Statistiek

Wat doen mens as die huis in ‘n hoogoond verander?

Verlede week, die warmste wat ek nog beleef het, kuier my sus vanaf Wellington hier by ons. Al wanneer ons buite kom is smôrs voor vyf. Dan stap ons gou ons 10km. Dis ‘n verruklike tyd van die môre. Net die Oosterkim staan teen die naglig afgeëts. Venus pronk openlik teen die oostelike hemel. Veraf kom die gekraai van ‘n toegewyde hoenderhaan. Die dorp slaap. Ons stap by huisies verby waar bondels beddegoed buite in die werf vertel dat die huise te warm is om in te slaap.

Teen die tyd dat ons moet omdraai, breek die son oor die horison en als rondom ons begin lewe. Die swaels swiep tjirpend in formasies deur die lug. Daar’s ‘n bedrywigheid wat losbreek onder die kleiner voëltjies wat naarstiglik begin kos versamel. Veraf maak ‘n boer se bakkie stofstreep na sy plaas toe. Vir die res van die dag is ek dankbaar vir die lugreëling in die TV-kamer. Dis die ideale tyd om op te ruim.  Rekenaarleêrs, bedoel ek. Want vir enige ander aktiwiteit het mens meer energie nodig en dis onmoontlik as die kwik aan 50˚ wil raak-raak.

Ek het sus Mariette saamgebring vanaf Wellington.  Opsluit het Johan ook Wellington toe gekom sodat ons saam ‘n familiebegrafnis kon bywoon – skoonsus se pa is skielik oorlede.

Na afloop van ‘n familie-ete, is ons Muizenberg toe om Elza se nuwe huis te gaan bekyk. Dis op daardie pad, by ‘n township verby, wat ek my selfoon verloor. Met die wegtrek by ‘n robot, ruk ‘n tikkop die bakkie se deur (wat altyd outomaties sluit?) oop. “Jou ma se p..§!!!” vloek hy my arme bejaarde moeder van 88, wat 1000km van ons af is en niks met die saak te doen het nie, onder haar rok in en pluk my selfoon uit my hande – ek was ’n skaap om te sit en whatts app met ‘n vriendin wat pas uit die hospitaal ontslaan is. Nou is ek ook statistiek van ‘n ruk-en-pluk voorval.

In die week het ek weer gesien hoe daar altyd betyds voorsien word. So kry my kind tydelike blyplek by ‘n vriendin nadat sy en haar hond uit haar huurkamer moes trek en word sy wonderbaarlik geseën met ‘n hele huis in Somerset-Wes waar daar genoeg plek is vir haar en haar hond. Daar is bepaald ‘n Heer in die hemel, Hy sôre vi’ ons. Hy sôre vi’ ons.

Cavalier, ‘n maatskappy wat slagskape  vir die vleismark lewer, hou onder aanvoering van Rudi en Trudie Oberholzer ‘n jaareindfunksie in die kerksaal. Die saal is stylvol voorberei, sonder enige oordaad. Rudi tree as agent op vir Cavalier en bemark skaap vir die boere hier vanuit Vanwyksvlei, Vosburg, Carnarvon en Prieska. Die jaar lê nog nie eers op sy rug nie en 30 000 skaap is alreeds hierdie jaar gelewer teen ‘n omset van by die R29m. Dis sowat R960 per kop wat die boer in sy sak steek. En dis nou net dié wat deur Rudi bemark word – daar is nog ander bemarkers ook in die omgewing.

Al die skaapboere uit die omgewing kuier hartlik saam en die saal dreun van gemoedelikheid. Ek verstom my oor die baie jong boere wat deel uitmaak van hierdie korps. Mens begin al meer moed kry vir die toekoms by die aanskoue van dié mooi gesig. As ek dink waardeur ‘n skaap moet gaan van die oomblik wat hy op ‘n trok gelaai word om bemark te word, totdat julle daai tjoppie vanaf  Woolies se rakke in julle kosmandjies plaas, begin ek verstaan hoekom die prys op daai pakkie is wat hy is. My respek vir ‘n skaapboer styg nes daai prys op die pakkie nader na Kersfees se kant toe. Dit wat die skaapboer darem nie moet insit sodat daar ‘n stukkie skaapvleis op ons borde kan wees nie! En wat ‘n besondere vrywei produk lewer hierdie manne darem nie, né. Nee wat, die Amerikaners kan maar hulle krismiskalkoen hou. Hy wat nie met Kersfees skaap opdien nie, moet mooi dink aan sy lojaliteit teenoor die boere in die droogste dele van ons land wat niks ontsien nie om ‘n wonderlike produk te lewer – nie droogte of ongediertes, lae pryse, voerskaarste, min betroubare werkers en onmenslike hittige dae nie.

My somer word gemaak deurdat die swaeltjie wat ek vir 6 weke grootgemaak het – selfs al die pad saam Wellington toe en terug – sy vryheid opneem. Vroeg een oggend sit ek hom op ‘n hoë muur waar hy baie opgewonde raak oor sy soort wat  ál oor sy kop swiep en te kere gaan. Die eerste poging om te launch is nie suksesvol nie. Weer op die muurtjie en ‘n ruk later kry hy dit reg om die lug in te vaar na vryheid tussen sy eie soort.

Shalom swael.

20151205_055425

Vroegoggend se stappie saam met sus Mariette

 

20151124_123620

Swaeltjie reis saam Wellington toe en terug. Hierdie is die laaste foto wat van hom geneem is tydens ons besoek aan La Motte

Advertisements

4 comments

  1. Franlie Lexow · December 9, 2015

    Dankie vir elke keer se lekker lees!! Liefde. Franlie

    Like

    • Mariette · December 9, 2015

      ‘n Belewenis, die hittige week op Vanwysvlei, was dit inderdaad! Dankie Leonette en Johan vir julle liefdevolle gasvryheid.

      Liked by 1 person

  2. Net Ek · December 9, 2015

    Ag dis wonderlikr nuus van jou swaeltjie!

    En ja, mense kla gou oor die prys van vleis, maar vergeet watse bloedsweet dit kos om daai stukkie vleis op ‘n rak te kry!

    (5 uur die oggend is ook my gunsteling tyd. jou dorpie klink fantasties, my hart wens ek kon op so dorpie woon.)

    Like

  3. Leonette Smit · December 9, 2015

    Die gewone ou sou dink ons is mal om vas te skop in hierdie klein, kwynende nedersetting. Maar hier is ook mense met harte en wonderlike lewens wat oor geslagte heen kom. Hier’s nie vars melk of groente of vrugte nie, maar DIT maak nie die lewe nie. Wat JYSELF doen om dit leefbaar te maak, bring die verskil. Mooi loop!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s