan verdwyn die spoor. Hulle soek tot donker maar Sina is weg.

Vroeg Vrydag hervat die manne die soektog. Dis snikwarm. Hulle sal hulp moet inroep – alleen gaan hulle haar nie betyds kry nie. Dis altans al die derde dag en langer sal sy nie sonder kos en water in hierdie temperature kan oorleef nie.

By De Bruynsrus, die buurplaas, gaan vra hulle om die polisie te ontbied om te kom help. Teen vyfuur, met ons aankoms by De Bruynsrus vir ‘n wyksafsluiting by Tilla en Jan, sien ons die polisiebakkie oorkant die plaashek. Willem is saam met die polisiekaptein in die bakkie om rigting te help gee. Ons verneem van die vrou wat verdwyn het.

Teen Saterdagoggend is sy steeds weg. Die polisie en Willem hervat die soektog. Teen namiddag kry hulle ‘n vars spoor, skaars ‘n kilometer van die staning af. Sy het by die watertenks aangekom, gedrink en skoon verkeerde rigting ingeslaan. Hulle volg haar spoor en gewaar haar waar sy heeltemal gedisoriënteerd weer besig is om ‘n lyndraad te klim. Maar sy lewe.

Met die vrou heel naweek op my gemoed, doen ek vroeg vanoggend navraag by die polisie. Dis goeie nuus dat sy gekry is. Ek en Johan ry uit De Naauwte toe om haar te gaan opsoek. Daar kry ons net vir oompie Piet Tieties wat g’n idee het waar die draadspanners bly nie. Ons volg maar die rigting wat hy beduie al langs die jakkalsdraad totdat ons op Willem afkom waar hy sy middagete sit en eet by die watertenks. Hy beduie waar ons die staning kan kry waar Sina is.

Sina, haar suster en nog ‘n ander jong vrou by die staning, ontvang ons en die bordjie skons wat ek vir haar gebak het, baie beskroomd. Sy vertel graag van haar ervaring:

P1380191

Die groepie vroue en kinders wat bedags by die staning oorbly as die manne draadspan

“Nooit, nooit weer loop ek alleen die veld in nie.” Sy vertel dat sy haar dors by skaapkrippe en gatdamme geles het waarop sy afgekom het. Maar die honger was die ergste. Een nag het iets soos ‘n skerpioen haar op haar maag gesteek toe sy probeer lê het.

“Ek kom toe by die grootpad uit. Ek weet nie watter kant toe nie en ek is verskriklik dors. ‘n Boer van ‘n ander plaas hier naby, kom op sy motorfiets verby.” Hy kon seker sien dat sy erg ontwater en baie gedisoriënteerd was. Hy vat haar toe met die motorfiets tot by die naaste windpomp waar sy water kon drink. Daar beduie hy haar toe presies hoe om te loop om by De Naauwte uit te kom. “Maar toe loop ek wraggies weer terug op my ou spore en ek kom nooit by De Naauwte uit nie.”

“Ek was baie bang, Mevrou. Nie gedink ek sien my man en kinders ooit weer nie.”

Sina kan nie vir my sê hoe oud sy is nie. Sy het nie haar ID by haar nie en kan nie haar geboortejaar onthou nie.

Sy lyk nie soos iemand wat vier dae in bloedige son deurgebring het nie. “Nee mevrou,” sê sy beslis, “ek het maar snags probeer loop en bedags onder die skaduwees ingekruip want die son wou my dood brand.” Die nagte verlede week was baie donker met die maan wat nou eers weer begin groei. Ek kan net dink dat sy geen idee gehad het in watter rigting om te loop nie. Die nagte was weer koel en sy beweer dat sy net ‘n truitjie by haar gehad het wat sy styf om haar gedraai het.

“Daai eerste nag, toe ek onder ‘n bos wil inkruip, hoor ek net hoe blaas ‘n slang vir my. Toe hou ek maar aan met loop.”

Ek dog ek deel Sina se goedvoel storie van oorlewing te midde van al die  skokkende nuus wat ons die afgelope week gehoor het.

Shalom.

 

 

 

 

 

 

Advertisements

6 comments

  1. coetzee2014 · December 15, 2015

    Goeie storie, wat mooi eindig. Dankie.

    Like

  2. Pikkie Cottage Guest House · December 15, 2015

    Goed geskryf en dankie vir deel!

    Like

  3. Gerrit · December 15, 2015

    Kosbaar Dankie dat jy die storie met ons deel

    Like

  4. René Bosman · December 16, 2015

    So n voel lekker storie in die deurmekaar wereld! Bly sy is gekry! Dankie vir die deel!

    Like

  5. Elna Bekker · December 16, 2015

    Ai, Leonette, kan jy dink om in die eerste plek in so-‘n “staning” te oorleef… Die honde wat koelte soek, spreek boekdele. Waar kook hulle kos? waar hou hulle dit wat vars gehou moet word. Wasgoed, Ons het verlede week heel week nie water of elektrisiteit gehad nie, en my gemaklike wêreld het selfsugtig in mekaar getuimel. En jy, en Johan wat so uitreik soos mens behoort te doen, ek haal my hoed vir julle af!

    Like

    • Leonette Smit · December 16, 2015

      Elna, na omtrent 8km deur die duine in 4X4, nadat ons op Willem afgekom het en hy ons beduie het na die staning, kom ons op wasgoed af wat oopgesprei is oor bosse, maar geen huis nie. Toe eers sien ons die blink sinkdakkie van die staning omtrent 1km verder deur die bosse. Die verskrikte vroue wat ‘n vreemde bakkie met blankes op hulle ‘werf’ ontvang. Die brakkies wat kamstig blaf om te beskerm maar vrek bang is vir ons. Dis ligjare verwyder van Nkandla. Hulle kook onder die wa in ‘n ysterpot, as hulle iets het om te kook. Andersins net roosterkoeke in die koletjies.

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s